Kruispad se broodprojek: Waar bedien, bediening en samesyn ontmoet

Meestersuurdeegbakker Johan Stapelberg is reeds 45 jaar by die bakbedryf betrokke. Hier bak hy brood in die projek se oond. (Foto: Verskaf.)

Selfs voordat die gaste by die bekendstelling van die Kruispad-broodprojek ʼn paar dae gelede by die Hervormde kerk in Daspoort in Pretoria deur hul gashere verwelkom is, is hulle begroet deur die reuk van vars warm brood. Dit was ʼn aroma wat monde laat water en harte warm laat klop het.

Die visie van die Kruispad-broodprojek is om houtvuuroonde te vestig by strategiese punte in gemeenskappe wat deur honger en swaarkry geteister word. Met hierdie doel voor oë is kerke, wat dikwels die hart van hul gemeenskappe vorm en gewoonlik die nodige infrastruktuur het, geïdentifiseer as die ideale beginpunt wat die installering van hierdie gemeenskapsoonde moontlik sal maak én bevorder.

Nog goeie nuus is die vooruitsig van gerief: vooraf bereide meelmengsels wat spesiaal vir die projek ontwikkel is, kan aangekoop word. Sodra die brood gebak is, kan kerke hul gemeentes voorsien van varsgebakte 300 g-brode teen ʼn fraksie van die kleinhandelprys, óf hulle kan dit verkoop teen ʼn wins wat dan in ander gemeenskapsprojekte geploeg kan word.

Die man met die plan

Meestersuurdeegbakker Johan Stapelberg is reeds 45 jaar by die bakbedryf betrokke. Sy doel met die Kruispad-broodprojek is tweërlei: om ʼn oplossing vir die grootskaalse armoede en honger in ons land te kry en om kerke weer relevant te maak.

“Kerke loop leeg, kerksale het monumente geword. Mense wat nie geld vir elektrisiteit, data of lugtyd het nie, kan deur ons leer brood bak, in die sale byeenkomste hou en wanneer hulle dit nodig het, die kerk se WiFi gebruik.”

Terwyl die stimulus vir Stapelberg se oplossings in dwingende hedendaagse uitdagings lê, spruit sy inspirasie uit ʼn Middeleeuse gebruik. Europese stadsvaders, vertel hy, het sentrale oonde op markpleine laat bou omdat mense se huise te klein was. Elke huisvrou sou dan haar daaglikse deeg meng en na die dorpsoond neem om te bak. “Dit was ʼn samekoms van ʼn klomp goed, waarvan die sosiale samesyn nie die minste was nie.”

Dit is juis hierdie samehorigheid wat hy en sy span hoop om met die projek te herskep.

ʼn Span wat kan

‘n Kruispad-brood met ‘n bredie. Die projek kan armes help voed of inkomste vir ander projekte skep. (Foto: Verskaf.)

Ds Stephen de Beer van die Hervormde kerk in Daspoort was een van die eerste betrokkenes by Stapelberg se meesterplan, omdat sy gemeente, soos baie ander, onder druk is.

“’n Mens hoef nie uitdagings te gaan soek nie; dis hier op ons voorstoep,” sê hy.

Juis daarom het die gemeente reeds ʼn sopkombuis. Geïnspireer deur sy betrokkenheid by die projek het De Beer egter besluit om nog ʼn stap verder te gaan: hy het al die sopkombuise in die omgewing besoek en is in die proses om, waar moontlik, almal op sy kerk se perseel te integreer. Die voordeel is dat die gemeente reeds die infrastruktuur het, wat ʼn koelkamer en vrieskaste insluit.

Nog ʼn voordeel is dat daar tans ʼn maatskaplikedienste-onderneming op die kerkperseel werk terwyl hul eie kantore opgeknap word. Dit beteken De Beer kan staatmaak op hul insae in en inligting omtrent mense in materiële nood. Daar is ook ʼn span maatskaplike werkers byderhand, wat immer gereed is om die daad by die woord te voeg.

Die bouer: Van prototipe tot pronkstuk

Die indrukwekkende houtvuuroond wat die hart van die byeenkoms vorm, is die vierde weergawe sedert die oorspronklike ontwerp. “Die eerste prototipe was ʼn lelike eendjie; so ʼn lang maer tonnel,” vertel meesterbouer Gustav Appelgryn van Concilio Construction wat dié ontwerp- en ontwikkelingsuitdaging saam met Christo Jansen van Artisan Feast Bread aangepak het. Vandag se oond is, as ʼn mens by die metafoor hou, ʼn besonder grasieuse swaan.

