Koppieteefontein: Spore

Argieffoto (Foto: H Shaw/Unsplash)

Wanneer ’n mens in Kleinmond langs die see in Kusweg afstap, word jy van alle kante af omsingel deur die skilderkwas van die Skepper (soos die digter sou sê.) Dis kragtige kontraste van skoonheid en fabelagtigheid en simbole van hoop en heiligheid. Dis magies. Dis ’n feesviering vir jou siel. Dit vul jou hart met blydskap en beloftes.

Aan die een kant hoor jy die bulderende stem van die magtige see, donkerblou en ernstig soos ’n dreigende donderstorm met spierwit kolkende waterskuim en branders wat meters hoog in die lug breek soos ’n humeurige dramaturg wat sy stem met handgebare en woorde uitspoeg. Jy voel die see se sproei op jou wange soos ’n nagedagte van iets besonders. Iets hemels. Die konkrete bewys dat iets heiligs aan jou raak.

Op ’n volgende dag is die see stil en bedees, turkooisblou en rustig soos ’n eiland met palmbome en stil sonsondergange en mense en bootjies wat prentjies in die verte maak asof met houtskool geskets.

Terwyl ’n mens stap, sien jy die rotse en wonder hoe lank hulle daar vasgemessel en trots staan. Jy sien die fynbos en wilde proteas en wegkruipplekke van dassies. Later volg jy ’n wandelpaadjie deur die bosse, verby geel en oranje blommetjies en rus op houtbankies met onbekende mense se name op. “Laura se wandelpad” lees ek en stap verder.

Met die terugkoms stop ek by “DF Malherbe se stoel.” Hier het die legendariese skrywer gesit en kyk na die diepblou see. Agter my loer die seehuisie waar hy gewoon het. Daar is ’n bordjie waarop staan “Hans-die-skipper”.

En ek dink by myself, terwyl ek daar staan… wat het DF Malherbe gesien toe hy jare gelede hier gesit het? Dieselfde sprokiesagtige tonele? Die see, die rotse? Die lewe, die liefde, die dood?

Hoe was die lewe toe? ’n Ander tyd. ’n Ander wêreld. Tog, dieselfde uitsig waar ek nou staan en kyk na die see. Hier waar ek nou staan met die son in my oë, was DF Malherbe se stoel. ’n Afrikaanse kampvegter, digter, dramaturg en ewigdurende student van die lewe. Iemand wat nie weggekruip het vir sy hart nie.

“Dis vandag nege jaar gelede ná die ongeluk,” sê my vrou, Michelle, en kyk na haar arm wat steeds die littekens dra van ’n noodlottige motorongeluk jare gelede in KwaZulu-Natal.

“Ek wil graag my ma se as hier in Kleinmond strooi.”

Ek kan nie glo ons het Ouma Bettie se as in ’n houtkissie na drie dorpe en ses huise saam met ons getrek nie. Michelle wag nog al die jare vir ’n plek waar sy kan sê: “Hier wil ek my ma se as strooi.”

Vandag, is die dag. Hier in die see by Kleinmond, waarheen ons altyd kan terugkom… hier wil ek met ’n geruste hart groet.

“Dan maak ons so,” sê ek.

Jak de Priester (Foto: Maroela Media)

Die dag is spesiaal. Die kinders word voorberei. Ons pak ’n sak met snacks en koeldrank… en natuurlik, die houtkissie met Ouma Bettie se as in.

Ons stap in die pragtige Kusweg. Daar is reeds ’n emosionele stemming in die lug en die see verstaan presies hoe ons harte voel. Michelle het wit rose gekoop.

Die mooiste dag in Kleinmond is vandag. Die weer is perfek. Die lug is blou, die see is gasvry. Ek dra die rugsak met die snacks en Ouma Bettie se as oor my skouer.

“Waar gaan ons dit doen?” vra ek.

“Daar! By die poele,” sê Jamie.

“Nee, ek weet…” sê Mija.

“Ek wil rotse klim,” sê Mika.

Ons stap op die wandelpaadjie. Die gekleurde blommetjies glimlag vriendelik. Dit maak alles makliker. Die branders breek, maar nie te hoog nie. Die seemeeue sing, maar nie te hard nie. Die son skyn, maar nie te skerp nie. Alles is perfek om vir Ouma Bettie te groet.

Later kry ons die perfekte plekkie.

“Hier!” sê Michelle met sekerheid.

Dis ’n groot besluit. Ons wag al nege jaar vir die regte plek. En hier is dit nou.

“Hiér.”

Ons maak onsself tuis tussen rotse en seesand. Ons trek ons skoene uit. Ons het niks 100% beplan nie, maar die oomblik lei ons. Die asemrowende skoonheid van Kleinmond bevestig ons besluite. Dan kry elkeen ’n beurt om iets te sê.

Mija wil eerste. Sy is soos ’n engel. Sy praat die mooiste woorde oor Ouma Bettie, asof sy haar kan onthou… soos gister.

“Ouma Bettie… ek sal jou mooi oë onthou en ek het ’n boks met van jou briewe en juwele. Ek kyk altyd in die boks as ek jou mis. Dan voel ek beter. Wens jy was nog hier om my te sien dans.”

Mija sit een wit roos in die water.

Sy het die stemming vir die geleentheid presies reg geskep. Ek het nog altyd geweet daar is iets baie spesiaals omtrent haar. Sy het ’n dieper gevoel vir die lewe. Sy is soos ’n jong, klein digter met haar woorde en gedagtes.

Almal kyk vir Jamie.

“Jou beurt!” sê ons.

Jamie wil niks sê nie.

“Jy moet!” sê Mija.

“Los vir Jamie,” sê Michelle.

