Koppieteefontein: Vroeg uit die vere – op pad werk toe

Jak de Priester. (Argieffoto.)

Vanoggend vroeg, net ná 06:00, staan ek met ’n koppie tee op ons stoep en staar in die verte. Daar speel ’n eekhoring op ’n kragdraad voor my. Hy is ook vroeg aan die gang, dink ek.

Ons woon net so bo die voet van die Helderberg in Somerset-Wes en in die verte sien ek die see. Ek sien Strand se groot woonstelblokke en agter die woonstelblokke sien ek wit geboue wat deel uitmaak van die Somerset-Wes-winkelsentrum. Vir my, persoonlik, is net ná ses in die oggend vroeg. Maar duidelik is daar baie mense wat reeds op pad werk toe is as ek kyk na die motors wat doer ver op die hoofpad ry.

Dis maar meeste mense se lot, dink ek. Vroeg op pad werk toe. Lippe teen die klippe.

Jou salaris is jou salaris. Jou verlof is jou verlof. Jou tyd is nié jou tyd nie. As die wekker lui, moet jy opstaan. Of jy wil of nie. Geld is jou baas. Hoe minder die geld, hoe strenger die baas.

Ek was in my lewe nog net deel van twee professionele beroepe. Onderwys en eiendomme.  Musikant-wees, sien ek nie as ’n werk nie. Dis meer ’n gawe of ’n voorreg, waarmee jy ook geld kan verdien, maar nie ’n werk nie. Dis ’n talent wat jy moet ontwikkel en koester en deel.

’n Regte werk is ’n plek waarnatoe jy moet gaan. Jy moet aanmeld. Hulle betaal jou om aan te meld. Jy moet verslag lewer. Dis baie uitputtend en jy leef slegs vir naweke.

Ek onthou my dae as onderwyser in Londen. Ek was die Duitse onnie. Platsak, toe ek daar begin het, met ’n Suid-Afrikaanse studielening wat ek moes terugbetaal. Dankbaar vir die werk. Elke dag trek ek mooi klere aan. Ek berei voor. Ek wil ’n verskil maak in kinders se lewe. Ek het geglo ek het ’n passie om kinders iets te leer, soos in die fliek Dead Poet Society wou ek hulle lei en hul lewens verander.

Engeland is nie vir sissies nie, veral nie vir onderwysers nie. Dag 1. Soos wat ek die leerders se Duitse handboeke uitdeel, gooi hulle dit op die vloer neer. Laggend, tartend. Dan stap ek weer om, tel dit op, en probeer rondte nommer twee. Ek koes vir ’n uitveër. Die rommel lê oral. Vir 50 minute lank probeer ek orde skep, geen sukses. Net chaos, wanorde, disrespek. Ek doen later ’n skietgebed. Ek praat hard sodat hulle my kan hoor, dan praat ek sag dat hul moet luister, ek juig, ek sit, ek staan, maar geen belangstelling in my passie as onderwyser nie. Almal hanteer my soos iemand wat onbelangrik en ongevraagd in die klaskamer opgeduik het.  Ek was bloedjonk. Twee en twintig om presies te wees. Vrystaatkind. In my eie skooljare was daar nog lyfstraf.

Dag 2 in Londen probeer ek weer. Ek is gepantser met gebed.  Ek trek mooi klere aan, mooi skoene, sodat niemand kan vinger wys dat ek nie moeite doen nie. Ek is voorbereid, geleerd, gegradueer!

Soos pêrels voor die swyne…

Elke dag was dieselfde. Geen sukses met die kinders nie. Later het ek geleer om die mishandeling te hanteer. ’n Mens raak harder, ongelukkig, en dis moeilik om die passie vir jou vakgebied te behou.

Soms is daar een kind wat na jou luister. Net een kind wat belangstel in wat jy te sê het. Een kind wat onbewustelik jou menswees respekteer. Een kind wie se lewe jy kan aanraak. Dit maak dit nie makliker nie, maar dit maak alles soms die moeite werd.

Laas naweek sing ek iewers in die Kaap. Vyftig gaste. Die inperking het nuwe lewe in elkeen van my liedjies geblaas. Ek sing asof ek reg voor die hemelpoorte staan en sing. Ek gee alles.

Argieffoto (Foto: ArtTower/Pixabay)

Daar is een tafel met vroue. Ek maak ’n opmerking oor skole. Hulle reageer. Ek besef hulle is onderwysers. Later is ek oortuig dat hulle onderwyseres is. Dis iets omtrent hulle. Hoe hulle lag, praat en mekaar verstaan. Die absolute sout van die aarde. Goeie mense. Passievolle mense. Lieflike mense, maar móég.

