Koppieteefontein: My huis is waar my hart is

Jak de Priester. (Argieffoto.)

Ons is besig om ons huis op te pak. Ons trek. Asof ’n uitmergelende epidemie en ’n lockdown nie genoeg emosionele skade kan bring nie, is ons so waar as vet besig om te trek van die Noorde na die Suide. Net soos ’n nomadiese volk trek ons agter die see aan. Moet ek my kop laat lees? Wel, dis nou te laat. (Natuurlik is daar dieper persoonlike redes, maar dis vir ’n ander keer.)

Daar is oomblikke wat ek opgewonde is oor ’n nuwe begin op ’n vreemde plek en dan is daar oomblikke wat my hart in my keel ontplof van angs en onsekerheid.

Ek het myself nog altyd beskou as ’n avontuurlustige mens. Iemand wat die wêreld wil verken. Iemand wat hou van uitdagings. Iemand wat nie ’n normale lewe wil lei nie. Iemand met waagmoed en wat nie in my eie comfort zone vasgevang wil word nie. Maar soos ek hier sit en skryf, terwyl die res van my huisgesin salig slaap, besef ek, ek is maar net so skytbang vir verandering soos enige iemand anders.

Ek dog ek ken myself. Ek dog ek is iemand vir ’n journey. Maar goeiste… ek slaan nou skielik sweet uit as ek dink wat alles voorlê. Al besef ek dis in my aard om heeltyd te beweeg, besef ek ook dat as jy wortels skiet êrens, is dit soms moeilik om dit net uit te trek en die vreemde in te gaan. Wortels hou jou vas. Soos ’n boom wat jaar in en jaar uit net op een plek staan. Die bekende het skielik vir my ’n onbekende begrip geword. Hoekom is ’n mens so vas aan jou goedjies? Jou huis, jou motor, jou spasie, jou wortels? Dit het niks eers met die skoonheid van ’n plek te doen nie. Wanneer Betty (ons huishulp) op ’n Vrydag huis toe gaan, kan sy nie wag om by haar huis te kom nie. Al is dit in die middel van Mamelodi, omring deur shacks en swak dienslewering, verlang sy om by haar huis te wees. Haar plekkie.

Aan die begin van 2020 sou ek nooit kon raai dat ons in hierdie jaar ’n skuif sou maak nie. Dit was nie in ons beplanning nie. My vrou, Michelle, wou nog altyd in die Kaap woon. Sy is gebore en getoë in Centurion. Ek kom van die Vrystaat af. Toe ons jonger was, was ons braaf. Sy het in Amerika en in Londen gewoon en ek ook in Engeland. Dit was ’n tyd in ons lewens toe dit so maklik was om aan te pas. Solank jou reis en verblyf gereël was en jy geld gehad het vir kos en drank en ’n treinkaartjie, was die lewe ’n lied. Al my besittings het in een tas gepas. Die lewe was ’n experience! Life is short… live it! het geskryf gestaan op my backpack.

Maar êrens tussen ’n brawe jong mens en ’n verantwoordelike 40-jarige verander daar iets binne in jou. Iets wat jou aan jou aardse goedjies laat vasklou. Daardie jare in Londen kon ek binne 2 uur my tas pak en van een vasteland na ’n ander een reis of trek, maar nou neem dit ons weke, selfs maande om ons huis te sorteer, bokse te pak, weg te gee, te verkoop, en te besin oor ons lewe hier op aarde.

So besluit ek en Michelle om drie bokse vol boeke en CD’s en goed na die hospice in Centurion te neem. Hulle het ’n tweedehandse winkel en is te bly vir nuwe voorraad. Daar aangekom het my mond oopgehang vir hoeveel huishoudelike goed, ou klere, plate, kospotte, teddiebere, speelgoed, messe en vurke en, en, en… daar afgelaai word om te verkoop. Wat my verder gefassineer het is hoe besig die winkel was. Alles is natuurlik goedkoop geprys. Mens koop trollies vol van ander mense se weggooigoed.  Ek hou ’n ou oom dop. Hy koop vir hom plate van Beethoven en sit later by die koffiewinkel en bestel ’n koppie tee, terwyl hy sy nuwe aankope bestudeer. Ek het gewonder of die oom nog ’n ou platespeler by sy huis het en ek kon my voorstel hoe hy tuis kom, ’n plaat aansit en met toe oë luister hoe Beethoven weergalm deur sy huis. Stoksielalleen. Net hy en Beethoven en sy herinneringe van sy lewe.

