Koppieteefontein: Die geboorte van verandering

Jak de Priester. (Foto: Verskaf)

Ek skrik vanoggend wakker. My hart klop. Waar is ek? Ek voel-voel na my selfoon wat langs die bed gereed lê om my te herinner aan die wêreld.  Ek loer na die skerm. Dis 05:45. My selfoon se wekker is gestel vir 06:30, maar ek skrik 45 minute te vroeg wakker. Dis nie hoe ek myself ken nie.

Vir ’n blitsige oomblik is ek deurmekaar, maar dan raak ek bewus van my omgewing. Dis ons nuwe kamer. Ons nuwe huis. Ons nuwe dorp. Ons nuwe provinsie. ’n Nuwe werk. ’n Nuwe skool. ’n Nuwe aanneem-hond. ’n Nuwe dansstudio vir my dogtertjie, ’n nuwe tennisafrigter vir my seuntjie, nuwe bure, nuwe mure, nuwe oggendgeluide, ’n nuwe toilet, nuwe roetines, alles nuut, maar darem nog dieselfde vrou!

My hart klop effens stadiger in my keel. Dis nou amper vyf maande sedert ons uit Gauteng na die Kaap verhuis het, maar slegs ons tweede week in Somerset-Wes. Dit voel soos ’n ewigheid, maar tog voel dit soos gister. Vandat Covid-19 die wêreld getref het, maak niks meer vir my sin nie, veral nie tyd nie. Dis al byna ’n jaar wat ons ingeperk word. Laasjaar hierdie tyd was ons nog salig onbewus van hoe ons lewens sou verander.

Dit voel soos gister, maar tog soos ’n ewigheid. Ek staan op, gaan maak ’n koppie tee en stap uit op die stoep.

Die Wes-Kaap is ’n skildery. Dis ’n oneindige skoonheid, omring deur berge en die see en wynplase met spierwit herehuise, en wingerde met swart en wit perde wat in troppe wei. Dis strande met golwe en surfers, mense wat stap en hemelse sonsondergange. Ek voel elke dag geseënd om hierdie “wonderwêreld” nou “huis” te kan noem.  Baie mense se droom is om in die Kaap te woon.

Tog is die aanpassing groter en meer oorweldigend as wat mens ooit sou kon dink. Ná hoeveel roomyse op die strand, moet ek steeds elke dag die kinders van vooraf motiveer.

“Julle gaan dit nog geniet, byt net vas!” inspireer ek hulle kort-kort.

Ek was nog altyd bietjie van ’n swerwer. Ek ken die Kaap goed, maar vir my vrou en kinders is hierdie ’n splinternuwe lewe. Onbepland. Skielik.

Dis dag 2 by die nuwe skool in Somerset-Wes. Ek staan gemasker by die hek en wag vir Jamie en Mija om deur die nuwe, onbekende bondel kinders te verskyn. Met ’n masker aan, is dit moeilik om emosies te wys, daarom staan ek gereed met my hande in die lug, sodat hulle my opgewondenheid kan sien wanneer hulle deur die nuwe skoolgange aangestap kom. Die skoolklere herinner effens aan hul vorige skool, maar die gesigte is almal vreemd. Geen bekende ma’s en pa’s wat die kinders kom haal en gou ’n geselsie aanknoop nie. Alles vreemd. Almal vreemd.  Die tasse hang swaar oor hul klein skouertjies toe ek hulle groet.

“Hallo!” waai ek, maar hul ogies spreek boekdele.

“Kyk die berge om ons!” sê ek, terwyl ons na die motor stap.

Geen reaksie.

“Mens kan die see van die skool af sien!” wys ek in die rigting van die potblou oseaan.

Geen reaksie.

“Hoe was julle dag?” vra ek met ’n lied in my stem.

Geen reaksie. Ons klim in die motor.

“Was dag twee al beter?” vra ek.

“Bietjie.”

Reaksie.

Ons woon naby aan die nuwe skool. Ek probeer die gemoedere hoog hou in die motor. Maar niemand gesels nie. ’n Minuut later is ons tuis.

Hulle hunker nog na die ou lewe in Gauteng en die bekende gesigte van die juffrouens en maatjies van Hennopspark Laerskool. Daardie lewe is steeds die lewe waar hul harte lê.  Nie die see, die berge of die wynlande, kan die bekende gesigte van Pretoria in hul harte op hierdie oomblik vul nie.

Wel, nog nie!

Dis swaar vir ’n ouer as die kinders nie 100% gelukkig voel nie, selfs al weet ek dat tyd alles sal verander. Wat op hierdie oomblik vreemd is, gaan oor ’n maand van nou af, baie bekend wees.

