Koppieteefontein: Die Groot Trek

Jak de Priester (Foto: Maroela Media)

Om te trek, is nie vir sissies nie. Hulle beweer nie verniet dat naas die dood van ’n geliefde, is die tweede grootste trauma om te trek nie.

Die jaar 2020 het baie uitdagings. Ek glo meeste mense is net in survival mode. Party mense sou reken dat dit in tye soos hierdie waarin ons leef, veiliger is om geen groot besluite te neem en veranderinge te maak nie, terwyl ander mense weer reken dis juis die tyd vir totale verandering en kanse vat.

Dit sou interessant wees om te weet hoeveel mense in hierdie tyd van inperking en virusse en verliese en die skielike dood van die Ou Normaal, wel ’n totaal ander rigting ingeslaan het. Noodgedwonge, maar ook uit eie keuse. Hoeveel mense het besef dat dit die gulde geleentheid is om hul lewe handomkeer te verander en hoeveel mense liewer vasklou aan dit wat hulle het met die hoop dat alles weer sal wees soos met die ou, bekende normaal. Daar is nie ’n reg of verkeerd nie.

Hoe dit ook al sy, elke keuse kos iets. En om te trek, is ’n groot besluit. Waar mens ook al woon, jy skiet wortels en wortels hou jou gegrond. ’n Boom kan nie staan sonder wortels wat diep in die aarde vasgroei nie, en vir amper alle mense is dit dieselfde prinsiep.

Ek het al gehoor van mense wat gebore, getoë, getroud, geskei, ge-alles is in een dorp en in een huis. Dis moontlik, ja, maar ’n boom skiet reeds diep wortels in ’n kort tydjie. ’n Jaar. Twee jaar. Drie jaar.

Ons het vyf jaar in die huis in Hennopspark waaruit ons pas getrek het, gewoon. My jongste seun is daar gebore. Ons het dit verander en geverf na ons smaak. My buurman sê hy het nog nooit iemand ’n huis só baie sien verf in so ’n kort tydjie nie (wel, veral nie in die binneland nie). Die huis was wit, toe later charcoal en toe lyk die charcoal vir my soos swart wat deur die son verbleik is en toe verf ek die huis maar swart. My suster het gevra wat gaan die mense dink? Wie wil in ’n swart huis woon? Hulle sal wonder of julle iets offer hier agter, het sy gelag, maar vir my was die groen gras so mooi teenoor die pikswart mure van die huis. Binnekant het ek die huis seker 10 keer verander. Van wit na hier en daar ’n rooi muur, dan weer olyfgroen, dan weer wit. Daar was selfs ’n geel muur en ’n seeblou kombuis. My buurman het net sy kop geskud en gelag, maar vir my was dit fantasties. Ek wil elke ses maande verander. Ek weet nie hoekom nie. Ek is dalk familie van die akkedisspesie wat elke nou en dan uit sy vel groei. Eintlik besef ek nou, dis met alles in my lewe so. Behalwe my vrou, gelukkig. Ek wou haar al verf, maar net met heuning, sodat ek dit weer kan afeet. Waar’s my gedagtes nou hier waar ek sit…

Elke mens laat groei sy wortels op ’n ander manier (pardon the pun). Ek verander die look van ons huis gereeld, ons het selfs ’n tennisbaan gebou (my kinderdroom) en ja, dit mis ek die meeste. Ek en my oudste seun, Jamie, het elke dag tennis gespeel, die kinders het gedans op die baan en Michelle het gejoga (vir ’n week). Dis ’n leefstyl. En met elke druppel sweet op die baan groei jou wortels net nog dieper in die huis waarin jy woon.

Met elke braai saam met die bure en elke kinderpartytjie en oorslaap van maatjies en doeke omruil van baba’s en kosmaak en laat slaap en vroeg opstaan en tee drink en op die stoep sit en niks doen nie, groei ’n mens só diep vas aan die stukkie aarde waar jy woon, dat dit traumaties is om te trek. Daarom is dit noodsaaklik om ’n mens se huis, waar jy ook al woon, so lekker en so goed as moontlik te maak. Dis jou wortels. Dis jou plek waar jy jou wonde lek. Dis die plek waar jy jou kinders leer ken en jou vrou liefkoos. Dis jou stukkie aarde. As dinge moeilik raak by die werk, is jou huis jou veilige vesting. Die plek waar jy planne maak.

