Kunste kry woning aan die voete van monument

Gaste stap deur die kunsuitstalling. (Foto verskaf)

Kuns, drama en musiek het ʼn nuwe tuiste in die Jakarandastad gevind met die opening van die Federasie vir Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se eie kunsgalery by die Voortrekkermonument.

“Kundramus staan vir die samekoms van kuns, drama en musiek. Dit is presies wat vanaand hier gebeur het. Die Voortrekkermonument is nie ʼn dooie gebou nie, maar ʼn plek waar die kunste gevier word,” het dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK en Voortrekkermonument, met die bekendstelling van die galery gesê.

Die gospelsanger Piet Smit en die akteur en sanger Johan Scholtz het ook Vrydagaand tydens die amptelike opening van die kunsgalery opgetree.

Kunstenaars soos Gerrit Pitout en Kobus Möller stal tans van hul spogwerke in die Voortrekkermonument se Senotafsaal uit.

Kobus meen die kunswaarderingskultuur het oor die jare verbrokkel.

“Op ʼn stadium was daar minstens twee kunsgalerye in elke dorp. Hartbeespoortdam se omgewing was byvoorbeeld dié kunsdorp en vandag weet ek nie meer of daar nog een galery bestaan nie.”

ʼn Kunsgalery soos hierdie gee hom egter opnuut motivering om by die Voortrekkermonument uit te stal.

“Dit is sekerlik die mees fenomenale gebou in Suid-Afrika om by uit te stal.”

Gerrit, van wie die Voortrekkermonument ʼn jaar gelede ses skilderye vir die Vrijheidsreisuitstalling gekoop het, het sy waardering vir die kunsgalery beklemtoon.

“Om by die Voortrekkermonument uit te stal, het gekom as ʼn wonderwerk van bo met die hulp van dr. Danie en Kobus. Dit is ʼn geweldige positiewe geleentheid vir ons kunstenaars.

“Die moontlikheid om ʼn skildery te verkoop is nou baie groter as voorheen. Ek glo ons uitstalling gaan net groei van hier af,” meen Gerrit.

Antonis Mandritis, hoë kommissaris van Siprus, het ook die geleentheid bygewoon. (Foto verskaf)

Antonis Mandritis, hoë kommissaris van Siprus, het ook die geleentheid bygewoon en hy was vol lof vir die FAK en Afrikanergeskiedenis en -kultuur.

“Die mense, die atmosfeer en die kuns; alles hier is net ongelooflik.”

Volgens Marize Möller, Kobus se dogter en organiseerder van Kundramaus, het daar voor die aanvang van die bekendstelling reeds ses skilderye en ʼn beeld verkoop.

Die kunsuitstalling is oop vir die publiek om enige dag van die week te besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.