Kranige koeksisterbakkers vereer

v.l.n.r.a. Hester Boshoff, Hester van Zyl, Cora de Beer, Lina Dorfling, Theunie Bruwer, Elsabé Louwrens.
v.l.n.r.v. Ansie Zeeman en Marietjie Bester. (Foto: verskaf)

“Die vrou se rol in die gemeenskap is soos gom, sy hou almal en alles bymekaar.”

Só het Lida Strydom, die voorsitter van die Kaalvoet-vrouevereniging in Orania, oor die rol van die vrou in die Afrikanergemeenskap aan Maroela Media verduidelik.

Dié vrouevereniging wou erkenning aan die vroue gee wat getrou hul gemeenskappe gedien het. Vroue speel dikwels ’n stil maar broodnodige rol in hul gemeenskap, verduidelik Strydom

“Dié toekenning en die alombekende koeksister-standbeeld in Orania loop hand in hand. Nes dié standbeeld ’n simbool van harde werk en toewyding tot die bou van ’n gemeenskap is, dien die toekenning as ’n danksegging aan die vroue wat onbaatsugtig hul lewe aan die ontwikkeling en versterking van hul gemeenskappe gewy het.

“In gemeenskappe is daar vroue wat regtig verantwoordelikheid neem vir nood. Mens het leiers, van wie almal weet, maar daar is vroue in die gemeenskap wat stilweg hul bydrae lewer,” het Strydom gesê.

“Dis die vroue wat saam met ander vroue van vroeg in die oggend af deeg knie om op die ou end geld in te samel. Daar is weeshuise, kerke en skole op die rûe van dié vroue gebou.”

Hoewel dié koeksister-toekenning as simbool vir onbaatsugtige hulp aan die gemeenskap dien, is dit vir Strydom moeilik om verby die reuserol wat dié soet versnapering in die Afrikaner kultuur en -erfenis speel te kyk.

“Dit is deel van ons DNS, dit is nog altyd daar.”

Marietjie de Beer, Theunie Bruwer, Sarie Coetsee, Cora de Beer, Lina Dorfling, Cilie Grobler, Doreen Kirstein, Elsabé Louwrens, Rina Theron, Ansie Zietsman en die aanvoorder-egpaar, Pierre en Elsie de Villiers, is die eerste gemeenskapstaatmakers wat op die Kaalvoet-vrouevereniging se koeksister-ererol geplaas is.

Dié groep is deur die AP Kerk se Pretoria Oos-gemeente benoem en is op Maandag 31 Oktober by die kerk in die ooste van Pretoria met sertifikate en koeksister-aansteekbalkies vereer.

“Hulle het deur die jare heen hul kerk en gemeenskap onbaatsugtig gedien. Jaar ná jaar was hulle beskikbaar om te help. Hulle was altyd daar om te help.”

Dit is maar net die begin van die ererol en Strydom nooi mense uit om die staatmakers in hul eie omgewing te benoem.

Indien jy graag ’n groep gemeenskapstaatmakers wil benoem, stuur ʼn e-pos aan [email protected]. ’n Soortgelyke oorhandiging sal dan gereël word, waarna diegene wat benoem is ’n balkie sal ontvang met hul name wat op die Kaalvoet-vrouevereniging se koeksister-ererol geplaas word.

“Die gemeenskap moet saam besluit wie die staatmakers is wat deur die jare heen hul gemeenskap onbaatsugtig gedien het. Wanneer hulle benoem word, sal ons vir hulle die erkenning gee wat hulle toekom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vonny ·

Viva Orania.
Ons wil daar gaan woon.

Trots trots op die tannies.
Koeksisters bak is nie vir sissies!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.