‘Kosbaarste besittings’ vind veilige tuiste by Erfenisstigting

Die houtskoentjie en die foto van Willem Schalk du Toit. (Foto: Verskaf)

Die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument het ’n skenking ontvang wat meer as ’n eeu en ’n half oud is.

Maria Elizabeth du Toit (96) het onder meer ’n foto van haar oupagrootjie aan die stigting geskenk.

Die foto van Willem Schalk du Toit is in 1857 geneem toe hy 19 jaar oud was en bewaar in ’n klein houtboksie wat met fluweel beskerm is.

Wat ʼn mens van Du Toit se geskiedenis opval, is dat hy op 23 Maart 1838 gebore is, bykans ’n maand en ’n half nadat die Zoeloe-koning Dingaan die Voortrekkerleier Piet Retief vermoor het.

Du Toit, of “Lang Willem” soos hy bekend gestaan het, is in 1905 oorlede, wat beteken hy het in die tyd van die Groot Trek en Anglo-Boereoorlog geleef.

Du Toit was ’n transportryer in die Kaapkolonie – dit was destyds ’n reisende winkel wat goedere aan mense in meer afgeleë gebiede verkoop het.

’n Artefak van haar oupa, Richard Henry Chipps, aan haar ma se kant het ook deel van haar skenking uitgemaak.

Chipps was ’n krygsgevangene tydens die Anglo-Boereoorlog wat in die St. Helena-krygsgevangenekamp aangehou is.

(Foto: Verskaf)

Die klein houtskoentjie het hy self uitgekerf terwyl hy in aanhouding was.

Maria vertel haar oupa het die skoentjie vir haar present gegee toe sy ’n klein dogtertjie was.

“My oupa het my vertel ek was seker een of twee toe speel ek met die skoentjie. Ek het dit toe probeer aantrek en hy het so lekker gelag. Hy het dit toe vir my present gegee. Dit is definitief my kosbaarste besitting,” vertel sy met groot emosie.

Sy is die enigste kind en is nooit getroud nie; Du Toit het dus geen naasbestaandes nie.

“Ek is alleen en ek het niemand om my goed voor te gee nie. Ek is net so bang dit beland op ’n ashoop. Maar nou weet ek darem dit is in goeie hande by julle,” sê Du Toit.

Isabel Groesbeek, van die FAK se Genealogielessenaar, het navorsing oor die familie se geskiedenis gedoen en het die stamlyn van name en familielede van Du Toit bevestig.

Petra Luus, museumkurator by die Erfenisstigting en die Voortrekkermonument, sê daar is ook ander artefakte van die Anglo-Boereoorlog in die museumstoor en volgens geskiedkundige navorsing en oorvertelling lyk dit of die houtskoentjie wel uit daardie tyd dateer.

Sy het verskeie ander stukke en argiefnavorsing wat sy gedoen het aan die Erfenisstigting geskenk, wat nog bestudeer sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.