Koue waters tussen Robbeneiland, Bloubergstrand stuit dié parapleeg g’n

Alwyn Uys het die 8 km se koue waters tussen Robbeneiland en Bloubergstrand aangepak. (Foto: Light Lounge Studio/Verskaf)

Deur Yolanda Wessels

Alwyn Uys, boorling van St. Francisbaai, se liefde vir die lewe en sport is geensins geblus ná sy lewensveranderende motorongeluk in 2014 op 24-jarige ouderdom, wat hom as parapleeg gelaat het nie. Hy staan geensins terug vir uitdagings nie en sy jongste uitdaging was om op 11 Desember 2020 die eerste parapleeg ter wêreld te word wat die 8 km van Robbeneiland na Bloubergstrand geswem het.

“Ek was altyd ’n buitemens en gek oor sport. Ek het drome gehad om professioneel ná skool rugby te speel.”

Hy het sy B.Com.-graag in kwantitatiewe bestuur voltooi met ’n honneursgraad in finansiële bestuur. Daarna het hy teruggekeer na die Oos-Kaap om vir sy pa te werk wat ’n vrugte-uitvoermaatskappy bedryf het. Dit is hier waar hy in die motorongeluk betrokke was.

“Ek het my oë net vir ’n sekonde van die pad weggeneem en beheer oor my motor verloor. Die motor het die pad verlaat en gat-oor-kop geslaan. Ek is uit die voertuig geslinger en het verskeie beenfrakture opgedoen (nek, femur, ribbes), waarvan die ergste die besering aan my rug was. Ek het ’n spinale koord-besering naby my T8-rugwerwel opgedoen en die prognose was dat ek nie weer sal kan loop nie. Ek is verlam van my bors af ondertoe. Dit is ’n wonderwerk dat ek vandag leef, maar op daardie oomblik kon ek nie sin maak hoekom dit juis met my moes gebeur nie.”

Deur alles, is God sy baken. Hy het geleer om op God te vertrou in moeilike tye en nie vas te kyk in sy eie realiteit en omstandighede nie.

“Toe ek my lewe begin terugkry en ’n normale lewe begin lei nadat ek verlam was, het dit gevoel of ek my grootste vrees en uitdaging in die wêreld oorkom het. Ek het gevoel ek kan nou enigiets te bowe kom.”

Hy moes ook ’n groot kopsprong maak om vanaf sy aktiewe en avontuurlustige ou self te verander na iemand wat nie meer alles kan doen soos voorheen nie.

“Of dit was altans my persepsie aan die begin, maar met verloop van tyd, het ek geleer ek kan steeds amper alles doen waarvoor ek lief is, maar net op ’n ander manier en toe ek dit ontdek, toe vind ek weer my vreugde en liefde vir sport, om aktief te wees en die buitelewe te geniet. Ek glo ek is geroep om sulke uitdagings aan te pak. Die Here gee my krag en dis eintlik ’n wonderwerk vir my om verlam te wees en dit te kan doen.”

Alwyn sê hy was op soek na iets wat hom regtig bang maak, maar terselfdertyd ’n groot uitdaging is. God het dié uitdaging in sy hart gesit en hy het dit deurgevoer.

“Die feit dat geen parapleeg in die wêreld dit nog ooit gedoen het nie, was ’n groot aantrekkingskrag vir my. Dit is ook ’n groot voorreg dat die Here my sou gebruik om so iets te doen. Boonop het ek iets gesoek wat my uitdaag, maar ook bang maak en om dit dan te oorkom. Dis ook waar my geloof inkom – ek het iets gesoek wat só uitdagend is, dat mense sal kan weet daar is geen manier wat ek dit op my eie sal kan doen nie, en dis hoe die Here sy krag sigbaar maak in my lewe. Ek gee alle eer aan die Here wat Hy in my lewe doen, wat Hy my in staat stel om te doen en vir die gawes wat Hy my gegee het. Só word die Here se krag ’n realiteit en sigbaar in my lewe.”

Alwyn is nie ’n swemmer nie en die groot oop see en uitgestrekte afstand wat hy moes swem het hom nogal bang gemaak. (Foto: Light Lounge Studio/Verskaf)

Alwyn vertel hy was nie ’n swemmer nie en die groot oop see en uitgestrekte afstand wat hy moes swem (8 km) het hom nogal bang gemaak.

