Kultuur, natuur en plesier is hiér

(Foto: Verskaf)

Die liefde vir my moedertaaltaal, Afrikaans, lei my telkens wanneer ek in die Kaap kom, na die Taalmonument. Hier kyk ʼn mens van naderby na die simboliek wat Afrika se jongste taal konkreet in strukture uitbeeld, maar jy kyk ook ver oor die Kaapse Skiereiland en die pragtige Bolandse berge, waar Afrikaans op byna elke tong is. Jy kyk terug na die herkoms van die taal, maar jy lees ook gedigte wat net verlede jaar geskryf is in hierdie hartstaal van talle mense.

En jy weet: daar is ʼn toekoms.

Ons ontdek Afrikaans opnuut

Ek lees dat die eerste saadjie vir Afrikaans in die 1500’s gesaai is toe daar taalkontak tussen die Khoi-Khoi en Nederlandse seevaarders gemaak is. In die mid-1800’s het die Nederlandse taalkundige Arnoldus Pannevis besef dat die taal reeds ʼn taal in eie reg is en voorgestel dat dit Afrikaans, eerder as Kaaps-Hollands, genoem word. Hy en ander Paarliete wou graag die Bybel in Afrikaans vertaal. Daarom het hulle besluit om ʼn vereniging te stig wat hom kon beywer vir die erkenning van Afrikaans as ʼn skryftaal, en só is die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) op 14 Augustus 1875 in die Paarl gestig in die huis wat vandag die Afrikaanse Taalmuseum huisves.

Honderd jaar later, in 1975, is die Afrikaanse Taalmonument (ATM) op Paarlberg onthul.

Ons besoek die monument op ʼn snikhete Saterdagmiddag aan die einde van Januarie. Uitgehonger vir die piekniekmandjie wat die koffiewinkel – skerpsinnig genaamd Volksmond – vir ons voorberei het, gaan soek ons ʼn sitplek op die grasperk voor die monument. Ons het laat weet dat ons vanaand se sterrekykpiekniek gaan bywoon, want die getalle word nog danksy Covid-19 beperk.

(Foto: Verskaf)

Maar die grasperk is groot en die mense stroom in. Ons verkyk ons aan al die mense wat hulle op die grasperk kom tuismaak. Van elke kleur en geur is daar, oud en jonk, ryk en arm. Daar is groot groepe mense wat saam aan worsbroodjies smul, en paartjies wat twee-twee in ʼn hoekie gaan lê en koer. Daar is kinders wat onbevange op die monument en in speelparke baljaar en oumas en oupas wat rustig oor die pragtige vallei uittuur. Met al die verskille wat ons rondom ons gewaar, is daar een gemene deler – almal praat Afrikaans.

Tuis tussen die klanke van ons moedertaal gaan verken ons ook weer die bekende bakens van die monument. Hier waar die wortels, stam, takke, blare én vrugte van Afrikaans uitgebeeld word.

Sien die simboliek

Petronel en Leon Fourie. (Foto: Verskaf)

Die argitek Jan van Wijk het die monument juis só ontwerp om erkenning te gee aan die diverse herkoms van Afrikaans. Sy grootste taak was sekerlik om ʼn gepaste beeld te soek wat Afrikaans kon voorstel. Dit is gevind in die beeld wat die bekende skrywer CJ Langenhoven gebruik het om Afrikaans as skryftaal mee te beskryf, naamlik ʼn “snelstygende boog”. So is die idee van die hoofsuil gebore. Dit is ongeveer 57 m hoog, met heel boaan ʼn oop punt wat groei voorstel.

Die opwaarts stygende wand van die hoofsuil het ’n reeks openinge waardeur die wisselende lig en sonstrale allerhande ligpatrone aan die binnekant optower. Hierdie lig en die water van die fontein simboliseer die groeikragtigheid van die taal.

Langs die hoofsuil in die poel staan daar nog ’n suil wat ongeveer 26 m hoog is. Dit beeld die Republiek van Suid-Afrika, die geboorteplek van Afrikaans, uit. Die suil is oop na Afrika om aan te dui dat interaksie tussen Afrikaans, Suid-Afrika en Afrika voortdurend plaasvind, aangesien dit tot ʼn volwaardige en onafhanklike inheemse taal in Afrika ontwikkel het.