Gegewe die opheffingsagenda van die projek is nie net die resultaat bemoedigend nie, maar ook die prys. “Die prys van oonde vir pizzaplekke wissel van R40 000 tot R60 000. Ons oond, wat bekend staan as ʼn Broven, is aansienlik meer bekostigbaar en kan boonop gesubsidieer word indien nodig. Dit beteken kerke en niewinsgewende organisasies (NWO’s) sal uiteindelik ʼn minimale bedrag vir so ʼn oond betaal,” vertel Gustav.

Die Woordverspreiders: Voedsel vir liggaam en gees

Nog ʼn onlosmaaklike skakel in die Kruispad-ketting is Christo van der Schyff, ʼn sosiale entrepreneur en hoof van die Wordspread Foundation, ʼn stigting met ʼn mandaat wat die groei van kerke insluit. Van der Schyff het met mening te werk gegaan om evangeliese én alle charismatiese kerke bewus te maak van die projek. Die resultaat is ongekende entoesiasme en navrae van duisende kerke wat graag wil deel word van die inisiatief.

Kort op die hakke van die bekendstelling was die verdere geestelike steun deur André Ungerer, die voorsitter van die Algemene Kerk Vergadering (AKV) van die Nederduits Hervormde Kerk van Afrika (NHKA).

Die leermeesters: Voedsel vir vaardigheidsontwikkeling

Die 300 g broode wat in Kruispad se oonde gebak word. (Foto: Verskaf.)

Die manne agter die vaardigheidsplanne is Garth Walker en Willie Reed van Edutex, ʼn opvoedkundige onderneming met besonderse fokus op die voedsel- en drankafdeling van die sektorale onderwys-en-opleidingsowerhede (Seta). Hul bydrae is die samestelling van ʼn eenjaarkursus waartydens aspirantbakkers opgelei sal word, terwyl die regering hul salarisse subsidieer. Die kursus dek ʼn volledige spektrum van produkte, van brood tot botterbroodjies en koek, asook aspekte soos voedselveiligheid en higiëne. Ná voltooiing van die kursus sal studente ʼn diploma ontvang, waarna hulle by enige bakkery kan gaan werk of hul eie bakkery begin.

Stapelberg en sy span se broodambisie strek egter nóg verder. Danksy oondkapasiteit wat 80 eenhede per uur kan lewer, is daar ʼn groter sakegeleentheid. Terwyl brood weliswaar van antieke tye dateer, word hedendaagse markte toenemend gedigitaliseer en virtueel.

“Ons wil ons gesamentlike onderneming toegang gee tot ʼn digitale mark waar hulle die projek se boetiekbrood kan verkoop, skenkings kan versoek en fasiliteer, asook ander items wat in die gemeenskap gemaak word van die hand kan sit,” verduidelik Stapelberg.

Dit is ʼn wen-wen-model – ook vir ander maatskappye: “Maatskappye kan skenkings doen – van oonde en salarisse tot, byvoorbeeld, meel van meulenaars. En alles wat geskenk word, kan teruggeëis word van belasting.”

Dit is waar die aanlynmarkgroep genaamd My Product, wat deur My Product System ontwikkel is, in die prentjie pas. Juis vanweë die visioenêre fokus van die Kruispad-broodprojek is die My Product-mark geïdentifiseer as ʼn voorkeurverskaffer wat, in samewerking met Stapelberg en sy span, ʼn geïntegreerde bestuursoplossing kan bied. My Product bied nie net aan kerke die geleentheid om hul brood, meelmengsels en ʼn verskeidenheid ander produkte en dienste aanlyn te verkoop nie. Dit dien ook as ʼn sentrale punt van waar die projek gemoniteer kan word, ʼn aspek wat bepalend belangrik is vir die volhoubaarheid van die inisiatief.

Uiteindelik, sê Stapelberg, kom alles – die visie, die toewyding, die liefde vir die saak en die logistiek – saam in ʼn oond wat oneindig meer as die somtotaal van sy samestellende dele is.

“Ons bona fides is reg. Hongeriges kry kos en mense kan die voorreg van samesyn en die gemeenskap van gelowiges geniet. Kerke maak wins en kan nou aanlyn verkope doen én gemeenskappe trek voordeel. Niemand verloor nie.

“Deur saam brood te breek bou ons brûe,” is sy slotsom.

  • Belangstellendes kan Johan direk nader by 084 840 3139 of ʼn e-pos stuur na [email protected] of andersins Crossroads Bread Project se webwerf by crossroadsbread.co.za vir meer inligting besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae