Hier is wenners van Afrikaans-Ekspo

Ashlyn Jansen en haar kunswerk wat haar die senior wenner van vanjaar se Afrikaans-Ekspo gemaak het. (Foto: Verskaf)

Een se liefde vir literatuur en skilder en ’n ander se liefde vir voordrag, het gesorg dat hulle onderskeidelik as die senior en junior wenners van vanjaar se Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se jaarlikse Internasionale Afrikaans-Ekspo bekroon is.

Die FAK se Internasionale Afrikaans-Ekspo is ’n opwindende skryf- en kreatiewe kunstekompetisie wat fokus op leerders en studente se kreatiewe hantering van Afrikaans. Tesame met die feit dat dit pret is om deel te neem, word leerders ook gehelp met hulle skryfproses deurdat hulle terugvoer van die beoordelaars kry.

Dit is vanjaar die vyfde jaar wat dié kompetisie aangebied word.

Ashlyn Jansen, ’n matriekleerling aan die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad in die Vrystaat, se skildery getiteld Ontvlug, beeld ’n meisie uit wat in haar kop op ’n verbeeldingsreis gaan deur middel van boeke.

“My liefde vir literatuur het vanaf ’n jong ouderdom begin toe ek ontdek het dat boeke ’n portaal en ’n bron van ontvlugting was. Die mees gedenkwaardige boeke was die fantasie- en avontuurboeke – waar ’n skrywer die vermoë het om perfekte sinne te artikuleer, wat die leser kan transporteer na ’n eeueoue kleisteenkasteel wat deur ’n duisend kerse verlig word en wat die leser neem op ’n ontsagwekkende ontdekkingsreis oor ’n genadelose stormsee.

“My olieverfskildery beeld daardie fassinerende fantasie en opwindende avontuur uit. Boeke verskaf ’n ontsaglike bevryding en bied ’n ervaring wat ander vorms van media nooit voldoende kan bied nie. In my eie ervaring bou die lees van fiksie en fantasie ’n grenslose verbeelding wat lei tot eindelose kreatiwiteit,” lui die beskrywing agter op haar kunswerk.

Sy het byna volpunte (98%) vir haar wenkunswerk ontvang.

Haar pa, Delmey, sê Ashlyn is ’n regte boekwurm.

“As sy nie lees nie, skilder sy vir ure aaneen.”

Ashlyn (18), wat volgende jaar aan die Noordwes-Universiteit geesteswetenskappe gaan studeer, was uit die veld geslaan toe sy hoor sy het gewen.

“Regtig?” was al wat sy kon uitkry toe sy dié nuus hoor.

Clara Serfontein, ’n gr. 7-leerling aan die Laerskool Lynnwood in Pretoria, het die hoogste punt van 96% behaal met haar voordrag. (Foto: Verskaf)

Clara Serfontein, ’n gr. 7-leerling aan die Laerskool Lynnwood in Pretoria, het die hoogste punt van 96% behaal met haar voordrag van Roald Dahl se vertaalde gedig in Afrikaans, Knaagdiertjie in my magie.

Voordrag is vanjaar ’n splinternuwe kategorie waaraan leerlinge kon deelneem. Die ander kategorieë waarin leerlinge van gr. 1 tot 12 en studente hulle kreatiwiteit, oftewel liefde vir boeke, wat vanjaar se tema was, kon uitleef, was: dagboekinskrywing, resensies, opstelle, kortverhale, poësie, fotografie en kuns (skilderkuns en tekenkuns).

Clara (13) het ook vir die fotografie- en poësie-afdelings ingeskryf.

Sy vertel haar drama-onderwyser het dié gedig vir haar gekies om voor te dra.

“Dit was baie lekker gewees om dit voor te dra en is ’n baie oulike gedig.”

Ashlyn en Clara wen elkeen R2 000 en boekpryse.

Dubbel soveel, 4 000, inskrywings as verlede jaar is vanjaar ontvang van 229 skole wat hoër-, laer- en tuisskole van reg oor die land insluit.

Laerskool Tuine in die weste van Pretoria en Laerskool Waterkloof in die ooste van dié stad deel vanjaar ook die topposisie, wat elk met R5 000 beloon word. Die wenskool is volgens ’n formule bepaal, waar die persentasie inskrywings, aantal wenners en deelname aan ’n verskeidenheid kategorieë, onder meer in ag geneem is.

Daar was ook internasionale inskrywings van Namibië, Switserland en Nieu-Seeland.

Danie du Toit, voorsanger van Spoegwolf en ook skrywer van twee digbundels, het die poësie-afdeling vir die eerste keer beoordeel.

“Dit was regtig ’n ongelooflike groot voorreg gewees om hierdie gedigte te lees. Ek het so baie geleer, ek is so geïnspireer en ek is ongelooflik dankbaar vir die geleentheid. Well done aan almal.”

Die joernalis Mia Spies het die opstelle beoordeel.

“Ek was geweldig beïndruk met die opstelle vanjaar. Die wenopstelle is kreatief, vindingryk én hartroerend; boonop is die taalversorging puik. Ek sien uit daarna om eendag te lees wat uit dié jong skrywers se penne gaan vloei.”

Tiaan Kirsten-Lubbe, ’n drama-onderwyser en -afrigter, wat die voordragkategorie beoordeel het, sê hy het dit so geniet om almal se voordragstukke te merk.

Ashlyn se kunswerk van naderby. (Foto: Verskaf)

Carla van der Spuy, vryskutjoernalis en skrywer, sê sy is verskriklik opgewonde en optimisties oor Afrikaans nadat sy die deelnemers se kortverhale onder oë gehad het.

“Daar is soveel talent. Wat my verskriklik beïndruk het, is dat daar ’n Venda-meisie, wat waarskynlik Afrikaans as tweede of derde taal praat, ingeskryf het en inskrywings uit Nieu-Seeland.”

Deon Raath, fotograaf van Rapport, vertel dat die leerlinge vanjaar se tema regtig ter harte geneem het met die neem van hul foto’s.

Oor die kunswerke, het Jacques Müller, beeldhouer en skilder, dié inskrywings as “merkwaardig” bestempel.

Pieter Cloete, radio-aanbieder, het deelnemers geloof vir hulle dagboekinskrywings en resensies. “Ek is dit eens dat julle die struktuur van beide verstaan. Daar was vir seker ’n handjievol wat my verwagtinge oortref het. Baie geluk aan die wenners.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.