Die suile aan die linkerkant verteenwoordig die invloed van die Wes-Europese tale en kulture op die ontwikkeling van Afrikaans. Dit loop van hoog na laag om die verminderende Europese invloed op Afrikaans uit te beeld. Die muur op die trapaantrede van die monument stel weer die invloed van Indonesiese tale, hoofsaaklik Maleis, op die ontwikkeling van Afrikaans voor.

Die podium en drie koepels beeld die invloed van die Khoi-Khoi en ander Afrika-tale, soos Xhosa, Zoeloe en Sesotho, op die ontwikkeling van Afrikaans uit en verteenwoordig die suidpunt van Afrika. Anders as die suile van die Europese tale, neem hierdie koepels in grootte toe omdat Afrika se invloed op Afrikaans toeneem. Hierdie strukture is só geplaas dat hulle ʼn kurwe vorm wat by die hooflyn (naamlik Afrikaans) aansluit, en so die kring voltooi.

Gul Afrikaans in die Groen Galery

Ons stap verder, met die trappies op na die opelug Groen Galery, wat ter ere van die argitek tussen die granietrotse en olienhoutbome uitgelê is. Hy het nie net sterk oor die natuur gevoel nie, maar ook dat die monument as ʼn lewende beeldhouwerk moet dien. Daarom word veral opkomende Afrikaanse skrywers, digters en musici se werk in dié galery se uitstalkaste van herwonne hout en glas aangebied.

Volgens Micheal Jonas, ATM se direkteur, is die instelling ʼn lewende monument waar daar gedurig ʼn interaksie tussen die struktuur, natuur, besoekers en taalskeppers is. “Die meeste besoekers is nie net baie geïnteresseerd in die geskiedenis van Afrikaans nie, maar ook nuuskierig oor die taal se ontwikkeling en haar jongste skeppende gedaantes,” sê hy.

My eie woorde is min wanneer ek die treffende Persiese kwatryne wat tans uitgestal word, lees. Dis die uitvloeisel van ʼn Afrikaanse digkunskompetisie wat skrywers uitgedaag het om oor Covid-19 en wyn te dig, lei ek so lees-lees af.

(Foto: Verskaf)

Ek het veral by hierdie verse aanklank gevind:

 

Boeretroos sonder melk kan nog gaan

ʼn pandemie vol reëls kan ek dalk verstaan

maar lewe sonder vriende en goeie wyn

het my stap van sy huppel ontdaan.

(Driekie Grobler)

 

Uit elke pestilensie se puin

sal weer ʼn bloednuwe dag verskyn –

ons klink saam ʼn glas en bly verwag

uit gekneusde druif die dieper samesyn.

(Herman Wasserman)

 

God wat pandemiebekers skink,

laat soms die mens vrank druiwe drink –

onthou dan, mens, die kruis, die hisoptak,

die léwenswyn wat daarop blink.

(Marieta McGrant)

Met dié woordkuns wat nog in my broei, lees ek die ATM se visie: om die welstand van Afrikaans binne die groter Suid-Afrikaanse gemeenskap te bevorder. Hulle wil wedersydse respek en verdraagsaamheid tussen lede van die Afrikaanse taalgemeenskap bevorder om sodoende ’n sterker gedeelde kulturele identiteit te help skep, luit hul missie. Ek knik my kop instemmend, dis eerbare doelwitte.

Toe ons die pragtige uitsig nog een maal inneem en probeer onthou voordat ons in die kar klim en bergaf ry net nadat die son gesak het, klop ons harte inderdaad warm vir die totale Afrikaanse taalgemeenskap. Ons het die respek, verdraagsaamheid en liefde tussen Afrikaanses vanaand opnuut beleef. Ons sal ons Afrikaanse identiteit aanhou koester en ons toekomsdrome in Afrikaans verwesenlik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Dit is hoogtyd om weg te beweeg van die vieslike woord: Afrikaners; dit verander na iets gepas soos Kwakaanders, Afrikaders of nee, vra vir die mense wat eintlik vir die taal se ontstaan verantwoordelik was, die ander, hul weet en het dit gehet. Die sg Afrikaners was nooit niemand nie, het nie ‘n land nie en nog minder eie ‘n taal. Die potpourri van rasse hier op die suidpunt word nog; was nog nooit… Ons bou nog aan die ‘toring’ van Babilieë vir die volkse en mengelnasie. Gelukkig het ons darem al ‘n location… ‘n nes vir opoffer, gee en dien van onse koekerasie-meesters. Skies dat ek leef.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.