Koop jonges se kunswerke vir Kersfees

Kinders van oor die hele Suid-Afrika se kuns word tot einde Januarie 2022 in die AfriForum Teater se kunsgalery uitgestal. (Foto: Verskaf)

AfriForum Sakenetwerk het op 25 November sy eerste kunsuitstalling in samewerking met AfriForum Teater by dié teater se galery Prag & Praal Kunskraal bekendgestel en geopen.

Meer as 100 van die inskrywings wat vanjaar vir Sakenetwerk se Skolekuns-kompetisie ingeskryf is, word uitgestal en te koop aangebied. Kinders van oor die hele Suid-Afrika se kuns word tot einde Januarie 2022 by dié galery uitgestal.

“By AfriForum Sakenetwerk wil ons kinders wat ʼn liefde het om skeppend te wees juis aanspoor om ook dié talent te gebruik om vir hulself ʼn toekoms te skep,” sê Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk.

Kinders van oor die hele Suid-Afrika se kuns word tot einde Januarie 2022 in die AfriForum Teater se kunsgalery uitgestal. (Foto: Verskaf)

Volgens Van der Walt is dit een van die redes waarom die kuns ook te koop aangebied word. “Ons wil dié jong kunstenaars se entrepreneursdenke ontwikkel en bevorder deur hulle ook op hierdie wyse te ondersteun.”

Lede van die publiek word aangemoedig om by die Prag & Praal Kunskraal in Menlopark, Pretoria, in te loer en jong kunstenaars te ondersteun deur hulle kuns vir Kersfees te koop.

Volgens Carien Bloem, bestuurder by AfriForum Teater, is een van die teater se oogmerke om ʼn gemeenskapsteater te wees en veral ook om ʼn teater te wees waar kinders tuis voel.

“Deur dié uitstalling te ondersteun gee ons blootstelling aan jong kunstenaars en nooi ons graag ander kunstenaars uit om deel van dié teatergemeenskap te wees.”

Die wenners in die onderskeie kategorieë is:

  • 6 tot 8 jaar: Lilly-Ann Brunette (wenner) en Hayden Liebenberg (naaswenner)
  • 9 tot 11 jaar: Luhan Opperman (wenner) en Heinrich van der Merwe (naaswenner)
  • 12 tot 14 jaar: Janel van der Merwe (wenner) en Jayden Langenhoven (naaswenner)
  • 15 tot 18 jaar: Nika Carstens (wenner) en Kyla Vermeulen (naaswenner)

Elk van die wenners en naaswenners het ʼn kontantprys ontvang – genoeg om weer terug te ploeg in die goeie werk wat hulle tot hier gebring het.

Kinders van oor die hele Suid-Afrika se kuns word tot einde Januarie 2022 in die AfriForum Teater se kunsgalery uitgestal. (Foto: Verskaf)

Die beoordelaars van dié kompetisie was Kobus Galloway (Idees Vol Vrees), Christelle Web-Joubert (RSG-aanbieder), Rozier van Tonder (fotograaf), Annemie Odendaal (kontemporêre kunstenaar) en Jana Nel (eienaar van ʼn keramiekateljee).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.