Kovsie ná oorplanting: ‘Nou is ek vry’

Jordan toe hy vir die eerste keer in 2014 gediagnoseer is (Foto: Verskaf)

Jordan Barber (24), die Kovsie wat vier jaar gelede onverwags met algehele nierversaking gediagnoseer is, het vroeër vanjaar uiteindelik ʼn nuwe nier gekry, en kan nou weer begin bou aan sy normale lewe.

Barber, wat wildbestuur aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) studeer, het aan Maroela Media gesê dit gaan goed met hom, maar dat dit nie van die begin af so maklik was nie.

“Toe ek die oorplanting gekry het, was alles reg, maar toe moet ek terug na die waakeenheid gaan omdat my liggaam die nier begin verwerp het. My hemoglobienvlakke het so baie gedaal dat ek nie meer as vyf meter kon loop sonder om moeg te raak nie en ek het ook die parvo‑virus ontwikkel as gevolg van infeksie.

“Almal dink dat wanneer jy ʼn nieroorplanting kry alles goed en wel sal wees daarna, maar die herstel is eintlik die moeilikste. Ek was veronderstel om terug te keer na my studies, maar toe moes ek op die eerste dag van die semester my oorplanting kry, so ek moes deregistreer vir die semester,” het Barber gesê.

Barber het ook, as gevolg van komplikasies met die oorplanting, diabetes ontwikkel. “Ek is nou op medikasie om die diabetes om te keer, en die dokters kon ook my hemoglobienvlakke stabiliseer en dit is nou weer normaal. Nóú gaan dit weer goed, vir die laaste vier maande voel ek goed en gesond, dit was net die begin waar daar baie komplikasies was,” het hy vertel.

Barber, wat graag aan sport deelneem, het gesê hy het onlangs deel geword van die Suid-Afrikaanse Oorplantingsportvereniging (Satsa) en dat hy beoog om in padwedlope aan die Wêreld-oorplantingspele deel te neem.

Jordan is vandag gelukkig en gesond (Foto: Verskaf)

“My ma het die Comrades–marathon al 11 keer voltooi, en ek en sy sal so saam oefen. Ek wil wys dat mense wat oorplantings gehad het, ook ʼn gesonde en aktiewe lewe kan volg,” het hy gesê.

Verder is Barber reeds weer besig om sy normale lewe te hervat. Hy is tans besig om sy studies te voltooi en gaan sy finale semester vroeg volgende jaar begin. “My akademiese prestasies is nou beter as ooit. Daar is nie meer die druk om drie keer per week dialise te ontvang nie, en ek is ook nie meer so moeg daarna nie.

“Daar is soveel goed wat ek nou kan doen wat ek nie voor die tyd kon doen nie. Ons het byvoorbeeld ʼn twee-week-lange vakansie na die Krugerwildtuin bespreek. Dit sou nooit in die verlede kon gebeur nie, want ons moes alles rondom my dialise beplan, en dit was nie oral beskikbaar nie. Ek voel nou so vry en gesond; ek is nie meer vasgevang in een plek nie,” het Barber gesê.

Barber het gesê hy sou nie deur die oorplantingsproses gekom het as dit nie vir sy vriende, familie en fantastiese mediese span was nie.

“Alles het ʼn groot impak op my familie gehad, want hulle kon ook nie iewers gaan waar my dialise nie beskikbaar is nie. My familie en vriende het my regtig hierdeur gekry, hulle was my motivering,” het hy gesê.

Barber het ʼn Facebook-blad begin waar hy mense inlig oor die voordele van ʼn gesonde lewe en orgaanskenking.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Valerie ·

Baie bly om dit te lees. Mag dit net beter en beter gaan met die man.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.