Die gedagte om in ’n vliegtuig te klim met jou hele gesin, Suid-Afrika te groet en na ’n vreemde land te trek, laat my yskoud. As dit so moeilik is om net Kaap toe te trek, verbeel jou Australië of Engeland of Amerika of Skotland of Holland.  Nuwe taal, nuwe kultuur, ver weg van ouma en oupa, nefies en niggies, selfs die honde moet soms agterbly. Die Kaap is om die draai, troos ek myself.

My kinders se moeilike aanpassing het my laat besef hoe geheg ’n mens aan jou omgewing raak. ’n Skool, ’n huis, ’n sportspan. ’n Taal, ’n kultuur. Alles raak deel van jou DNS. Jou wortels groei diep, maak nie saak waar jy woon nie. ’n Mens is soos ’n boom.

Elke keer wanneer ek ’n Reis na Gister-program met iemand bekend geskiet het en hulle staan weer voor die huis waar hulle as kinders grootgeword het, was daar onbeheerbare emosies. Van sakemanne, tot sportsterre, sangers en akteurs. Dalk oor die besef dat die tyd tóg verbygaan. Waardevolle tyd wat mens nooit weer kan terugkoop nie. Dat ’n mens se wortels diep gegroei het en al trek jy dit uit, daar steeds ’n stukkie agterbly. Die lewe is ’n reis, maar die reis staan nie stil nie. Ons groei, elke dag.

Om uit jou comfort zone te klim is een van die moeilikste aksies ooit en tog moet jy soms uitklim om verder te groei. Elke dag word ons wyser en gryser. Hier waar ek nou sit en skryf, kyk ek uit oor ’n nuwe landskap. Ek sou nooit ’n jaar gelede, hierdie tyd, ooit kon droom dat ek spesifiek hier sou sit, waar ek nou sit nie. Ek het nie eens geweet van hierdie huis nie, dit was nie deel van my verwysingsraamwerk nie.

Is ek bly? Wel, ek is dankbaar vir die uitdagings en die geleenthede wat oor my pad kom, al werk my Rescue-pille oortyd. Is dit mooi? Beeldskoon. Suid-Afrika het vir my ’n nuwe dimensie gekry. Is dit maklik? Glad nie. Hoegenaamd nie. Om ’n gesin van vyf, plus twee honde en twee kokketiele te verhuis na ’n nuwe wêreld, is nie maklik nie, selfs nie Kaap toe nie, maar die journey is onkeerbaar. Die lewe loop paaie met klomp kronkelpaaie.

Elke dag stop ek my karretjie voor Chas Everitt se kantoor op Stellenbosch by my nuwe werk. Ek groet die sekuriteitsmense wat voor Porchie se winkel op die hoek staan en ’n oog oor alles hou. Ek betaal my parkeerplek (het nou al vrede gemaak met die duur parkeerplekke) en maak grappies met die persoon by wie ek my kredietkaart tap om te betaal. Dan stap ek verby koffiewinkels en groet die eienaars, verby ’n roomyswinkel, gesels met ’n restauranteienaar. Binne ’n maand het ek reeds ’n routine, ken ek gesigte, groet ek mense en maak ek kort geselsies. Op kantoor sit ek in meetings en luister met hoeveel passie die hoof oor die eiendomswêreld praat.

Ek wonder hoe dit sou voel as ek nooit ’n kunstenaar was nie. Ek drink tee saam met ander agente en vra hul uit oor hul lewe en hul kinders. Ek vertel ’n grappie. Ek maak ’n paar oproepe na vreemde nommers en hoop om ’n eiendom te lys en te verkoop. Ek wonder of ek hierdie lewe net soveel kan geniet soos om ’n sanger te wees. Ek ontwikkel skielik ’n ander honger en kennis vir ’n nuwe wêreld. Ek leer by mense en word geïnspireer deur die lewe.

Later stap ek deur die strate van Stellenbosch en koop ’n take-away-koffie op ’n straathoek. Ek ontmoet ’n vriend vir middagete by ’n klein restaurant. Ek gaan wys iemand ’n woonstel in Simons Plein. Ek gesels met Porchie oor sy kunswerke en gaan kyk hoe hulle De Wijnhuis-restaurant, verander. Oral in die strate sien ek kuns en mense. Vanaand gaan ek ’n nuwe liedjie skryf. Ek maak nota’s vir ’n liedjie in my Chas Everitt dagboek. Ek het vir die eerste keer in 19 jaar ’n dagboek. Ek skryf skielik alles neer, want mens onthou niks nie. Ek moet skielik mense, plekke, huise en afsprake onthou. Dit staan in my dagboek.