En dan gebeur daar dinge in mense se lewe wat veroorsaak dat jy moet trek. Om dalk net na ’n groter huis te trek of af te skaal weens die feit dat die kinders uit die huis is, of aftree op ’n ander dorp. As jy na ’n troufoto kyk, kan jy nog hoor hoe die gaste luidkeels sing “Kinders by dosyne.” En skielik is die huis leeg en die kinders groot.

Baie mense kry werkgeleenthede iewers elders, maar ná hierdie trek van ons Wes-Kaap toe, het ek opnuut deernis vir mense wat na Australië of Nieu-Seeland of buiteland toe moes trek. Ek glo later kyk mens terug en hopelik was dit ’n goeie move, maar daardie oomblik wanneer jy jou mense moet groet, selfs die honde vir iemand anders moet gee as jy nie geld het om hul ten duurste saam te trek nie, is alles traumaties. Nuwe land, nuwe taal, nuwe kultuur. Ek en Michelle het albei al in Engeland gewoon en sy ook in Amerika, maar ons was jonk. Sonder kinders. Sonder die verantwoordelikheid van ’n 5-, 9- en 10-jarige wat ook wortels geskiet het.

Ek het nooit besef hoe erg dit vir my kinders gaan wees om te trek nie. Ná een maand hier is dit nou al beter, maar die eerste twee weke was die see, die son en die berge geen troos of plaasvervanger vir hul maatjies en hul kamers en hul wortels in Centurion nie. Ek en Michelle het hulle moed ingepraat en verduidelik soos nog nooit vantevore nie.

“Kyk hoe mooi is die berge uit jou kamervenster!” “Kyk hoe mooi is die diepblou see!” “Kom ons gaan akwarium toe.” Maar saans as ons gaan slaap, is dit tranedal.  Verlange. Wortels.

Ek het later begin dink dat ek dalk ’n fout gemaak het. Behalwe dat ek my kinders graag tussen die berge en die see en die natuur wil grootmaak, is daar ook ander geleenthede vir my in die Wes-Kaap. Behalwe om te sing (wat altyd my eerste liefde, passie en loopbaan sal bly) is daar ook ander, meer kunssinnige geleenthede.

So, vir my was die jaar 2020 ’n jaar van verandering. Ek moes wortels uittrek en op ’n ander plek ’n huis gaan verf. Ons is skaars hier en die huis het van grys na spierwit verander. Die geel beelde van ons huis in Centurion het ek saam getrek net om my te herinner van die lockdown-tye in Hennopspark, Centurion. My geel stadium, my tuinmaak-oomblikke.

Die dag toe ons treklorrie ons huisraad in Centurion opgelaai het, was ’n tranedal. Ek het alleen Kaap toe gery en my gesin het nog vier dae by ons wonderlike bure oorkant die pad gebly en toe eers gevlieg. Ek wou alleen die treklorrie ontvang in die Kaap en probeer om ’n huis te skep voordat die kinders hier land. Groot drome, maar nie baie realisties nie.

Die dag toe die treklorrie in Kleinmond voor ons nuwe huis arriveer, toe staan ek en kyk hoe hulle ons ou lewe in Hennopspark, boks vir boks aflaai en ophoop in die nuwe huis. Ek dink my berekeninge was ietwat uit, want die huis was al oral vol bokse gestapel, toe die man bevestig, hulle is amper halfpad uitgelaai.

Nou eers halfpad? Hoe het al die goed in ons vorige huis ingepas en hoe op aarde gaan alles hier weer ’n plekkie vind?

Toe die treklorrie wegry, toe sluit ek die deur agter my en bekyk ’n huis van bokse. Opgestapel van bo na onder, elke kamer, elke vertrek, tot in die kombuis en in die badkamers. Jy kan nie eens by die toilet uitkom nie. Dis net bokse en plante en goeters.

(Foto: RhondaK Native Florida Folk Artist/Unsplash)

Ek het lanklaas gehuil. Waar begin ’n mens?

“Boks vir boks,” was my Pretoria-buurman se raad.

Chaos.

My vrou bel uit Pretoria. “Hoe lyk ons besittings in die nuwe huis?” vra sy effe opgewonde.

