Kookterapie vir getraumatiseerde kinders

Carmen Mocke (Foto: Yolanda Lemmer)

Meel vlieg deur die lug en deeg moet behoorlik van die gesigte afgevee word wanneer kinders giggelend aan die bak en kook by Carmen Mocke se prettige kookklasse is.

Die kinders (sowat 16 op ’n keer) is tussen 4 en 12 jaar oud en meestal mishandel, verlaat en verwaarloos. Baie word in kinderhuise gehuisves. Maar in hierdie veilige omgewing kan hulle uit hul omstandighede ontsnap en net op kreatiewe wyse kind wees.

Carmen Mocke, self ’n ma, stigter van die niewinsgewende organisasie Sikosa en die eienaar van ’n kookakademie Kids Can Cook Academy South Africa, sê hierdie projek gaan nie oor geld nie, maar om uit te reik na kinders wat nie ma’s het nie asook vir die kinders om te ontvlug.

Dit word in ’n silwerskoon kombuis by die Hirsch’s Home Store in Centurion aangebied met haar gunsteling-Kenwood-toerusting.

Carmen erken dat dit tydrowend is en dat sy van tyd tot tyd haar eie sak hiervoor moet skud, maar dis vir haar ’n roeping.

“Ek beskou dit as ’n klein gebaar om ’n ruimte te skep waarin hierdie kinders gelukkig en kreatief kan wees en aan hul selfvertroue en selfwaarde kan bou. Hulle weet ook dat hulle geprys word en komplimente vir hul kreatiewe kookpogings kry.

Waar kom haar liefde vir kinders vandaan?

“Ek was nog altyd besonder lief vir kinders omdat hulle so broos en besonders van geaardheid is. Ek glo ook kinders behoort die kosbare dinge in die lewe, soos om te sing, te bak, goedheid en integriteit te geniet.

Carmen is daarvan oortuig dat kookterapie dieselfde voordele as skryf- en musiekterapie inhou. Meer gegoede ouers bring ook soms hul kinders na die kookklasse toe en so leer hierdie kinders om dankbaar te wees vir dit wat hulle het.

“Dit leer jou geduld asook om tydsbewus te wees wanneer jy ’n koek bak. Dit help met beplanningsvaardighede, tydsbestuur en selfs konflikhantering indien jou resep nie in ’n sukses omskep word nie. Maar bowenal leer dit jou deursettingsvermoë en kreatiwiteit sodat ’n tweede of derde probeerslag dalk suksesvol is.

Haar driejarige seuntjie woon weekliks die akademie se kookklasse by. Sy vertel dat sy die hartseer van twee miskrame beleef het en dat sy begrip vir hartseer, verlies en oorlewing het.

“My man, Nicky Mocke, is my steunpilaar. Ek glo ook dat God die regte mense en maatskappye op my pad bymekaargebring het om ’n waardevolle bydrae tot my verskeie projekte en doelwitte van ’n niewinsgewende maatskappy by te dra.”

Sy glo dat hoogstens 16 kinders die klasse op ’n slag behoort by te woon.  Dan is die groep groot genoeg om groepenergie te skep, maar klein genoeg vir individuele aandag.

Hulle berei watertandgeregte voor, soos quiche, malvalekkerterte, koeke, pizzas, hamburgers en Milo-balletjies vir bykomende energie gedurende die wintermaande.

Meel vlieg deur die lug en deeg moet behoorlik van die gesigte afgevee word wanneer kinders giggelend aan die bak en kook by Carmen Mocke se prettige kookklasse is (Foto: Yolanda Lemmer)

Mens wonder of die kombuis met ’n taai gemors en met soveel kinders nie soms min of meer tot rampgebied verklaar word nie, maar hieroor lag sy net.

“Ons skater as die kinders sprinkles gebruik, maar hulle is gek daaroor. En nee, ons het nie eintlik misoeste nie, want ons beplan behoorlik vooruit. Ons vries ook ons koeke voordat die fondant bygevoeg word en maak so seker dat dit versierselbestand teen kinders is.”

Die belangrikste ding wat sy met hierdie klasse oor kinders geleer het, is dat hulle almal uniek is en dat hulle daarvan hou om geïnspireer te word.

“Hulle is leergierig as dit by nuwe inligting oor groente en ander inligting kom, asook oor die skenkings wat ons van Food Lovers Market kry. En hulle is in vervoering oor al die nuwe kombuishulpmiddels. Ek neem hulle dikwels saam om die bestanddele in die winkel te gaan aanskou.”

