Koshuisinwoners neem grootouers by tehuise aan

Die inwoners van Azalea-koshuis aan die UP het 40 briewe vir die inwoners van Ons Tuis-aftreeoorde geskryf. (Foto: Verskaf)

Toe Michelle Kretzschmar van Ons Tuis se “Neem ʼn grootouer aan”-projek hoor, het sy dadelik geweet dit is die soort sorgsame projek waarby sy studente betrokke wou kry.

Kretzschmar (20) is onlangs as huiskomiteelid van die Azalea-koshuis van die Universiteit van Pretoria (UP) verkies. Sy meen dié projek was die perfekte pasmaak vir haar koshuis se gemeenskapsprojek.

“Hoewel die meeste van ons inwoners geseënd is om grootouers te hê, of gehad het, het ek geleer dat kinders en studente soms bang is om met ouer mense tyd deur te bring.

“Ons betrokkenheid by die projek het egter ons oë geopen. Ons het die geleentheid gehad om hierdie mense te leer ken en selfs te leer uit hul ongelooflike en interessante ervarings,” het Kretzschmar gesê.

Sy het vroeër die maand ongeveer 40 briewe wat die Azalea-meisies geskryf het by Ons Tuis se aftreeoord in Riviera en die senior tehuis se dienssentrum uitgedeel. Nog briewe is verlede week aan Ons Tuis: Louis Trichardt en Ons Tuis: Van Rensburg in Danville afgelewer.

Te midde van die derde Covid-19-vlaag was die veiligste opsie om slegs een persoon die afleweringswerk te laat doen, maar die studente is hoopvol dat hulle almal later die geleentheid sal hê om persoonlik met hulle pas aangenome grootouer in gesprek te tree.

“Die uitdeel van die briewe was so ʼn besonderse ervaring. Een van die vroue het sommer dadelik haar brief geneem, oopgemaak en dit begin lees.

“Ek is passievol oor hierdie projek en wil hê ons moet die res van die jaar daarmee aanhou. Ek kan beslis nie wag vir ons volgende afspraak met die Ons Tuis-inwoners nie,” het Kretzschmar bygevoeg.

Michelle Kretzschmar glo die projek sal studente die geleentheid gee om meer van ouer mense se ervarings te leer. (Foto: Verskaf)

Kretzschmar wil die publiek ook aangemoedig om deel te woord van die Neem ʼn grootouer aan-projek. Dit behels dat jy die projek se afdeling op Ons Tuis se webwerf besoek, ʼn aftreeoord in jou omgewing kies en iemand op die lys kies met wie jy ʼn belangstelling deel. Jy het dan die geleentheid om met die bejaarde in gesprek te tree en met hom of haar te kommunikeer deur middel van SMS’e, e-posse of handgeskrewe briewe. ʼn Mens kan die inwoner ook finansieel ondersteun of ʼn bederfpakkie van jou keuse aan hulle te stuur. Die hele proses is noukeurig beplan, beheer en word veilig gedoen.

Die briewe is deel van Azalea-koshuis se gemeenskapsprojek wat uitreik en teruggee aan bejaardes. (Foto: Verskaf)

“Dit het nie veel gekos om ons studente aan boord te kry vir hierdie lonende projek nie. Ons eerste missie was om ʼn brief aan ons elkeen se nuwe grootouer te skryf.

“Ons studente het baie moeite gedoen en het werklik uit hulle harte geskryf. Die meeste van hulle het begin om ‘hallo’ te sê en het hulleself voorgestel deur te skryf oor wie hulle is, wat hulle tans studeer en wat hulle graag doen. Nou wag ons opgewonde op terugvoer en om meer te leer oor die grootouers wat ons aangeneem het.”

Volgens dié tweedejaar BSc-mikrobiologie-student kom die aansporing om aan hierdie inisiatief deel te neem van die ouderdomsgaping tussen Azalea-studente en die inwoners van die Ons Tuis-aftreeoorde.

“Ek dink hulle moet hul lewensverhaal met ander kan deel. As studente is ons op die punt om ons eie lewens te begin. Om te hoor wat mense deurgemaak het en waar hulle nou is laat ʼn mens besef dat enigiets kan gebeur. As ek die Ons Tuis-inwoners se stories hoor, maak dit my opgewonde om my lewe voluit te leef,” sê sy.

In hierdie Covid-19-periode waar die enigste konstante verandering is, is hierdie projek, wat aan al die gesondheid- en veiligheidsvereistes voldoen, die perfekte uitreik- en gee-geleentheid.

“Vir ’n verandering kan ons al ons energie belê in iets wat nie verskuif of gekanselleer word nie. Azalea se leuse vir 2021 is liefde. Daar is geen beter manier om ons liefde aan die ouer geslag te betoon nie as om hulle te wys dat ons alles waardeer wat hulle gedoen het vir ons en om te vier dat hulle werklik ’n ongelooflike onmisbare deel van ons samelewing is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sarel ·

Eerstens baie dankie vir die uitreiking.
Glo my daar is baie oues van dae wat eensaam is, was al beskryf as vandag se armoede.
My probleem is egter wanneer daar ‘n band gevorm.word dan weer verbredk word sodra
Student afstudeer het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.