“Daar’s nie woorde nie,” antwoord ek. “Ek dink dit gaan mooi lyk,” stel ek haar gerus.

Nodeloos om te sê, dit was nie moontlik om vinnig genoeg ’n perfekte huis te skep, my gesin te blinddoek soos op ’n Amerikaanse televisieprogram, en te sê, “Welkom by jul nuwe huis!” nie.

Inteendeel. Ek het hulle eers na ’n ander huis toe gevat. Vriende van ons. Ek kon dit nie oor my hart kry om my emosie belaaide kinders – wat hul maatjies moes groet, die tennisbaan, die swembad, die perfekte lewe (volgens hulle) – in hierdie chaos te laat instap nie. O ja, ek het vergeet om te noem dat ek ’n huis vir ons kom soek het, sonder dat Michelle of enige een van my gesin dit gesien het. Alles was ’n verassing.

“Ons wil die huis sien!” het almal soos een man gesê in die bussie van die Kaapstadse lughawe oor Sir Lowryspas op pad Kleinmond toe.

“Een van die dae!” was my antwoord.

Daardie aand, toe die kinders emosioneel uitgeput aan die slaap raak by ons vriende, stap ek en Michelle alleen na ons nuwe huis.

“Surprise!” sluit ek die deur oop.

Michelle stap binne. Sy sukkel om verby ’n paar bokse te loop. Die beligting lyk fantasties. Ek het in twee maande die huis opgeknap.

Eers is sy stil. Sy bekyk alles om haar. Geen woorde. Stilte. Nog stilte.

“Hoor jy die see?” vra ek.

“Is dit die see?” vra sy.

“Ja,” sê ek, “klink amper soos die hoofweg in Centurion, nè?”

Stilte. So bietjie beweging om die bokse heen. Stilte. Sit ’n lig aan en af.

“Die ligte is mooi nè?” sê ek.

Stilte.

En toe lui die foon en breek die stilte en ek skrik skoon. Vir ’n oomblik het ek gedink Michelle gaan nie antwoord nie. Maar toe antwoord sy.

Ek luister na haar stemtoon toe sy groet. Dis ’n video call van ons bure in Hennopspark.

“Hallo!” Groet sy met of trane of vreugde in haar stem? Ek kan nie mooi uitmaak nie, want die see is rof.

“Kyk ons nuwe huis!” Sy draai die foon dat hulle kan sien. “Hier’s bietjie werk, maar dis baie nice!” sê sy.

Michelle het die bure deur ’n toer op video call gevat, gegroet, haar arms om my nek gevou soos toe ons in ons twintigs was, my ’n soen op die mond gegee, my in my oë gekyk en gesê: “Dankie vir ons nuwe huis, ek is mal daaroor!”

Ons het daardie aand by ons vriende oorgeslaap. Ek was lanklaas so moeg. Tot in my siel toe moeg.

Ons het die volgende dag begin uitpak. Ons pak steeds uit.

Nêrens in die wêreld sal jy vriendeliker mense teëkom as in Kleinmond nie. Vreemde mense kom stel hulself voor. Bring kos. Blomme. Ons het al twee koeke ontvang. Welkomkaartjies. ’n Boks met eiers, brood, tee, suiker. Johan van die Blou Bakkie het al brood en botter kom aflaai. ’n Man het al vir ons ’n sleutel van die tennisbaan gegee. Die kantoortannie van die skool loop elke dag verby ons huis met ’n jong, sterk Pit Bull Terrier, wat haar vorentoe sleep, maar sy borrel oor van vriendelikheid en gasvryheid. Elke afgetrede dominee wat hier woon, het al vir ons gebid (gelukkig nie kollekte kom vra nie, want ná hierdie jaar is ek bankrot).

Mense help met enigiets. Die oom van die tuindienste het kom gras plant en binnekort wilde proteas en speldekussings. ’n Ander oom het ’n braai kom bou. Dis ’n ongelooflike gemeenskap op hierdie dorp. ’n Hemel op aarde vir afgetrede mense en vakansiegangers. Die gedagte het al by my opgekom of ons dalk ’n paar jaar te jonk is. Ek weet nie, maar die mense is werklik ongelooflik behulpsaam. Ek het ’n paar nuwe vriende gemaak, dus geen tekort aan vaderfigure nie. Soos ek sê, die mense is ongelooflik goed.

