KragDag verskaf selfdoen-alternatiewe vir kragkrisis

2014 se Kragdag ekspohet gespog met 'n seminaar wat konferensiegangers 'n geheelbeeld van Suid-Afrika se alternatiewe kragoplossings sal gee. Foto: kragdag.co.za

2014 se Kragdag ekspo het gespog met ‘n seminaar wat konferensiegangers ‘n geheelbeeld van Suid-Afrika se alternatiewe kragoplossings sal gee. Foto: Kragdag.co.za

Weens die voortslepende kragkrisis in Suid-Afrika moedig Solidariteit nou sy lede aan om na selfdoen-alternatiewe te begin soek. Juis daarom dien Solidariteit ook as hoofborg by vanjaar se KragDag Ekspo.

Tydens dié ekspo, op 26 en 27 Julie, kry lede van die publiek die geleentheid om waardevolle insette oor alternatiewe energie en lewenstyloplossings te lewer. Die KragDag Ekspo is in 2007 van stapel gestuur ná Eskom se drastiese tariefstygings en eerste fase van kragkrisisse. Tydens die ekspo word alternatiewe kragmetodes vir gewone huishoudings, asook hoewe- of plaasbewoners en klein ondernemings bespreek.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê alles dui daarop dat Eskom se vermoë om elektrisiteit te voorsien sal bly afneem. “Solidariteit se lede by Eskom doen hul bes, maar ons weet terselfdertyd ook in watter penarie Eskom is. Daarom dat ons graag met KragDag saamwerk. Die Solidariteit KragDag Ekspo sal ons lede én die publiek van die regte inligting en ondersteuning voorsien om by die werk, tuis én in gemeenskapsverband soos by kerke en skole minder Eskom-afhanklik te wees,” het hy gesê.

Die KragDag-inisiatief het ten doel om die Suid-Afrikaanse gemeenskap se afhanklikheid van staatsondersteunde verspreidingsnetwerke te verminder. Tydens die ekspo word veral aandag gegee aan hernubare energie. Die ekspo dien as platform waarop die gewone burger met slim idees, produkbekendstellings en opvoedkundige inligting vorendag kan kom. Klem word geplaas op volhoubaarheid, energievriendelike boumetodes, waterontginning en -hantering, veiligheid, voedselproduksie, nuwe tegnologie wat jou lewe kan verander, doen-dit-self-oplossings en ekonomiese en finansiële vryheidsmodelle.

HP Steyn, uitvoerende direkteur van KragDag, sê hulle wil die stryd teen elektrisiteitsafhanklikheid wen.“Ons wil individue en gemeenskappe in staat stel om vry en selfstandig te wees, eerder as afhanklik van staatshulp,” het hy gesê.

Toepassings wat uitgestal sal word tydens die seminaar dek die terreine van beligting, waterverhitting, klimaatbeheer van geboue, verkoeling en gaarmaak van kos, meganiese toebehore, elektriese en elektroniese oplossings, voedselproduksie, brandstofvervaardiging, beveiliging, waterbesparing en rioolbenutting, “groen” oplossings vir ontspanning, produkte uit herwonne materiaal en energiedoeltreffende argitektuur. Energiebronne wat bespreek sal word, sluit son, gas, hout/steenkool, wind, water, menskrag, brandstof/jel, elektrisiteit, geotermiese en passiewe energiebronne in.

Tydens die ekspo word ook ʼn seminaar aangebied wat handel oor energieselfstandige oplossings.
Steyn sê die skou bring sedert 2008 jaarliks duisende skougangers en uitstallers op ’n feestelike én leersame wyse byeen.

“Die ekspo het ’n gesinskarakter. Dit kombineer praktiese energietegnologie en -seminare, verwante selfdoen-oplossings en, les bes, vermaak vir oud en jonk,” het hy gesê.

Navrae kan gerig word aan [email protected] of 087 231 1644.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nestus Venter ·

Sal gaaf wees as daar ook so iets jaarliks by Nampo gedoen word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.