Krismis innie Bo-Kaap

Die kleurvolle Bo-Kaap. (Foto: Eunice Stoltz)

Dis jolig, dis orals en dis aansteeklik: Krismis in die Bo-Kaap. Wêreldbekend vir sy kleurvolle huise, Maleisiese kossoorte en toeriste, word die Kersseisoen in die Bo-Kaap aan sy feestelikhede gekenmerk. En dit is feestelikhede eie aan dié oorwegend Kaaps-Maleise gemeenskap.

“Jy kom nie weg van die feestelikhede nie” vertel Faeeza Abrahams (60), die trotse eienaar en sjef van Faeeza’s Home Kitchen in die gewilde Chiappini-laan in die Bo-Kaap.

“Die feesseisoen is ánders hier. Jy weet van die gesingery? Sondae en Donderdae kom hulle Bo-Kaap toe om te sing in die strate – al klink dit nie altyd só goed nie, maar in elk geval – dis die klopsetroepe en die Maleierkore wat oefen vir die jaarlikse Tweede Nuwejaar.

“Wanneer die busse stop, is almal buite, jy weet nie waar al die mense vandaan kom nie, maar skielik is daar boereworsstalletjies en nog meer. Dit is meer feestelik in die Bo-Kaap as op enige ander plek, dink ek”.

Vir Kirsten Poking (26), ’n voltydse duikinstrukteur en aktiewe gemeenskapslid van Bo-Kaap, is die straatparades ook ’n hoogtepunt tydens die feesseisoen.

“Dit is van die min kere wat die locals Bo-Kaap toe kom net om daar te wees en iets te vier wat uniek is aan Kaapstad en Suid-Afrika.”

Sy vertel ook van die nagmarstradisie waar die Krismiskore en -orkes op Oukersaand vanaf die Bo-Kaap na die St. George-katedraal op die hoek van Queen Victoria- en Waalstraat stap. Om middernag, ná die Oukersaandmis, stap die koor terug na die Bo-Kaap waar inwoners buite is om familie en vriende te groet en die koor te verwelkom.

Buiten vir die klopsetroepe en -kore is dit die potpourri van, onder meer, Indonesië, Indië, Java, en die Midde-Ooste wat in die verskeidenheid van kosse weerspieël word.

“Op dié oomblik voel ek so feestelik, ek nooi enigiemand oor vir ete. Kos bring ons bymekaar uit. Jy kan nie net ’n hoender voorberei nie, daar moet iets soos rys, lensies en bone wees,” meen Faeeza, wat ook kookklasse vanuit haar kombuis aanbied.

Faeeza Abrahams. (Foto: Eunice Stoltz)

’n Tradisie wat Faeeza ook ondersteun, is om vir minderbevoorregtes in die gemeenskap nuwe klere vir Kersdag te koop.

“Jy weet vir Kersfees dra jy iets nuuts. Alles is nuut”.

Dit is nie algemene gebruik in die Maleiergemeenskap om geskenke tydens Kersfees uit te deel nie, maar om eerder as families byeen te kom. Vandaar ook die jaarlikse gebruik om te gaan kamp, vertel Faeeza.

“Hoewel die feesvieringe hier voortduur, gaan baie mense kamp. In die Maleiergemeenskap gaan kamp almal.”

Maar dié jaar is wel anders.

“Baie mense het voor vanjaar se Covid-19 gaan kamp. Nou is dit anders, baie mense sal maar hier bly.

“Dit is ’n baie stil jaar. Selfs die klopse en kore sal slegs op 31 Desember hul straatparade hou. En dit is indien die Stad Kaapstad dit toelaat.”

Die bekende Tweede Nuwejaar met die Kaapse klopsetroepe en die Maleierkoor-kompetisies is uitgestel tot volgende jaar Junie.

Daar is ook ’n dramatiese afname van toeriste in die Bo-Kaap. Vir talle besighede soos Faeeza s’n wat afhanklik is van besoekers, was vanjaar ’n moeilike jaar. Maar Covid-19 kon steeds nie Faeeza se geesdrif knak nie – nie eens die ekstra kilo’s wat sy tydens die inperking opgetel het nie. Nee, vir haar is daar net nie tyd of ruimte vir mismoedig wees nie.

“Kyk met hoe min ons moes klaarkom, en ons het oorleef!” vertel Faeeza wat byvoeg Covid-19 was beide ’n stryd én seën.

“Ek hoop mense het besef materialisme bring jou nêrens nie. Vandag se generasie gaan oor geld en wat hulle daarmee kan koop, terwyl familie en saamwees eintlik die belangrikste is. Dié jaar het families weer by mekaar uitgebring en laat besef hoe ons oor mekaar voel”.

Kersfees in die Bo-Kaap is ‘n potpouri van geure. (Foto: Verskaf)

Vir Faeeza is die geheim om van dag tot dag te lewe. Sy weet nie wanneer haar volgende kookklas gaan wees nie, maar sy glo dat daar besoekers sál kom. En dit gebeur.

“Daar is vir seker lig aan die einde van die tonnel!”

Volgens Kirsten “besef jy tydens die feesseisoen opnuut waarom die Bo-Kaap spesiaal is; dis die herlewing van die herinneringe en tradisies van die inwoners wat vir geslagte hier woon, wat die strate lewe gee.’

Vir haar is daar verskeie groot en klein gebeurtenisse wat oor die feesseisoen plaasvind. Die beste manier om daarvan uit te vind, is om eenvoudig dit self te kom beleef.

‘n Bo-Kaapse Kersete is ook ‘n potpouri van kulture. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.