Mika wil iets sê. Hy is vier jaar ná die ongeluk eers gebore. Hy ken glad nie vir Ouma Bettie nie, maar hy glo hy ken haar en sy ken hom. Hy sê die diepste woorde, al is hy net vyf.

“Ouma Bettie… ek is bly ons groet jou by Kleinmond, want ons sal altyd hierheen kom om jou weer te sien. My ma sê Kleinmond is die hemel, so ek weet jy is in die hemel.”

Michelle lag deur die trane. Mika gooi sy wit roos in die see en vra of hy van die tjips in die rugsak kan kry.

“Eers as ons klaar is,” sê ek.

“Nee, ek wil nou!” probeer Mika die rugsak oopmaak, onbewus van sy kragtige toespraak.

Later is dit my beurt om te praat. Ek probeer so tussen die groet en die trane ook vir die kinders vertel hoe kosbaar ons tyd hier op aarde is. Saam. Hier. Nou. En dat tyd verbygaan.

Ek gooi my wit roos in die water.

En toe is dit Michelle se beurt. Sy stort haar hart uit en gooi haar wit roos ook in die see.

“Oukei, ek sal ook iets sê,” kom dit van Jamie.

Ons wag in spanning.

Foto ter illustrasie. (Foto: Verskaf)

Jamie dink ’n oomblik. Hy lyk skielik so groot. Soveel groter as toe ek daardie aand om middernag by die hospitaal in Natal aangekom nadat ek die nuus gekry het van die ongeluk. Ek moes van Oudtshoorn tot in Natal reis om by hulle uit te kom. Ek onthou… hy en Mija het in klein hospitaal-kinderbedjies gelê. Steke in die kop. Mija se een oortjie potblou gekneus. Ek het net daar by hulle gesit. Deur die nag. Emosies vlak. Bekommerd oor Michelle. Hartseer oor Ouma Bettie. Skepties oor die lewe.

“Ek mis jou, Ouma Bettie… hoop jy kyk vir my uit die hemel uit as ek tennis speel.”

Hy dien die laaste wit roos asof dit ’n tennisbal is.

Ek en Michelle is in trane. Dis so mooi. Elke kind het sy eie styl. Elke mens loop sy eie pad, los sy eie spore.

Ek haal die houtkissie uit die rugsak. Ek wil dit oopmaak, maar dis styf vasgeskroef en ek het nie ’n skroewedraaier nie. Hoe gaan ons die kissie oopmaak en die as oor die water strooi? Dalk kan ons dit net so ingooi…dis swaar, dalk sal dit sink. Nee, dit gaan nie werk nie, dis hout. Die houtkissie sal op die seewater dryf. Wat nou?

“Los dit net so!” sê Mija.

“Nee, wat as Ouma Bettie op die swemstrand uitspoel?” sê Jamie.

Ek en Michelle lag deur die trane. Kan jy jouself voorstel: ons gaan swem later en hier kom Ouma Bettie oor die branders aangespoel.

Plan B. Ek en Jamie klim oor die rotse. Ver. Nog verder. Nóg verder. Tot ons ’n skeur vind. ’n Diep skeur. Ek dink ek het die plek gekry, Jamie.”

Ons laat sak Ouma Bettie se houtkissie met haar as in die diep skeur. Ons kry groot klippe om die mond van die skeur toe te maak en te sorg dat dit daar bly. Die see is rof, wie weet…

Ek en Jamie klouter terug oor die rotse.

“Ek hoop nie sy kom spook hier nie,” sê Jamie ernstig.

“Tyd vir piekniek,” sê Michelle. “Ouma Bettie was mal oor snacks.”

“Is dit hoekom sy bietjie vet was?” vra Mika heel onskuldig en spring rond van opgewondenheid.

In die beste weer ooit, geniet ons die piekniek tussen die rotse en kyk hoe die wit rose dryf en nie wil wegspoel nie.

Later daardie middag het ek op my eie weer langs die see gaan stap en met die terugkoms, soos gewoonlik, by DF Malherbe se stoel gaan staan en gekyk na die see. Die water was weer eens anders. Asof hy vir Ouma Bettie met ope arms ontvang het en met haar gedans het op ’n Elvis-treffer. Haar gunsteling.

‘n Koppie tee en happies. (Foto: Vanessa Bucceri/Unsplash)

Hy’t sy stem laat hoor. Ek het gewonder hoeveel geliefdes se as al oor die jare in die see gestrooi is. Dis dalk hoekom die see soveel verskillende persoonlikhede het? Eendag rustig soos Ouma Bettie en die ander dag weer poëties soos DF Malherbe. Laura se wandelpad. Cobus en Gerdi se bankie. Jana se rots. Tannie Anna se klip. So laat ons herinneringe agter. So laat ons spore in die sand. Dit wat ons doen, die woorde wat ons sê, die liefde van ons harte – dis die spore wat ons agterlaat.

En almal kan nie skrywers wees soos DF Malherbe nie. Almal los dalk nie ’n voorgeskrewe novelle agter vir die nageslag om te lees nie, maar tog los elkeen ’n herinnering. Jou eie storie. Jou kinders se storie. Jou kleinkinders s’n. Vir jou vriende. Vir die mense in wie se lewens jy ’n verskil gemaak het.

Ons los agter wat en wie ons was. Ons los agter hoe ons mense laat voel het. Dalk nie woorde in ’n boek soos DF Malherbe nie, maar herinneringe in die harte van jou kinders, soos Ouma Bettie vir ons.

Wat mis ek van haar? Baie. Maar vir nou, as ek nog een keer kon?

’n Lekker koppie, sterk tee, soos net sý dit kon maak!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Racheltjie Debeer

Dis so pragtig geskryf! Ai Jak, jy toor met woorde. Ek geniet jou rubrieke vreeslik baie.