Kontant te wen: Ons is op soek na die mooiste jakarandafoto’s

jakarandas-deur-morne-prinsloo-2018-10-01

Foto: Morné Prinsloo.

Die digter C. Louis Leipoldt het nie verniet gesê Oktober is die mooiste, mooiste maand nie.

Elke jaar van einde September tot in November trek die Jakarandastad sy pragtige pers baadjie aan, terwyl Johannesburg ook met heelwat van die bloeisels in dié stad se strate spog.

Maroela Media is op soek na ons lesers se mooiste selfgeneemde kiekies van dié bome en hulle bloeisels. Twee lesers staan die kans om elkeen R2 500 kontant te wen vir hul mooiste jakarandafoto.

Hier is ʼn paar interessante feite oor Jakarandabome:

Die Jacaranda mimosifiolia is ʼn subtropiese boom wat inheems aan die suid-sentrale dele van Suid-Amerika is.

Daar is verskillende stories oor hoe die eerste jakarandas in die hoofstad aangekom het en waar die bome geplant is, maar dit lyk of ene mnr. Templeman, ʼn Kaapse botanis, die eerste twee jakarandaboompies in 1888 van Rio de Janeiro, Brasilië, ingevoer het.

Dié twee bome is in die tuin van die Myrtle Lodge geplant wat aan JD Celliers behoort het. Vandag is dié tuin deel van die Sunnyside‑laerskool se skoolterrein by Cellierstraat 146.

Volgens Adriaan Louw, argitek en blogger, se webwerf TheLouwkels.com het die bome se bekende skouspel eers daadwerklik in 1906 begin toe die munisipaliteit amptelik die eerste Jakarandabome in Bosman- en Arcadiastraat geplant het. Daar is teen 2003 gereken dat sowat 17% van Pretoria se stedelike bome jakarandas was.

Daar is ook een besonderse straat in Pretoria wat wit word wanneer die ander strate in pers getooi is. Herbert Bakerstraat in Groenkloof het 100 jakarandabome wat met wit bloeisels spog.

Volgens TheLouwkels.com is die bome glo steriel en deur H. Bruinslich in 1962 uit Peru ingevoer.

Alhoewel Pretoria as die Jakarandastad bekend staan, word dit beweer dat Johannesburg eintlik meer van dié bome het.

Foto: Amanda en Morné Prinsloo.

ʼn Artikel in die The Star, wat in 1945 geplaas is, het beweer die Goudstad se eerste Jakarandabome is in Doornfontein geplant. William Nelson, die eienaar van die Nelsonia-kwekerye het in 1896 gesê hy het ʼn 100 km van die bome langs die strate van die Johannesburgse voorstad, Kensington, geplant.

Een van die bekende bygelowe oor die jakaranda is dat as ʼn student onder een van die bome in eksamentyd verby stap en ʼn bloeisel op sy of haar val, hulle die vak sal slaag wat hulle geskryf het.

Dié bome is in 2001 tot ʼn indringerplant verklaar, wat beteken die bome kan nie vervang word as hulle siek is of gevrek het nie.

Die jakarandas het wel ʼn lewensduur van 200 jaar en dit beteken as daar mooi na die bome omgesien word, kan die twee grootste stede in Gauteng vir jare nog na ʼn see van pers elke Oktober uitsien.

Op soek na inspirasie vir jou foto’s?

Foto: Amanda en Morné Prinsloo.

Amanda Prinsloo, ʼn voormalige kommunikasiepraktisyn van Maroela Media en haar man, Morné, het die foto’s van jakarandas vir hierdie artikel geneem.

Die foto’s is in 2018 in Day- en Maraisstraat in Brooklyn, Pretoria, geneem.

“Jakarandatyd is my gunstelingtyd van die jaar in Pretoria. Elke jaar hierdie tyd raak ek kinderlik opgewonde as die eerste bloeisels begin blom. Ons maak ʼn punt daarvan om elke jaar foto’s te gaan neem en dit is heerlik om die stokperdjie ook so in die weelderige natuur in die stad te kan beoefen,” het Amanda gesê.

The Louwkels.com beveel aan dat ʼn mens by die volgende strate in Pretoria ʼn draai gaan maak om die mooiste pers bloeisels te sien:

  • Struben-, Visagie- en Minnaarstraat in die middestad
  • Troystraat, Muckleneuk
  • Nuffieldstraat, Rietondale
  • Rosestraat, Riviera
  • Pierneefstraat, Villieria

Wen

Twee lesers staan ʼn kans om kontantprys van R2 500 elk te wen. Stuur vir ons jou jakarandafoto wat jy self geneem het om in aanmerking vir die kompetisie te kom. Die foto’s hoef nie noodwendig hierdie jaar se jakarandas te wees nie en dit hoef ook nie foto’s te wees wat in Pretoria of Johannesburg geneem is nie. Die mooiste foto’s uit al die inskrywings sal ook op Maroela Media geplaas word. Inskrywings vir die kompetisie sluit op 31 Oktober 2022 om 23:45.

Skryf nou in

Die kompetisie het gesluit.

Bepalings en voorwaardes

  • Inskrywings vir die kompetisie sluit op 31 Oktober 2022 om 23:45.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Maroela Media kan nie aanspreeklikheid aanvaar indien jou inskrywing ons weens enige tegniese probleme nie betyds bereik nie.
  • Enigiemand wat vir die kompetisie inskryf staan die kans om een van die kontantbonusse van R2 500 te wen.
  • Maroela Media sal die wenners in die week van 1 November 2022 telefonies en per e-pos kontak. As jy nie van Maroela Media hoor nie, kan jy aanvaar dat jy nie een van die wenners was nie.
  • Die kontant sal elektronies direk in die twee wenners se bankrekeninge inbetaal word.
  • As jy vir hierdie kompetisie inskryf, gee jy toestemming dat jou naam en foto in ʼn foto-artikel op Maroela Media gebruik mag word, selfs al is jy nie een van die wenners nie.
  • Jy mag meer as een foto inskryf, maar jy moet telkens ʼn nuwe vorm invul om ʼn volgende foto vir ons te stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.