Koppieteefontein – ’n stoepstorie

Foto slegs ter illustrasie. (Foto: Jean van der Meulen/Pexels)

Ek maak ʼn koppie tee en gaan sit op ʼn ou stoel op ons agterstoep. Die stoep is ʼn seëning, dink ek.

Wat is ʼn huis sonder ʼn stoep? Ek het al baie keer gedink dat as ek ʼn huis moes bou, sal ek die stoep eers beplan en dan die res om dit. Ek maak myself tuis in die ou stoel en sit die stomende koppie tee op die klein tafeltjie langs dit neer. Die oggend is vars. Die winter is onafwendbaar. Die tekens van herfs wil-wil verdwyn soos wat die rooi en geel blare stadig van die bome aftol. Die herfs is prentjiemooi in die Kaap − rooi en geel en bruin en dramaties en behalwe die skoonheid, is daar nog ʼn Mei-maand vol pragtige warm, windstil dae… maar die winter is die real deal. Die winter het sy uitdagings. Vanoggend was dit basies nog donker toe ek die kinders by die skool gaan aflaai het. Dit voel soos nou die dag toe ons nog die “goue uur” van die dag op die strand geniet het. Die goue uur is wanneer die son hang-hang, stadig verdwyn oor die see, die kinders wa-wiele maak in die vlak branders en die honde jou nat spat soos hul aangehardloop kom. Alles om jou is goud. Die goue uur. Dis magies…

…maar die laaste tyd is dit 6 uur saans reeds donker. Koud. Die kaggelvure brand. Die rooiwyn bring hoop vir die wat dit kan bekostig. ʼn Warm bord kos maak ʼn maag vol en ʼn wolkombers hou ons warm voor die televisie… maar, miljoene mense slaap weer koud vanaand. Ek sien dit, doer in die verte. Die rook van die informele nedersettings hang soos ʼn dik wolk oor die oseaan. Dis die mense wat vuur maak snags. Dis die mense probeer warm bly deur die nag.

“Jy dink te veel,” waarsku my vrou dikwels.

Sy’s reg. Vanoggend sit ek hier en dink weer te veel. Oor alles. Dis asof ek die winter nie alleen oor my lyf voel nie. Dis asof hy met sy koue hande so effens aan my hart ook vat en my gemoedstoestand dalk ʼn bietjie belemmer. Maar daar is niks wat ʼn koppie tee nie kan regmaak nie, het my ma my geleer. ʼn Koppie tee fix alles!

Die tee proe lekker.

(Foto: Maroela Media)

Nou waar pas ek in in die wêreld? Dink ek… ag hemel… kom ek maak nog ʼn koppie tee. Die eerste een het nog nie ingeskop nie.

ʼn Mens (soos ek) voel soms net so hulpeloos in die wêreld. Oral om jou gebeur dinge. Dit affekteer my. Die oorlogstonele in die Oekraïne, die vyfjarige seuntjie wat amper verwurg is deur sy eie toutjie op die glyplank, Aleit Swanepoel wat met ʼn breë glimlag gaan slaap het en nooit weer wakker geword het nie. Mike Schussler se kanker. Die petrolprys wat met amper R4 gaan styg. Die verwoestende vloede in Natal, nog ʼn skoolskietery in Texas, en so kan ek aangaan. Hoe meer ek probeer om die nuus te vermy, hoe meer vind ek uit. Dis asof ʼn mens nie kan wegkom van die slegte nuus nie. Asof slegte nuus jou altyd gaan opspoor, al kruip jy weg. Saans maak Michelle die heerlikste kos, dan spook ons om al drie kinders om die etenstafel te kry… maar dan vat ons hande en bid. Gisteraand het Mika, die jongste, gebid. Hy is 6 jaar oud. Wanneer hy bid raak sy stemmetjie nog kleiner. Ek luister na sy gebed.

“Dankie Liewe Jesus vir ʼn mamma en pappa. Dankie vir ʼn boetie en sussie. Dankie vir ʼn huisie en ʼn warm bedjie. Dankie vir ʼn skool dat ons kan leer. Dankie vir my maatjie, Andreas… en ook vir Reich. Dankie vir ʼn hondjie en dankie vir die kossies dat ons magies kan vol wees. Amen”

Dis presies dit, dink ek. Dit wat uit die mond van ʼn kind kom… dis die kern van die lewe.

ʼn Mamma en pappa, ʼn huis, kos… ʼn warm bedjie en, en…

Maar vanoggend hang die rook weer in die verte en die winter het sy naels in my hart… en ek is dankbaar vir alles wat ons het in my kind se gebed, maar ek sluk swaar aan die wêreld en die gesukkel, die oorlog en die angs, en miljoene kinders vir wie alles in Mika se gebedjie ver van realiteit af is.

Ek wonder waar ek inpas. Hoekom ek sit waar ek nou sit? Ek dink te veel. Wat doen ek om ʼn verskil te maak? Ek sukkel meestal self om al die ysters in die vuur te hou.

Soos wat ek ʼn sluk van my tweede koppie tee vat, kom sit daar die kleinste voëltjie wat ek nog in my lewe gesien het op die kragdraad voor my. Dis die mooiste klein dingetjie. Perfek geskape. Hy is helderkleurig. Helderkleurig soos ons huis aan die binnekant.

Hy is groen, rooi en blou, met ʼn skerp, ronde puntbekkie. Ek weet nie genoeg van voëls af om dadelik te weet watter spesie dit is nie, maar ek het later gaan Google en gesien dit behoort ʼn sonvoëltjie te wees. Al wat ek egter weet, is dat dit die mooiste klein dingetjie is wat ek op daardie oomblik aanskou. Op ʼn ander dag sou ek hom dalk nie eers raakgesien het nie, want hy is so klein, maar op hierdie oomblik is dit soos ʼn klein reënboog van hoop.

Jak de Priester (Foto: Maroela Media)

Hy sit nie stil nie… hy fladder, beweeg in die rondte, spring op en af van die kragdraad, terwyl ek na sy konsert sit en kyk met my tweede koppie tee in my hand.

Skielik besef ek dat hierdie voëltjie so klein is in die konteks van die wêreld, maar dat hy die belangrikste doel op aarde het. Hy is die mooiste weergawe van homself… en sonder dat hy weet, verander hy my dag in ʼn goeie dag. Sonder dat hy weet is sy fyn tjirpgeluide soos ʼn engel wat met my praat. Sy helder kleure is soos ʼn teken van hoop en voluit leef. Maak nie saak wat om ons gebeur nie, ons moet ons kleure wys! Al is dit net een mens wat jou raaksien. Ons moet ons liedjie sing, want dit verander dalk een mens se dag in ʼn beter dag. Ons moet glimlag vir die wat oor die pad stap, want dit maak dalk een mens se dag en ons moet gee (net as ons kan) en help waar ons hart vir ons wys ons moet help. Ons moet mekaar op die rug abba. Nie die hele wêreld nie, dis onmoontlik, maar net een op ʼn slag soos die sonvoëltjie voor my op die kragdraad.

Ek toe dink ek by myself dat God gereeld voëls oor my lewe stuur. ʼn Mossie op ʼn sent in Londen, sodat ek weer glo dat ek nie vergete is nie en ʼn klein suikerbek-sonvoëltjie op ons stoep in Somerset-Wes, net om my te herinner… alles sal oukei wees.

Lekker tee drink!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Blomme ·

So pragtig en goed gestel. Dankie vd herinnering om om te gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.