Kruger-kinderhuis: Al 80 jaar lank ʼn veilige hawe

President Kruger Kinderhuis (Foto: Verskaf)

In Villiera in Pretoria staan ʼn nederige huis, só soortgelyk aan die ander huise rondom hom dat die meeste verbygangers waarskynlik nie eers die gebou opmerk wanneer hulle daar verby ry nie. Maar dié huis beteken soveel meer as wat jy met eerste oogopslag kan weet – dit is ʼn tuiste, ʼn veilige hawe en ʼn heenkome vir 126 kinders uit die weerloosste gedeelte van die samelewing.

Die President Kruger Kinderhuis is een van die oudste kinderhuise in die land en het in 1939 in Pretoria tot stand gekom. Die Gereformeerde Kerke het destyds die nood weens die Anglo Boere-oorlog van 1899 tot 1902 en die groot depressie en droogtes in die vroeë 1930’s geïdentifiseer en dié kinderhuis, vernoem na oudpres. Paul Kruger, gestig om kinders in te neem wat sonder heenkome gelaat is.

ʼn Tweede kinderhuis in Reddersburg in die Vrystaat is sowat dertig jaar later in 1961 tot stand gebring.

Die kinderhuise in Pretoria en Reddersburg huisves sowat 126 kinders wat deur ʼn hofbevel uit traumatiese huislike omstandighede geneem word en in die sorg van die kinderhuis geplaas word. Dié huise bied vir kinders ʼn heenkome en ʼn gevoel van geborgenheid ondanks erge finansiële druk en talle ander uitdagings.

Die kindertjies is besig om te bak en te brou (Foto: Verskaf)

Marlene Spies, skakelbeampte van die kinderhuis, vertel dat dit sowat R8 500 per maand kos om een kind te versorg. “Die departement van maatskaplike ontwikkeling dek 30% van ons uitgawes. Om die res van die geld by te bring is ons afhanklik van die publiek en organisasies om ons finansieel te ondersteun,” sê Spies.

Die ouderdomme van die kinders in die President Kruger Kinderhuis se sorg wissel tussen 2 tot 18. Wat dié niewinsgewende organisasie anders as ander kinderhuise maak, is die feit dat die kinderhuis die kinders wat hul skoolloopbaan voltooi het ’n hupstootjie na hul volwasse lewe wil gee.

“Ons het ’n spesiale nasorgprogram vir ons kinders wat klaar is met skool waar ons hulle help om hul voete te vind,” vertel Spies. “Ons probeer vir hulle beurse soek vir tersiêre opleiding asook om hulle in ʼn geskikte werksomgewing te plaas.”

Skenkings soos boeke word ook gereeld ontvang (Foto: Verskaf)

Spies vertel dat hulle ’n huislike atmosfeer skep met huismoeders wat dagin en daguit sowat tien tot 12 kinders in hul sorg het. “Ek haal my hoed af vir die huismoeders wat met soveel liefde en geduld die kinders tuis laat voel,” sê sy.

Volgende maand sal Renault Silverlakes ʼn lente-karnaval hou ten bate van die President Kruger Kinderhuis, en ook ter viering van die kinderhuis se 80ste verjaardag. Dié viering beloof om ’n jolige dag vol vermaak te wees.

Spies vertel die sanger Dirk van der Westhuizen het met die idee vorendag gekom om die kinderhuis as liefdadigheidsorganisasie by die karnaval te betrek.

“Dirk is baie lief vir die kinderhuis en is al die afgelope twee jaar by ons betrokke. Hy het ons een dag gebel om te hoor of ons nie as liefdadigheidsorganisasie wil baat uit dié lente-karnaval nie. Ons is baie dankbaar teenoor hom,” sê Spies.

Van der Westhuizen sal dié dag saam met ander bekendes soos Ampie du Preez, Heidi, Pierre Nel, Hanco van der Merwe, Stiaan Ras en Etienne Smit feesgangers vermaak.

Die lente-karnaval ten bate van die kinderhuis (Foto: Verskaf)

Dié lentefees bied ook kosstalletjies, vele aktiwiteite vir oud en jonk asook spesiale aanbiedinge en winskopies. Hoewel toegang gratis is, vra die kinderhuis vir skenkings soos sanitêre ware wat mense op dié dag kan saambring.

Spies het ʼn beroep op die publiek gedoen om op 7 September die lente-karnaval by te woon en op dié wyse te help om die pad vir die kinderhuis se inwoners net so ʼn bietjie meer gelyk te maak.

Besoek die kinderhuis se Facebook-blad of webtuiste om uit te vind hoe jy kan bydra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Elize ·

Dis baie awesome wat hul vir President Kruger Kinderhuis doen. Ek was ook in dieselfde kinderhuis en is nie een dag spyt nie dit het van my ‘n beter mens gemaak, ja jy mis die feit dat jy nie by jou ouers kan wees nie maar as mens self ‘n grootmens is dan is jy dankbaar dat jy eerder daar was. Ons kinderhuis vader en moeder was oom Chris en tannie Janet Mussmann hul was 2 wonderlike mense met ‘n harte van goud en baie liefde vir ons kinders oom Chris is 2 jaar gelede oorlede tannie Janet is in huis Vergenoeg nie ver van die kinderhuis af nie. Hulle 2 dogters Wilma en Madeleen het hul ouers gedeel met op daai staduim 64 kinders. Wat ‘n vooreg om te kan se President Kruger Kinderhuis was ook my ouerhuis. Sterkte vir die wonderlike werk wat daar nog gedoen word, mag die HERE se seen oor elkeen betrokke se lewe reen.

Manie ·

Wat ‘n wonderlike liefdes taak verrig die mense . Dit verg ‘n besondere mens om jou lewe daaraan te wy

Poppie ·

Ek kry die kindertjies so jammer. My kinders en kleinkinders soek en kry soveel liefde van ons. En dit kry hul nou nie van hul ouers. Maar R8500 per maand per kind. Dis bietjie baie. Skoolgeld word afgeskryf. Klere word aangepass wat te klein geword het, Ek het 2 kinders en hul behoeftes per maand was beslis nie R17000.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.