Ná ’n warm, uitputtende en propvol dag in Stellenbosch, ry ek uiteindelik terug na Somerset-Wes. Oral om my sien ek berge, wynlande, perde. Ek kan nie wag om my gesin te sien nie. Ek hoop hulle lyk gelukkig as ek hulle sien. Dalk moet ons Strand toe gaan. Elke dag hoop ek hulle is gelukkig. Elke dag wens ek die aanpassing is maklik. Elke dag weet ek dat as ons ná baie jare van nou af sal terugkyk, ons hopelik die reis sal verstaan. Dan sal ons kan sien hoe verandering ons lewens ryker gemaak het. Kan ons weet hoe ons gegroei het en sal ons altyd met dankbaarheid kyk na die plekke, dorpe en huise waar ons wortels lê.

Met Covid-19 is baie mense se lewens holderstebolder. Ons s’n ook, maar ons probeer orde skep in hierdie chaos. Planne maak. Die wêreld is kwesbaar. Mense moes aanbeweeg, groet, trek, rou, planne maak en nuut begin. Dis soos geboorte gee. Dis nie maklik nie. Dis pynlik, maar dis nie die einde nie, dis ’n nuwe begin.

Môre, wanneer ek die kinders by die skool gaan aflaai, sal dit al die tweede week wees by hul nuwe skool.

Ek sal by die hek wag en hoop dis die dag wat die see en die berge vir hulle sin maak. Ek sal saam juig wanneer hulle nuwe maatjies maak en wanneer my vrou met ’n nuwe vriendin ’n koffie gaan drink. ’n Klomp klein oorwinnings word later ’n groot oorwinning.

Ek sal wag vir die dag wanneer ek nie wakker skrik en wonder waar ek is nie, maar sal weet ek is tuis, want hierdie is alles deel van die reis. Dis alles deel van groei. Dis uit die comfort zone spring soos uit ’n vliegtuig tydens skydiving.

Maar almal praat altyd oor verandering. Almal wil reis. Almal wil groei. Almal wil nuwe plekke, mense en kulture leer ken. Almal wil kanse vat, iets nuuts uitprobeer. Almal wil verander.

En nou is die tyd. Dalk te skielik en sonder waarskuwing vir meeste mense, maar swem moet ons swem. Holderstebolder. Covid 19. 2021. Ons sal almal eendag terugkyk op dié journey. Hierdie jaar se dagboek hou ek as ’n souvenir!

Maar niks gaan my nou keer om eers ’n koppie tee te geniet nie…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Racheltjie Debeer ·

Sterkte Jak, ek hoop jou gesin pas gou aan. Sou wat wou gee om Kaap toe te trek.

MT ·

Interessante skrywe, maar ek dink die skrywer oordryf so ‘n bietjie.

Hy beskryf ‘n bittere klein gedeelte van die Boland (Stellenbosch en Somerset-Wes), wat dan volgens hom na ‘n skildery lyk. Hy vergeet die groot plakkerskampe rondom hierdie dorpe, die groot hoeveelhede bedelaars op elke straathoek, en dat daardie mooi herehuise, perdeplase, en wingerde meestal aan oorsese beleggers behoort.

Die Wes-Kaap is nie ‘n eiland nie, en na 45 jaar hier, sal meeste ‘ou’ Wes-Kapenaars dit bevestig.

Geniet die sg. aanpassing Jak, en welkom in een van Suid-Afrika se nege provinsies.

OW ·

Kry ek so koue rilling langs my ruggraat af toe ek jou skrywe lees Jak.Ek self is ‘n kapenaar van geboorte, maar het nie daar groot geword nie.Ek het die Kaap eers in ‘n herontmoeting leer ken toe ek as 18 jarige my Vloot opleiding in 1976/77 in Saldanha-baai en Simonstad gedoen het.Om die Kaap so te leer ken in ‘n militêre omgewing, was ook iets anders gewees.As ek so vandag terug kyk sou ek dit vir niks in die wêreld verruil nie.Die oomblik as jy by die basis inbeweeg en besef jy is in ‘n ander wêreld.Nogal vreesaanjaend.Baie sterkte vir jou en die familie.

Susan ·

Sjoe, Jak jy slaan die spyker op sy kop. Alles wat covid verander het, moet ons nou mee saam lewe. So ook mense wat hul werk verloor het en ook da waar ek werk. Jaareinde sonder hulle, dis moeilik maar ek glo dat dit weer beter sal gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.