Elke oggend stap ons langs die see. Michelle gooi ’n skulpie in die golwe vir al ons vriende met ’n gebed. En ’n koppie tee.

Die kinders huil nou net elke vierde dag, maar hulle geniet die strand. Hulle speel met hul maatjies oor die internet. Hoe die lewe verander het.

Ek het ’n liedjie “Sally Williams Nougat” 18 jaar gelede geskryf met die woorde “deur die internet kan ons tog kommunikeer”. As ek maar toe geweet het hoe waar daardie woorde sou word.

Ons huis lyk al baie beter, en die gras se wortels lyk darem asof hulle vat. Ek glo die huis gaan wit bly vir ’n ruk. My klavier is nog in Pretoria, so ek skryf liedjies op my keyboard. Ek glo die bure hoor my, want die paadjies is maar nou. Daar sit elke aand ’n uil in ’n boom in die erf langs ons. Ek hoop nie dis slegte nuus nie. Veral nie ná 2020 nie. Maar die gehoe-hoe is wondermooi in die aand met die see in die agtergrond.

Die ander dag toe sit ons op die strand. Dis twaalfuur die middag. Dis ’n Dinsdag. Dis ’n normale werkweek. My kinders doen Lockdown Learners by Laerskool Hennopspark tot die einde van die jaar. Dis ’n potblou, windstil dag by die see. Die kinders baljaar in die lagoon. Elvis, die hond, speel te lekker op die wit sand. Hy verstaan ook nie sy nuwe vryheid nie. In Centurion het almal op hom gegil as hy by die hek uithardloop.

Ek sit op die strand en kyk om my. Die groen berge van Kleinmond. Die wilde proteas van ver af. Die fynbos. Die helder blou see. Die wit golwe. Die seemeeue wat lawaai. Ek kyk om my. Ek sien alles wat mooi is, maar ek sien geen mense nie. Net ons. Net ons. Ek sê dit weer… net ons. Vir ’n oomblik dink ek dat uit 7 miljard mense oor die hele wêreld is dit net ons vyf, plus Elvis, die hond wat nou op hierdie spierwit strand sit.

Vir ’n oomblik twyfel ek. Is ek nie dalk dood nie, want hierdie is hemels. Is hierdie ’n realistiese lewe vir ’n man, sy vrou en drie kinders en ’n hond? Drie kinders wat gewoond is aan tenniswedstryde, hokkiewedstryde, atletiek, revue, dans, winkels, skooltoere… Vir my is dit geen probleem om te vlieg en te reis na konserte toe nie, daaraan is ek gewoond, maar is dié eenvoudige leefstyl, langs die see, in ’n klein dorpie, ’n realistiese opsie vir die spesifieke seisoen waarin ek en my gesin is? Ek het al gehoor van mense wat so swerf sonder niks, maar is ons nou wat hulle sal noem kinders van die wind? Gaan my kinders nie gewoond raak aan die bubble en dan eendag hulself doodskrik vir die regte wêreld daar buite nie? Om ’n kunstenaar te wees bly maar kompleks. Jy dink te veel…

’n Seemeeu sit so ’n entjie van my af en maak geluide. Asof hy met my praat. “Bid altyd eerste.” het ds. Zelvin by Midrand Lewende Woord my geleer. “Bid altyd eerste.” So nou bid ek altyd eerste.

Ek kyk diep die see in. Dis groot. So moeilik om myself voor te stel daar buite is ’n wêreld met Covid-19 en politieke leiers wat korrup is en ’n Amerikaanse verkiesing en ’n Donald Trump en ’n Julius Malema. Wil die wêreld homself nie regruk as hy na die see kyk nie, wonder ek.

So, hier is ons nou. In die Wes-Kaap. In Kleinmond (vir nou). Die vriendelikste en mooiste dorpie by die see, maar is dit nie dalk te gou nie? Moet ons nie dalk 50 km aanbeweeg na Somerset-Wes toe, waar die kinders kan dans, sing, tennis en hokkie speel, ensovoorts nie? En as dit nou regtig moet, is daar ’n mall ook. Waar ek nader aan die lughawe is? Nader aan ander musikante en kunstenaars en die Woordfees om die draai en Koos Kombuis en Kaapstad nie?

Jak de Priester se geverfde houthuis. (Foto: Jak de Priester/Instagram)

Waar moet ons wortel skiet?

