Koningjagluiperdtweeling hou verjaardagpartytjie vir bewusmaking

Zoe en Zian. (Foto: Verskaf)

Zoe en Zian. (Foto: Verskaf)

Gielie Nienaber en sy vrou, Melanie, van Kensington in Johannesburg is albei baie passievol oor diere en verknog aan die wildtuin. Dié egpaar het egter eers tydens ʼn besoek aan die Hoedspruit Endangered Species Centre (HESC) in Hoedspruit in Limpopo aktief betrokke geraak by die bewaring van bedreigde wilde diere.

Nienaber, eienaar van GN Total HR Solutions, het aan Maroela Media vertel hy en Melanie het in 2015 tydens ʼn besoek aan HESC een van dié sentrum se wildrittoere onderneem. “Ons het sowat twee uur rondgery. In ʼn stadium het ons onder ʼn koelteboom gesit en ek het vir die begeleier van die toer gevra hoe ʼn mens betrokke kan raak by die diere.”

HESC is die tuiste van ʼn verskeidenheid bedreigde dierespesies, wat Afrika-wildekatte, bromvoëls, swartwitpense, leeus, koningjagluiperds en witrenosters insluit. Sommige diere is by die sentrum as deel van hul teelprogram, terwyl ander ingebring word omdat hulle beseer of wees gelaat is of rehabilitasie benodig. Sommige diere is ook deur natuurowerhede ingebring nadat daar op hulle beslag gelê is of hulle uit ongunstige omgewings gered is.

Zoe en Zian in 2015 toe hulle net 'n paar maande oud was. (Foto: Verskaf)

Zoe en Zian in 2015 toe hulle net ‘n paar maande oud was. (Foto: Verskaf)

Nienaber vertel daar is slegs 70 koningjagluiperds ter wêreld oor en ses van hulle is by HESC woonagtig. Die koningjagluiperdboeties Zoe en Zian is op 29 Julie 2015, vyf maande voor die Nienabers se besoek by HESC, gebore. Nienaber het daar en dan besluit om Zoe aan te neem.

“Daar is verskeie maniere hoe ʼn mens die diere kan aanneem. Ek het ʼn ‘senior aanneming’ gekies, wat beteken dat ek ʼn spesifieke jagluiperd kon kies. Ek wou graag vir Zoe aanneem omdat hulle aanvanklik vir ons gesê het Zian het ʼn defek.”

Volgens Nienaber het Zian nie direk op sy voorpootjies getrap nie en op sy enkels geloop. “Daardie nag het ek gedroom die Here sê vir my: ‘Wat dink jy doen jy? Hoekom nou net die gesonde jagluiperd aanneem? Dink jy nie Ek kan die ander een gesond maak nie?’”

Hy het die volgende oggend die sentrum gebel om te laat weet dat hy Zian ook sal aanneem. “Drie maande later was sy pote gesond en 100% reg! Zian is ʼn bietjie groter as Zoe, al is hulle ʼn tweeling.”

Nienaber lag wanneer hy vertel van Zoe se naam. “Ons het aanvanklik gedink Zoe is ʼn wyfie, vandaar die vroulike naam. Toe spring hy uit ʼn boom en val sy oogbank oop en moes steke kry. Dis toe dat hulle agterkom Zoe is eintlik ʼn mannetjie en hy is Zian se boetie! Jagluiperds se geslag is baie moeilik om te bepaal. Ek het op Google gekyk en gesien dat 15% van mense ter wêreld met die naam Zoe manlik is, toe hou ons maar sy naam so. Ek glo nie hy sal te veel moan as sy naam Zoe bly nie.”

Die jagluiperdtweeling word vanjaar drie jaar oud en soos elke jaar sedert hulle gebore is, word daar partytjie gehou. “Elke jaar hou ons ʼn partytjie. Ons blaas ballonne op, bak koek en nooi die gemeenskap om saam met ons te kom kuier.”

Die jagluiperdboeties skuil in die koelte. (Foto: Verskaf)

Die jagluiperdboeties skuil in die koelte. (Foto: Verskaf)

Hy sê hulle hou die partytjies, nie net om die diere se verjaardae te vier nie, maar om bewusmaking te skep en mense betrokke te kry by die bewaring van bedreigde wildedierspesies.

“Ons hoop dat mense van heinde en ver sal opdaag om saam met ons partytjie te hou en koek te eet! Ons voorsien gaste van water, koeldrank en ander verversings. Ons het ook die personeel by die sentrum betrokke gekry deur ʼn fotokompetisie van stapel te stuur. Die personeellid wat die mooiste foto van Zoe en Zian kan neem voor die partytjie, se foto sal op ʼn groot banier gedruk word wat tydens die partytjie opgehang gaan word.”

Nienaber benadruk dat dit ʼn hartsprojek vir hom en sy vrou is. “Ons kan nie kinders hê nie, so ons spot altyd en sê ons het sewe dierekinders – ʼn bassethond, twee maltese poedels, twee renosters wat ook by die sentrum woon, Lula en Philippa, en vir Zoe en Zian.”

Zoe en Zian se partytjie vind Saterdag 28 Julie om 09:00 plaas by die Hoedspruit-sentrum vir bedreigde spesies. Toegang is gratis en afslag van 10% word vir die hele naweek op alle wildrittoere gegee. Skakel (015) 793 1633 en maak seker dat daar vir jou plek bespreek is of besoek die webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mooi so ·

Wonderlik dat daar nog sulke goeie mense is. As my gesin die fondse gehad het, het ek ook dit gedoen, maar my kids was nog nooit eers in die Wildtuin nie en hulle is al 20 & 16. Geniet die twee jagluiperds hulle is pragtig.

pragtig ·

Julle is baie bevoorreg om sulke mooi aanneem kinders te he

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.