Is dit nog lekker om skool te hou, vra ek na afloop van die vertoning.

Daar is ’n huiwering. Niemand antwoord met oortuiging nie.

“Dis moeilik,” antwoord die een juffrou.

“Moeilik?” vra ek uit.

“Ja, die Covid het alles verander.”

“Weet ek dit nie,” sê ek in ’n ligter luim.

“Ons werk nou dubbel so hard en lank, oggend- en middagsessies… en nog online ook,” sê die ander juffrou.

“En daar is nie eers ’n pouse nie!”

Stilte.

“Die department weet ook nie eintlik wat ons moet doen nie… dit verander elke week.”

Stilte.

“Ek gee dieselfde klas 14 keer oor,” verduidelik die ander juffrou.

“Ons is moeg, man! As ek nóú die lotto moes wen, sal ek bedank.”

Hulle deel ’n derde bottel rooiwyn.

“En niemand waardeer ons nie…die kinders is nie meer gewoond aan skool of dissipline nie en die ouers verwag ons moet wonderwerke verrig.”

“Dis ’n gemors, man!”

“Dis eintlik glad nie meer lekker om skool te hou nie en die hoof verwag baie van ons. Shame, hy doen ook maar net sy bes.”

“En die maskerdraery ook…niemand kry asem nie…en geen afperiodes nie. Jy kry nie eens kans om ’n koppie tee te maak nie.”

Toe die kraantjie eers oop is, toe vloei dit.

“Verdien julle darem meer geld vir al die ekstra werk?” gooi ek olie op die vuur.

Later daardie aand toe ek terugry huis toe, het ek die onderwyseresse se woorde in my kop oorgespeel. Ek het gedink hoe hulle bymekaar staan en mekaar se wêreld deel en verstaan. Daar is min werkplekke in die lewe waar mense so saam kan staan soos in ’n skool. Dis waar kinders hul sterk fondamente van menswees leer.

Die aand se gesels het my opnuut laat besef dat ’n goeie, passievolle onderwyser, wie sy of haar lewe daar wy om kinders te leer, engele op hierdie aarde is. Ek wonder soms of daar genoeg na hul welsyn omgesien word. Onderwysers is net mense. Mense met ’n lewe buite die skool. Mense met hart en siel en soms ook ’n slegte dag. Mense wat nie noodwendig genoeg geld verdien vir die belangrike werk wat hulle verrig nie.

Hoe sê mens dankie? Waardeer ons hulle genoeg?

Elke dag laai ons ons kinders by die skool af en verwag ’n wonderwerk van die onderwysers. Ons vergeet soms hulle is ook mense…mense met behoeftes en emosies en harte. Ook mense met hul eie kinders. Kinders kan ook soms so maklik op die hart van ’n onderwyser trap. Ons gooi die Duitse boeke op die grond neer…

Die tweede professionele werkplek in my lewe, het eers die afgelope drie maande oor my pad gekom. Chas Everitt Internasionale Eiendomsmaatskappy. Dis ’n mondvol.

(Foto: Schluesseldienst/Pixabay)

Ek was die laaste 16 jaar nog altyd besig met eiendomme – rustig, op my eie manier. Hier gekoop, daar verkoop. Reggemaak, weer verkoop, ensovoorts. Die laaste byna drie maande het ek gesien hoe hard eiendomsagente werk. Ek het geleer hoe intens die beroep kan wees. Harde werk. Lang ure. Moeilike ure. Deursettingsvermoë. Opwinding. Teleurstelling. Passie. Alles in een.

Ná my derde week as nuweling by die maatskappy in Stellenbosch, het ek dit goed gedink om Area Agent-bordjies (met my naam op) in Paradyskloof te gaan inslaan, sodat mense van die area kan weet dat ek die man is wat in al hul eiendomsbehoeftes kan voorsien.

Met ywer het ek my bordjies en ’n hamer in die motor gepak en Paradyskloof toe gery. Ek het gery en gery, maar nêrens kon ek die moed bymekaar skraap om uit te klim en ’n bordjie in te slaan nie. Later stop ek my motor waar dit stil lyk. Ek klim uit met ’n bordjie. Dis ’n gesukkel. Dan mik-mik ek in die rigting van ’n oop stuk sypaadjie. Skielik kom ’n motor om die hoek gery. Ek kry so skaam ek hardloop terug na my motor toe. Toe die motor ver verby is, probeer ek weer. Ek probeer die bordjie inslaan, maar die grond is hard. Skielik kom ’n motor by die erf uitgery. Ek wou nog weghol, maar dis te laat. Die vensterruit word oopgedraai.