Eintlik kan ek nie wag om weer ons mooi land plat te reis en te sing vir my mense nie. Ek mis dit. Ek het ’n behoefte om myself uit te druk. Ek doen dit al vir 18 jaar met my liedjies, oral in SA, selfs Australië en Nieu-Seeland (en amper Kanada, as dit nie vir Covid-19 was nie). Die jaar 2020 was so anders. En ek is een van dié wat ’n totale verandering ondergaan het. Met hart en siel en huis.

Die Kersfeesversierings begin kop uitsteek. Kan julle glo? ’n Jaar is amper verby. En almal is anders. Of jy gebly het waar jy is, en of jy getrek het. Niemand is onaangeraak in 2020 nie.

Nou moet ons vorentoe kyk en wortel skiet. Positief soos in ’n tenniswedstryd. Met ons geliefdes. In ’n wit huis of ’n swart huis, in die Wes-Kaap of Gauteng, in Kleinmond of Somerset-Wes… en selfs seker in Australië as ’n mens moet. Ek is net dankbaar dat die treklorrie in hierdie stadium vir ons nog in Suid-Afrika gestop het. ’n Vlug terug Gauteng toe is net onder die twee uur, maar ’n vlug oorsee neem bietjie langer en daarby kom nog ’n ander kultuur en taal en ’n nuwe land se reëls.

Ek gaan nou ’n koppie tee drink en dan… dan gaan ek ons Wendy house verf. Blou, rooi, geel en groen. Ek wil hê dit moet lyk soos op Muizenberg se strand.

Ek glo ’n mens maak foute. Baie foute. Ek glo ’n mens neem besluite waar die stukke van die legkaart eers ná ’n lang ruk, wanneer jy terugkyk, sin maak, maar solank ’n mens net die reis geniet en uit die foute leer. Waar ook al jy anker gooi, sal jy wortelskiet. Soms dieper as ander kere en soms trek mens dit weer uit en beweeg aan, maar daar sal altyd ’n stukkie van jou wortels in die grond agterbly. En daai wortels is herinneringe, vriende en oomblikke, ’n wit huis, ’n swart huis, ’n plaashuis of ’n siersteenhuis – vir baie selfs ’n sinkplaathuis. Jou huis is waar jou hart is.

Vandag skyn die son blink op Kleinmond. Ek gaan nou verf.

Sien julle gou weer!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Mad Mike die Rhodesiër

Ek hou van jou reënboognasie-huisie, Jak! Ek hoop julle hou van die see, want dis die lekkerste en gesondste plek om te bly! Ek is ‘n af-die-plaas-musikant van die 60s, en 70s, uit die ou Rhodesië, wat vir jare by die see gebly het, maar nou afgetree het in die Middellandse berge van Natal. Ek mis die see hier, maar ek is geweldig dankbaar vir een GROOT ding: hier het ons bondel-beurtkrag (waar die fabrieke vir ons krag gee en snags werk wanneer dit tyd is vir beurtkrag).

!

Dankie vir jou Jak

Rina

Jak, baie dankie, jy maak my dag! so moeg van al die slegte nuus, toe kom ek op jou artikel af! Ag dis so mooi geskryf en som baie van my gedagtes ook op! Dankie Jak, en ek is besig om ons huis, waarin ons nou amper 5 jaar bly (ons het 2015 ingetrek, die week tussen Kersfees en Nuwe jaar) , ook binne te verander met van “glow in the dark” maan en sterre, familie foto’s, prestasies van ons gesin, sielsoomblikke, want soos jy sê: Dit is ons veilig hawe waarin ons skuiling soek, waar ons ons wonde lek… Lees meer »

Rachel

Ek glo julle sal baie gelukkig wees in Kleinmond. Wens ek kon daar gaan bly, dis een vd mooiste plekke in ons land.
Geniet elke oomblik!

Donene

Ek staan voor die begin van n hele nuwe avontuur wat ons binne maande, uit ons huis van 30 jaar gaan trek. Waarheen weet ek nog nie, maar Abba het gese, “Maak los.” Jou artikel skep moed en ek sien kans….vir nuwe verf, nuwe uitsigte, hopelik n berg of twee…. en sommer hoop vir al die nuwe oggende wat wag! Dankie!