En dit het my weer laat dink aan die betekenis van ’n huis. Is dit die goeters wat ons bymekaarmaak? Die paintings wat die mure volhang? Die Beethoven-plate wat opgestapel lê?

Die vaas wat nog jou Moeder s’n was? Die tafeltjies wat jou broer in die houtwerkklas gemaak het in Standard 10? Die lessenaar waarby jy al soveel tyd deurgebring het? Die ou klavier? Die honderde potplante wat jy elke nou en dan natmaak, terwyl jy met jou eie gedagtes worstel?

Wat maak ’n huis ’n huis? Hoekom kan ons nie net alles los en aanbeweeg nie? Bring aardse goed dan soveel waarde in mens se lewens?

verhuis-trek-bokse-oorlaai

(Argieffoto: Pixabay)

Of is dit die kinders wat leer kruip en later loop en later deur die sproeiers hardloop. Die haasbekkie se eerste skooldag? Die herinneringe. Alles het in hierdie huis gebeur. Is dit hoekom ek sukkel om te laat gaan?

So ons pak ons huis op. Wat vat jy saam en wat los jy? Hoe maak ek seker elke een van die vyf lede van ons gesin is gelukkig in ons nuwe huis, die nuwe skool, die nuwe dorp, die nuwe provinsie? As ek alles so op papier sit, sou mens die vraag kon vra: Nou maar hoekom trek julle?

Wel, elke gesin wat êrens heen trek, het maar hul redes… finansies, beter geleenthede, ’n verandering… Maar moeilik bly dit moeilik om die wortels van herinneringe uit te trek en ’n nuwe lewe te gaan maak. Om jou ou goed te gaan aflaai by hospice. ’n Comfort zone is ’n verskriklike ding, selfs vir my wat nog altyd geglo het dit affekteer my nie.

Ons het Michelle se motor ingeruil, aangesien ons reeds ’n ander gesinsmotor ook het… dit was ’n afskeid soos nog nooit vantevore nie. Die kinders het die kar gegroet asof dit ’n troeteldier was. Michelle het dit gewas en gepolish vir die laaste keer, selfs ek het ’n oomblik met die kar gehad, die kar wat elke dag vir vyf jaar die kinders by die skool afgelaai het. Nee maggies, wat het geword van my dapper twintiger jare toe ek aan niks vasgeklou het nie?  Ek was vry, soos Koos du Plessis se liedjie.

Ek kyk na die lewe wat ons bymekaargemaak het. Alles is in bokse. Die treklorrie arriveer einde September. Dan groet ons Centurion vir eers. Hennopspark se goeie mense. Die fantastiese skool.

En vir die eerste keer in ’n lang tyd moet ek weer braaf wees. Hierdie keer nie net ek en ’n backpack nie, maar ek, ’n vrou, drie kinders, twee honde, twee voëls, twee karre, ’n scooter, ’n klavier, 40 bokse en ’n lorrie vol goed.

Dankie tog ons trek nie Australië toe nie… selfs mý senuwees sal dit nie gehou het nie. Ons bly in Afrika, maar nou net ’n bietjie meer suid as vroeër.

En sing sal ek sing, van Centurion tot in die Kaap, van Kleinmond tot in Kroonstad, van Stellenbosch tot in Sunnyside, van Somerset-Wes tot in Pretoria-Wes, van die Overberge tot die Drakensberge… En met die genade van God sal ons nuwe memories maak… ek en my pragtige, pragtige vrou en kinders… want op die ou einde is dit wat ’n huis maak – die paintings gaan verander en die blomme gaan verlep, maar my gesin, ek, Michelle, Jamie, Mija en Mika, ons vyf moet die pad van herinneringe loop en saam is ons ’n span… in Hennopspark of Kleinmond!

Maar vir nou, eers ’n lekker koppie tee!

  • Ons is opgewonde dat Jak de Priester as kunstenaar by ons aansluit vir musiekvermaak voor die twee flieks. Bespreek dus sommer nou al jou piekniekplek by Monte De Dios in die ooste van Pretoria vir Maroela se fliekpiekniek op 17 Oktober 2020. Kom geniet ligte musiek en vermaak vanaf 15:00. Die eerste fliek, Dominee Tienie, word om 17:00 vertoon. Katinka Heyns se immergewilde Die storie van Klara Viljee is om 19:00 te sien.

koop jou piekniekplek

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Rachel

Jak, ek glo julle sal baie gelukkig wees in Kleinmond. Ek sou wat gee om ook daar te gaan bly.
Sterkte!