“Hallo!” groet ’n klokhelder, vriendelike stem my. “Sien ek reg?”

Ek probeer voor die bordjie staan om dit half weg te steek.

“Jak de Priester?”  groet die dame met ’n toon van verbasing in haar stem. “Wat doen jy hier?”

Ek staan met my Area Agent-bordjie agter my rug.

Dan besef ek, hoe op dees aarde gaan ek myself bemark, as ek te skaam is om die bordjie in te slaan.

Ek verduidelik aan die vriendelike dame.

“Dis wonderlik,” sê sy. “Ek kry julle kunstenaars so jammer. Die Covid-ding het julle darem hard geslaan. Ek sal al my vriendinne vertel… dalk weet hulle van ’n huis of ’n ding. Kap gerus jou bordjie in!” groet sy en ry weg.

Ek klim in my motor. Is daar nie ’n ander manier nie, wonder ek. Hoe gaan ek ooit ’n huis vind om gelys te kry?

Ek ry terug ná ’n lang dag. Suksesvol? Ek weet nie. Oral sien ek For Sale-borde van ander agente. Ek kry skielik nuwe respek vir mense in die eiendomswêreld. Geen eiendom kom na jou toe aangeloop nie. Dis harde werk. Dit bring jou op jou knieë.

Wat behels dit om in die eiendomswêreld te werk? Die moed om ’n bordjie (met jou naam op) in die grond langs die pad in te slaan, terwyl die motors verbyry. Die duisende oproepe na vreemde nommers om dalk een moontlike huis te kan lys. Die kennis, die passie om een gesin se jare lange familiehuis met respek te hanteer en te verkoop en vir ’n ander man sy droomhuis te vind.

Menseverhoudinge. Kontrakte wat soms deur die mat kan val. Maande se wag voordat jy die vrugte van sukses kan pluk en hier dink almal dis die maklikste beroep op aarde.

Ek is besig om my voete by Chas Everitt op Stellenbosch te vind, en ek roer my voete! Maar ek het opnuut deernis geleer vir die beroep van mense in die eiendomswêreld. Die emosies van verkopers wat ná jare (soms ’n leeftyd) hul huis in die mark sit, en waarmee jy sensitief te werk moet gaan. Die verantwoordelikheid om die regte kopers te vind. Die teleurstelling wanneer dinge nie uitwerk nie. Die oorbegin. Die geduld. Die verdraagsaamheid van die mensdom.

Amper dieselfde as vir ’n onderwyser.

Gisteraand vra ek my oudste seun ’n vraag net voordat hy gaan slaap. “As iemand by jou nuwe skool vir jou vra wat doen jou pa vir ’n lewe, wat sal jy antwoord?”

“Hy is Jak de Priester!” antwoord hy.

En dit was my antwoord. In hierdie wêreld waarin ons leef. Of jy ’n onderwyser is, of ’n eiendomsagent, of ’n prokureur of ’n rugbyspeler of bloot ’n ouer is, wéét wie jy is.

Dus, vandag wil ek ’n groot pot tee maak… en ’n sterk koppie tee drink op hierdie twee eerbare beroepe.

Op elke passievolle onderwyser, wat deur hierdie moeilike tye van Covid-19 – steeds met ’n glimlag onder ’n masker – elke kind se behoefte na aan hul harte hou. En een les oor en oor aanbied, tot vervelens toe. Julle mag mos nie moeg raak nie. Jou stem mag nie hees word nie. En jy mag nie kwaad raak nie, en ek hoop jy het nou al die online-ding onder die knie. Ek drink ’n sterk koppie tee op julle.

En vir elke eiendomsagent, wie sy of haar For Sale-bordjie met trots en passie inslaan en soms lank moet wag vir daardie kommissie en vir nie ’n sent meer nie. Daardie kommissie verdien jy!

Sonder julle sou daar geen oplossing vir baie mense se probleme gewees het nie.

Lekker tee drink!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bosveldbul73 ·

Baie dankie vir hierdie heerlike tee-breek! Jy was, is, en sal altyd een van my heel-gunsteling kunstenaars bly. Sterkte en blessings vir jou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.