“Ek doen al ’n paar jaar lank driekamp, maar het nog nooit ’n swemtog aangepak nie. Twaalf weke voor die tyd het ek my hart daarop gesig om dit definitief te doen en het voluit begin voorberei en oefen vir die groot dag.”

Alwyn het gemiddeld 4,4 km per dag in ’n swembad asook in oop water geswem, ses maal per week.

“Soms het ek 20 km per week geswem om myself geestelik voor te berei en te weet hoe dit voel om vir drie uur aaneen te swem.”

Alwyn is baie dankbaar vir sy span en hul ondersteunende funksie sonder wie hy dit nie sou kon vermag het nie.

“Ek het soveel mense en vriende wat my ondersteun. Die Big Bay Life Saving Club het alles gereël en ondersteuning gegee asook my afrigter – sowel op die boot as saam met my in die water. Hierdie is absoluut ’n spanpoging, want ek sal dit nie alleen in die water kan doen sonder die mense op die boot en op land nie.”

Hy lê klem daarop dat dit geestelik baie belangrik vir hom is om positiewe mense om hom te hê.

“Op jou eie kan jy so maklik vasgevang word in jou eie gedagtes en dan raak jou dag lank en moeilik. Jy moet mense om jou hê wat positief is en jou help om daardeur te kom, want dis wat jou ondersteuning bied.”

Op 11 Desember het die groot dag aangebreek. Die span het gehoop vir rustige, warm, stroomlose water, maar die strome was sy grootste uitdaging op dié dag.

“Dit was ontsettend moeilik, want ek moes heeltyd veg teen die strome. My Strava-data het agterna gewys ek het in ’n boogvorm geswem. Ek moes in ’n stadium parallel met die strand swem net om op koers te bly omdat die stroom my eenkant toe bly druk het.”

Alwyn sê die tog was ontsettend moeilik. (Foto: Light Lounge Studio/Verskaf)

Alwyn sê alles op dié dag het vinnig gebeur en voordat hy sy oë kon uitvee, was hy op die boot, op pad na die eiland en in die water.

“Die toestande was nie ideaal nie, maar ek het hard gewerk. My hele span van vyftien lede was by my en daar was nie omdraaikans nie. Ek het gedink aan my ongeluk, dit het gebeur, jy kan niks daaraan doen nie en jy moet deurdruk. Dis ’n belangrike ding in die lewe, ons word gekonfronteer met uitdagings en partykeer moet jy vir jouself sê daar is geen manier as om net deur te druk nie.”

Tydens die swemtog, het Alwyn slegs gefokus op elke swemhaal en die afstand opgebreek in halfuursegmente van so 1,5 km elk. Hy het geswem tot elke rustyd, vinnig iets geëet vir energie en verder geswem.

“Dit was regtig moeilik, veral toe ek naby die einde begin kom en die tyd stadig verbygaan. Maar ek het net gefokus op die oomblik.”

Alwyn het die uitdaging in drie uur en drie minute voltooi. Ná die swemtog het hulle Alwyn uitgedra in die lekker warm klubhuis in.

“Hulle het my neergesit en ek het net gesit. Dit het onrealisties gevoel, soos ’n droom en dit het ’n rukkie gevat om in te sink. Ek het nooit getwyfel of ek dit sal kan voltooi nie, ek het wel geweet dit gaan moeilik wees. Daar was soveel voorbereidings, opwinding, oefening en toe die opbou ná dié dag. Nou is dit verby en dis ’n ongelooflike gevoel dat jy dit gedoen en gemaak het. Ek het alles ingesit en my uitdaging suksesvol voltooi.”

Alwyn het al soveel uitdagings en kompetisies aangepak soos die half-Ysterman, fietsrenne en nou die swemuitdaging. Tydens inperking het hy ’n 90 km- virtuele Comrades-ultramarathon gedoen asook ’n 200 km-fietswedren ’n paar weke voor die swemuitdaging.

“Hierdie geleentheid het my oë oopgemaak en nou begin ek leef en droom oor plaaslike en internasionale Ysterman-kompetisies. Dit is my groot droom om oorsee hieraan te kan deelneem – op elke kontinent. Ek wil dit na die volgende stap neem en deel met die wêreld en ’n inspirasie en motivering wees vir alle mense.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Africangrey ·

Baie geluk Alwyn, jy het dit reggekry, sien, die Heere gee moed en krag, as ons self ook daaraan werk, ek wens jou al die voorspoed en mag ons jou wereldwyd in aksie sien is my wens vir jou. BRAVO BRAVO

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.