Koue, inperking stuit nie motorfietsryers se helpende hand

Motorfietsryers wag om hul pakkies af te lewer (Foto: Christa Steyn/Maroela Media)

Nagenoeg 250 motorfietsryers het Saterdag Solidariteit Helpende Hand se “Snoesige-Sop-Kombersrit” bygewoon. ʼn Mens sou dink dat die snerpende koue en inperkingsmaatreëls die opkoms sou beïnvloed het, maar allermins. Ongeveer 500 komberse en 700 houers sopbestanddele is afgelewer.

Omdat bepaalde reëls en regulasies steeds geld, is besluit om vanjaar ʼn “deurry-projek” van stapel te stuur. Motorfietsryers kon dus inry, wintersklere, komberse en droë sopbestanddele afgee en weer wegry, sonder dat dit nodig was om van hul motorfietse af te klim.

Dié geleentheid het van 10:00 tot 12:00 by Solidariteit se hoofkantoor in Kloofsig, Centurion, plaasgevind. Dit is in samewerking met Helpende Hande se Pretoria-Oos-streek en die hoofkantoor aangebied.

Kyk hier na ʼn video van Saterdag se Snoesige-Sop-Kombersrit wat deur Solidariteit Helpende Hande se hoofkantoor en die Pretoria-Oos-streek aangebied is:

“Ons kan nie almal help nie, maar almal kan iemand help. Ons wil deur dié projek die winter vir die ontvangers ’n bietjie makliker, ’n bietjie draagliker en ’n bietjie warmer maak,” sê Isabel Böning, streeksorganiseerder van Solidariteit Helpende Hand Pretoria-Oos-streek.

Van die Solidariteit Beweging se senior bestuurslede, waaronder Kallie Kriel, Deon Reyneke en Paul Mardon, het ook aan die inisiatief deelgeneem.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond Solidariteit, sê dat die inperkingstydperk ’n onsekere tyd is, waar mense swaarkry en dikwels min kontak met geliefdes het.

Isabel Böning, streeksorganiseerder van Solidariteit Helpende Hand Pretoria-Oos-streek, saam met van die motorfietsryers (Foto: Verskaf)

“In so ’n tydperk kom die mooi in mense na vore. Dit is ’n tyd van omgee en uitreik na mekaar,” sê Hermann. “Die Snoesige-Sop-Kombersrit, is so ’n geleentheid waar mense na mekaar kon uitreik om seker te maak dat ander versorg is.”

Die Solidariteit Helpende Hand Motorfietsklub, asook die Proudly Meerkat-groep, die Bombshelter Biker-kerk en die Pretoria Biker Council, het die inisiatief verwelkom en het ook hul bydrae gelewer.

Insamelingsprojekte wat in die wintertyd aangepak word, is ʼn jarelange tradisie onder motorfietsryers. Dié instansies se behoefte om ʼn verskil te maak het vanjaar voortgegaan, ten spyte van inperkingsmaatreëls en bykomende gesondheidsregulasies wat nagekom moes word.

Hannes Noëth, Dirk Hermann en Kallie Kriel het ook die geleentheid bygewoon (Foto: Christa Steyn/Maroela Media)

Weens die toenemende ekonomiese druk wat deur die Covid-19-pandemie veroorsaak word, is daar ’n groot behoefte onder tehuise vir bejaarde, huise vir persone met gestremdhede, kinderhuise en individuele gesinne vir winteritems en voedsel.

Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, meen die waarde van ʼn enkele kombers word maklik misgekyk.

“’n Mens kan baie komberse in jou huis en in jou kas hê, maar ’n mens vergeet die waarde daarvan totdat jy geen kombers het nie,” sê Noëth. “Die gee van ’n kombers is baie meer as om net die koue mee te verdryf en hitte te verskaf. Dit is ook die toevou in hoop in ’n tyd waar mense sonder hoop is.”

Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê die Covid-19-pandemie het weer bewys hoe noodsaaklik dit is om uit te reik.

“Covid-19 onderstreep opnuut die noodsaaklikheid van die Helpmekaar-beginsel in ons gemeenskap. Dit is ’n voorreg om ’n rol hierin te mag speel en ek nooi almal uit om dieselfde te doen. Raak betrokke, want sterk selfhelp-gemeenskappe is ons reddingsboeie in onstuimige tye.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Kliek hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Scalla ·

Dankie aan Hannes en sy lede vir die belangrike taak wat hul verrig, motorfietsryers moet nie altyd vlak gevat word nie,dit is seker die mees vriendelike en vrygewige groep waar nood is en wat nie skaam is om hul hart en beursies oop te maak nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.