Kovsie-student kry dalk binnekort nuwe nier

Jordan Barber. Foto: Facebook

Jordan Barber. Foto: Facebook

Jordan Barber (22), die Kovsie-student wie se lewe onherroeplik verander het nadat algehele nierversaking by hom gediagnoseer is, kan moontlik binnekort ʼn nuwe nier kry.

Maroela Media het verlede jaar berig dat Barber ʼn veldtog op Facebook van stapel gestuur het om bewusmaking rondom orgaanskenking te skep en mense aan te moedig om as orgaanskenkers te registreer. Dit kom nadat hy in September 2014 tydens ʼn roetine-doktersondersoek met fase 5-nierversaking gediagnoseer is. Hy moes destyds onmiddellik in die waakeenheid van ʼn Bloemfonteinse hospitaal opgeneem word aangesien sy kreatienvlakke gevaarlik hoog was.

Sedertdien moet Barber drie keer per week vir vier uur in die hospitaal deurbring om dialise-behandeling te ontvang. Al uitweg is ʼn nieroorplanting en Barber is sedertdien op soek na ʼn geskikte skenker. Sy direkte familie is nie ʼn opsie vir ʼn nierskenking nie omdat die bloedgroepe nie ooreenkom nie en die skenker in dieselfde ouderdomsgroep as hy moet wees.

ʼn Nieroorplanting het egter uiteindelik ʼn moontlikheid geword nadat ʼn familievriend aangebied het om ʼn skenker te wees en ʼn mediese toets dié persoon as ʼn geskikte skenker geïdentifiseer het. “Die hooftoets wat gedoen moet word om te bepaal of iemand ʼn geskikte skenker is, was positief. Daar is egter nog ʼn klomp ander klein mediese toetse wat uitgevoer moet word om dit te bevestig, maar tot dusver lyk dit goed,” het Barber gesê. “Die departement van gesondheid moet ook eers goedkeuring gee, maar as alles goed gaan, behoort die oorplanting teen die einde van die jaar gedoen te word.”

Barber het gesê hoewel hy grootliks ʼn normale lewe lei, veroorsaak sy nierversaking wel dat hy nie alles kan doen wat hy graag wil nie. “Ek kan nie eintlik reis nie, omdat dit moeilik is met die dialise en baie kleiner plekke in die land nie fasiliteite het waar die dialise gedoen kan word nie.”

Hy het gesê hoewel hy opgewonde is oor die gedagte van ʼn nuwe nier, weet hy daar is nog baie goed wat verkeerd kan loop. “Ek is versigtig optimisties. As ek ʼn nuwe nier kan kry, sal ek vry wees. Ek sal kan kom en gaan soos ek wil en doen wat ek wil,” het hy gesê.

Deur al sy beproewinge kon Barber steeds daarin slaag om by te bly met sy studie en hy sal na verwagting volgende jaar sy graad in landbouwetenskappe behaal.

Besoek gerus Barber se Facebook-blad vir meer inligting oor sy reis tot dusver.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

lisa ·

ek is baie bly iemand kan jou help.my dogtertjie is 12 en al hoop vir haar is ook net n nier oorplanting al hoewel ek vir haar n geskikte skenker is het ons nie die fondse daarvoor nie maar ek weet die Here sal n uitweg gee.baie sterkte vir jou mag God jou dra deur die tyd

Arista ·

Ek hou vir julle styf duimvas. My dogter ook gediagnoseer met niersiekte in die jaar. Als sal uitwerk.

Karen ·

Ek self het n nieroorplanting gehad, was vir 5 jaar op peritoneal dialysis (bietjie makliker om te travel – maar moet 4 keer n dag gedoen word), was nie maklik nie maar elke traan werd. Bid dat als net vir jou goed sal gaan – baie sterkte

Theresa ·

Vasbyt Jordan! Dis baie moeilik en seer – maar ons gebede is met jou dat jy binnekort die regte hulp het en jy perdfris en gesond word.

christoleNe ·

Hi ek is baie bly om te hoor van mense wat skenkers gekry het dit gee my ook hoop met die rede dat meskien eendag my broer ook a nier gaan kry. Nou hydiglik het n nier nodig dus net ek wat vir hom een kan gee maar omdat ek nog nie a baba het nie het dokters gese ek moet eers kan babatjie he voor ek die nier kan skenk eks nou 2 jaar gestroud en ons sukkel bietjie om swanger te raak my broer is nou op dialisie hulle moes die pypie uit sy maag haal want dit het infeksie gekry toe moes hy een in die nek kry waar hy 3keer n week by die hospitaal moet wees. Hy het 2 seuntjies een is in Gr R en die oudste in Gr 4 en dit breek mens se hart om te sien hoe daai kinders vir die Here vra om hulle pa gesond te maak. Die jongste een het a omeloop agter sy nek en hy het na ny toe gekom en gese Nana ek dra nana se omeloop vir a baba sodat nana my pa n nier kan gee. En ek hoop en vertrou regtg netso die Here vir U n nier kan gee netso gaan die Here n deur oopmaak sodat my broer n nier kan kry. Baie dankie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.