‘Kospakkie is soos ’n Kersgeskenk’

Elize Bezuidenhout van Ons Plek in Derdepoort. (Foto: Verskaf.)

“Vir my is dit die ergste om nie die kinders te sien nie. Ons bied vir baie van hulle ʼn plek waar hulle vry en veilig kan voel, en gevoed word. Hier kan ons hulle monitor vir gedragsveranderinge en dan dadelik ingryp. Maar nou, met die inperking, kan ons nie.”

Só sê Elize Bezuidenhout wat byna twee jaar al aan die stuur van Ons Plek Derdepoort is. Hierdie gemeenskapsentrum dien hoofsaaklik as ʼn naskoolsentrum vir leerders van agt omliggende skole wie se ouers nie naskoolfooie kan bekostig nie. Die kinders word by die skool opgelaai en sentrum toe gebring, waar hulle dan ʼn voedsame gekookte ete ontvang, asook hulp met huiswerk en eksamenvoorbereiding – alles gratis. Die sentrum se drie personeellede help tans 50 kinders tussen gr. R en gr. 10.

Die naskoolsentrum moes uiteraard sluit toe die skole weens die Covid-19-pandemie gesluit het. Dit het ʼn krisis meegebring, want meer as 90% van die kinders se eerste en enigste maaltyd was by Ons Plek. Ses van die ouers, wie se kinders die naskoolsentrum bywoon, het ook reeds hul werk verloor as gevolg van Covid-19.

“Ons moes begin kospakkies bymekaarsit en versprei om te verseker dat die kinders steeds ʼn voedsame maaltyd kry. Logies moes ons toe vir die hele gesin begroot en nie net vir die kind in die sentrum nie,” sê Bezuidenhout.

Die nood in die gemeenskap is egter so groot dat Ons Plek nie net kon bly fokus op die gesinne en die kerk op wie se terrein hulle die sentrum bedryf nie, maar moes inspring om die gemeenskap self ook by te staan met ʼn tweeweeklikse kospakkie, hulp en ʼn oor wat kan luister.

Dít is moontlik gemaak deur ʼn bydrae van Solidariteit se krisisfonds. “Die krisisfonds het ons gehelp om die gesinne, die kerk en die gemeenskap by te staan – altesaam 80 gesinne het al kospakkies by ons ontvang, asook verskeie organisasies en huise vir bejaardes. Die krisisfonds het ons staande gehou sodat ons hulp kon gee aan die weerloosstes in die gemeenskap,” sê Bezuidenhout.

Daar is soveel dankbaarheid, voeg sy by. ʼn Tannie wat ʼn kospakkie gekry het, het spesiaal koeksisters gebak en vir Ons Plek se personeel gebring om dankie te sê. Nog iemand het ʼn boodskap gestuur wat sê dat om die kospakkie oop te maak is soos om ʼn Kersgeskenk oop te maak.

Sy vertel dat die hulp met huiswerk egter ʼn nagmerrie is, aangesien sommige ouers nie die tyd of vermoë het om te help nie. “Een ouer, wat gedink het haar kind is ʼn stroopsoet engeltjie, laat weet my nou die dag, ‘nee magtag Elize, hoe doen julle dit, hy wil nie luister nie! En wat is uitgebreide notasie? Nee magtag man, ek kan nie die goed doen nie.’ Dan lag ek maar net. Ons het huiswerk gedruk en telefonies gehelp waar ons kon.”

Niebederfbare voedsel en vars vrugte is altyd op Ons Plek se wenslysie. Maar hul grootste nood is aan ʼn minibus om die kinders na die sentrum te vervoer. “In hierdie stadium is my grootste bekommernis om die kinders van die skole na die sentrum te kry en sosiale distansiëring toe te pas met die vervoer. Tans kan ons net twee kinders op ʼn slag aanry. As ons ʼn minibus kan kry sal dit beteken dat ons die kinders vinniger by die sentrum kan kry en meer tyd aan huiswerk en eksamenvoorbereiding kan bestee, eerder as om heeltyd heen en weer te ry.”

Ons Plek behoort volgende week weer vir die kinders te open. Maar die dae van sorgvrye speletjies is voorlopig verby. Nou moet daar aan streng voorsorgmaatreëls en sosiale distansiëring voldoen word.

Bezuidenhout vertel hoe ʼn kind nou die dag na haar toe aangehardloop kom, maar skielik in haar spore vassteek met groot, onseker oë. “‘Aikôna tannie, ek mag nie, maar hier is ʼn drukkie’, sê sy vir my en gaan druk toe sommer die naaste boom.”

Die lekkerste is om onverwags ʼn stemboodskap te kry wat sê, “ai wanneer maak tannie Lies oop – ek mis tannie baie en my ma sê sy kan nie meer huiswerk doen nie.”

Bezuidenhout bekommer haar oor ʼn klomp goed – om die gemeenskap se mae vol te hou, om die kinders deur hierdie jaar te kry sodat hulle nie agter gehou hoef te word nie, en om te sorg dat hulle vry en veilig kan voel te midde van die pandemie. Sy besef tydens die inperkingstyd opnuut dat ʼn mens niks as vanselfsprekend kan aanvaar nie – nie jou vriende nie, nie kinderlaggies nie en beslis nie vryheid nie.

“Ek was so paar weke terug regtig verby moeg – blou kolle van bokse dra, lyfseer en ek wou sommer nie opstaan nie. Maar ek sleep myself teen vieruur die oggend uit die bed en maak reg vir werk. Net na tienuur is daar iemand by die hek: ‘Tannie, ek wil gesels, ek kan nie meer nie.’ Ek het self nie krag nie, maar ek sluit oop en maak ʼn beker koffie. Toe ek weer sien stort ʼn volwasse man voor my ineen en huil soos ʼn baba. Ek weet ek moes daar wees dié dag. Ek moes help, want dit is net deur genade dat ek kán help.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jaco

Mag wit mense dan nou kospakkies kry? Daars soveel reëls rondom dit. In SA is daar ook mos maar altyd 2 stelle reëls afhangende van of wit mense of ramaphosa se “our people” betrokke is. Eks al amper skaam om te sê eks wit.

Nici

Nice storie maar ‘sosiale distansiering’ klink so simpel. Kan ons dit nie net ‘fisiese ruimte’ noem nie?