Kuns-ekspo vir onderwysers by die Voortrekkermonument  

Foto: arttherapyblog.com

Foto: arttherapyblog.com

Kunsonderwysers kan uitsien na ʼn kuns-ekspo wat deur die Opvoedkundige Diens van die Voortrekkermonument aangebied word.

Die ekspo is gemik op kunsonderwysers van graad 8 tot 12. Hulle sal gedurende die ekspo ʼn blitstoer deur die monument onderneem met die klem op temas wat vir hulle belangrik is. Tydens die toer sal daar spesifiek gekyk word na Afrika-invloede op die gebou en uitleg, geslagstereotipering en die kunsproses van die friespanele en tapisserieë.

Die monument beskik oor talle kunswerke en argitektuur wat besoek word deur skoolgroepe vir die begeleide toer wat fokus op die kunsproses en -vertolking.

Ses kunstenaars en ontwerpers (Roy Starke, Jahni Wasserfall, Hanna Jacobs, Rachel-Mari Ackermann, Minette van Rooyen, Lynette te Krooden, Susanna Swart en André Naudé) sal ook tydens dié geleentheid hul tegnieke en media aan die onderwysers demonstreer. Verskeie verskaffers van kunsmateriale sal ook hul produkte vir die groep ten toon stel.

Daar het reeds 130 onderwysers onderneem om dié geleentheid by te woon en diegene wat deelneem, sal die monument, Galery 20/20, die kultuursaal en Voortrekkersaal (op die piekniekterrein) op ʼn wisselende grondslag gebruik sodat elke kunstenaar ongeveer 20 persone per halfuur kan huisves.

Die ekspo word op 19 Junie van 08:00 tot 14:30 aangebied. Bel gerus Christo Rabie by 012 326 6770 of stuur ʼn e-pos na [email protected] vir meer inligting.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.