Nog ’n positiewe element van Carmen se ondernemingsgees is die feit dat haar voormalige huishoudelike bestuurder, Annah Ndimande, nou mededirekteur van Kids Can Cook Academy South Africa is.

“Annah wou nog altyd ’n onderwyseres gewees het, maar sy het nie die fondse gehad om naskoolse opleiding te kry nie. Die kinders by hul kookakademie het dit vir Annah moontlik gemaak om vanjaar via afstandonderrig te studeer. Annah het ’n natuurlike talent vir die kookkuns en die kinders is absoluut gek oor haar.”

Gevra wat die vernaamste redes is waarom kinders in kinderhuise beland (sy het baie empatie vir hierdie kinders) sê sy: “Ek glo dat hierdie ’n baie omstrede onderwerp is. Onvoorsiene omstandighede, ouers se keuses, ’n gebrek aan ’n ondersteuningstelsel en dan soms die vooroordeel van maatskaplike werkers en die samelewing self, kan daartoe bydra. Stelsels word ook soms misbruik. Deur nie betrokke te raak nie en die kinders nie gou genoeg te help nie, maak mens jou ook aan nalatigheid skuldig. Nog faktore wat gesinne kan vernietig, is verkeerde sosiale kringe.

Carmen het ook verlede jaar die Christmas Tree-projek gestig waarvoor sy vennootskappe met groot groothandelaars aangegaan het. So kon hulle Kersgeskenke vir vyf huise van veiligheid en skole vir kinders met gestremdhede insamel.

Hierdie veelsydige jong vrou studeer boonop tans in die regte en wil graag ná haar studies in strafreg of kinderreg spesialiseer.

Sy het voorheen ’n baie suksesvolle posisie as assistent van die uitvoerende direkteur by ’n groot telekommunikasiemaatskappy, wat sy as ’n maatskappy met internasionale en besonder hoë etiese waardes beskou, beklee.

“Dit is my doelwit om kinders se lewens te vul met die vreugde wat geld nie kan koop nie. My belangstelling in strafreg spruit uit die feit dat elkeen se omstandighede uniek is. Deur slagoffers in ons land te ondersteun, is niks minder nie as ons almal se plig. Omdat ek self amper deel van die syfers was, is ek baie dankbaar oor die feit dat ek vandag nog leef.

“Dit gebeur net te dikwels dat onskuldige ma’s en kinders in skok en rou ná huishoudelike geweld vasgevang is en as jy oor die vaardighede, geduld en empatie beskik om met hulle te kommunikeer terwyl hulle in daardie gemoedstoestand verkeer. En terwyl hulle nog kwesbaar is, kan jy tot hul ontwikkeling, veiligheid en reis na ’n beter toekoms bydra.

Hoe lyk haar toekomsplanne?

“Ek is tevrede met my lewe. Ek voer tans samesprekings met die Kommissie van Geslagsgelykheid en wil in die toekoms die provinsiale parlement oor voorstelle vir regshervormingswette in Suid-Afrika toespreek.

“Ek stel ook baie in sakeredding belang. Ek wil die wetgewers versoek om ingrypende prosedures in Familiereg te oorweeg met die hoop dat onnodige kostes op die gesinsboedel gedurende konfliktye uitgeskakel kan word. Dit is ook my doelwit dat een enkele regsverteenwoordiger aangestel word om die familiesaak te hanteer wat voortslepende litigasie kan keer, ’n werkende plan kan publiseer en ’n maandelikse verslag kan opstel. Ek weet dis ’n groot droom maar, nou ja, alles begin immers met ’n droom.”

Carmen het ook ’n kinderboek met die titel Piggy’s Game Of Touch met oulike kleurryke illustrasies geskryf wat ten doel het om kinders teen seksuele molestering te waarsku.

“Ek glo elke huishouding met kinders vanaf 2 jaar oud moet die boek wat ek self gepubliseer het, aanskaf. ’n Handvol Maatskaplike werkers en forensiese sielkundiges maak reeds daarvan gebruik om kinders te help om tydens terapiesessies uit te praat. Dis ’n hulpmiddel vir ouers om kinders te leer dat hul liggame aan hulself behoort en dat niemand hulle onder hul klere mag aanraak nie. Die boekie kos R150 en kan per PDF versend word.

“Vir elke boekie wat ek in 2020 verkoop, word 50% van my wins aan Unchain Our Children, ’n niewinsgewende organisasie wat ek ook graag ondersteun, geskenk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lorette ·

Al wat ek kan sê is:WOW. Ek haal my hoed af vir hierdie mamma!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.