Kunstefees om Abraham Kriel-kinderhuis se deure oop te hou

Abraham Kriel Kindersorg. Foto: Facebook via Abraham Kriel Kindersorg.

Abraham Kriel Kindersorg. Foto: Facebook via Abraham Kriel Kindersorg.

Verskeie bekendes sal op 28 Mei by ʼn kunstefees in Modimolle (Nylstroom) in Limpopo te sien wees ten bate van die Abraham Kriel Kinderhuis.

Die kunstefees, by Shangri-La Country Hotel op die dorp, is ʼn poging om dié kinderhuis se “deurlopende finansiële krisis” tydelik op te los en die kinderhuis se deure oop te hou.

Gerda van der Merwe, uitvoerende hoof, het gesê die kinderhuis het ʼn ooreenkoms met die staat dat geld vir die kinders driemaandeliks oorbetaal word. “Ons wag egter dikwels baie lank vir die geld,” verduidelik sy. “Ons moes verskeie kere maande lank, sonder enige geld van die staat, die kinderhuis steeds finansieel dra. Die laaste keer het ons vyf maande gewag om geld te kry.”

Van der Merwe het gesê hoewel die staat veronderstel is om R2 500 per kind per maand by te dra, kos dit die kinderhuis bykans R5 400 per maand om ʼn kind te versorg. Abraham Kriel in Modimolle huisves tans 170 kinders.

“Ek weet nie wat sou gebeur as ons een maand nie die mas kon opkom nie. Die kinders sou heel moontlik moes teruggaan na die omstandighede waaruit hulle in die eerste plek geneem is.”

Volgens haar het die kinderhuis tot dusver sy deure oopgehou deur gemeenskapsondersteuning. “Ons kry baie ondersteuning van die gemeenskap. Hulle dra ons verskeie kere wanneer daar bloot nie geld is nie. Die mentorskapprogram dra ook baie by.”

Oor die beplande kunstefees sê Van der Merwe “dit gaan ʼn kunstefees in elke sin van die woord wees”. “Daar is die hele dag uitstallings en ander programme waarna mense kan uitsien.”

Benewens ʼn tee vir vroue saam met Susan Coetzer (R150) en ʼn optrede deur Pedro Kruger (R80) is daar ook ʼn konsert onder die sterre saam met Corlea Botha, Anna Davel, Mathys Roets, die Sterling Brothers en Kevin Leo (R100). Daar is ook  ʼn wynproe-geleentheid vir die wynliefhebbers.

Van die programme wat gratis aangebied word, is onder meer ʼn sjokoladedemonstrasie, ʼn werksessie om ouers te help om liefde vir lees by hul kinders te kweek en kinderteater.

Kaartjies kan vooraf bespreek word deur Cecile le Roux of Yolande Matthee te bel by 014 717 5264.

Besoek Abraham Kriel Kinderhuis  (Modimolle) se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Esmarie Pretorius ·

Kyk die lewe is duur, maar R5400 per kind klink nie vir my reg nie.

E.K. ·

Esmarie – jy is onkundig oor alles. Die kinders is meestal nie weeskinders maar deur hof daar geplaas weens mishandeling/verwaarlosing. Dus het sulke kinders terapie nodig wat nie daar beskikbaar is want dis ‘n klein dorpie. Hulle moet dus elke keer deurry Pretoria toe, petrol, tolgeld, terapiekoste. Weet jy wat kos ‘n sessie by ‘n arbeidsterapeut of sielkundige??Dis een ding. Onderhoud van sulke plekke is nie kleingeld nie. Dan is daar nog personeel, skoonmakers, tuinwerkers, huisouers ens. Dink aan klerekoste en voedsel en sporttoerusting en ook onderrig in skere buitemuurse aktiwiteite nie deur skole aangebied – hulle wil ‘n “fully rounded” kind die wêreld instuur so hul doen hul bes dat kinders allerhande stokperdjies en dinge doen.Gaan kyk op hul webwerf net hoeveel voedsel hul per maand gebruik en probeer die koste bereken! Ek weet Me Van der Merwe het begin met aanlê van ‘n groentetuin om selfversorgend te probeer wees, maar daar is dan steeds koste vir tuiniers. Dink aan elektrisiteit en water kostes. Goed soos linne wat ook nie vir altyd hou nie. Ek is al lank by hulle betrokke en ek weet hoe dit gaan en hoe hard Gerda en haar personeel werk om die heel beste vir stukkende kinders te kry. In plaas van negatief reageer, raak betrokke. Sluit aan by hul mentor program – dit verander sommer jou uitkyk op baie dinge!

Gesiggie ·

Mag hierdie Kunstefees 100 % suksesvol wees, om hierdie arm kindertjies te help, om nog n kans te kry? Ja well die Staat sal eerder geld mors op dinge wat minder belangrik is, as om te voorsien aan die wat dit regtig nodig het… Ja R5400.00 klink baie Esmarie… maar wat kos s, klere en skool benodighede al? Sterkte aan jul almal by Abraham Kriel, mag God jul bewaar, en help, sodat hierdie deure nog vir baie jare sal oop bly”’ Als wat mooi is.

Gogga ·

My hart word bitter seer as ek sulke gevalle lees. Waarom doen die blankes soveel moeite waar dit by anderskleurige kleuterskole, weeshuise, bewaarplekke ens. kom? kruip hulle g*t of wat? As mens die tv aanskakel en daar is iets oor die ‘agter-geblewenis’, wat deur blankes ge-borg word met kos, klere, geld, skole, mediese dienste ens, ja, alles!! ek moes ook 57jr gelede gehelp gewees het want ons het bitter swaar gekry – maar nee, die wittes het dit mos net lekker gehad. So kom julle, steek bietjie julle hande in jul sakke en help die kinderhuis!

Tans ·

Wat my hart bitter seer maak is dat iets so positief soos die berig wat gaan oor ‘n helpende hand en na die omsien van Kinders kan verander word in ‘n oorlog oor rasse. dit het niks met hierdie saak te doen nie. Word elke dag net meer teleurgestel in mense, kyk na die groter prentjie, Hoop regtig dat die projek ‘n groot suskses sal wees en dat die deure vir nog baie lank sal oop wees, want die Vader weet, Iemand moet daar wees vir die Kinders.

E.K. ·

Komaan mense, enigeen van bv Pretoria kan vir die dag deurry en die fees bywoon. Daar gaan oulike stalletjies wees en dit is alles vir ‘n goeie doel. Ondersteun hul en help hulle!

hans ·

N groot skande dat die staat nie sy geldelike verantwoordelikheid na kom nie,aangesien baie kinders in kinderhuise deur die howe daarheen gestuur word. Wonder net hoekom die kerk wat die kinderhuis opgerig het nie n groter geldelike kan maak nie-onthou dit is weerlose kinders wat betrokke is.

E.K. ·

Hans, weet jy hoe sukkel kerke ook deesdae? Daar is net nie meer die hardwerkende gemeentes van destyds nie. Almal sukkel en mens kan nie van net die kerk of net die gemeenskap verwag om hierdie kinders te help nie. Daar is nog ouetehuise op die dorp wat ook hulp moet kry, so ja, ek dink nie dis nie dat hulle nie wil help, hulle kan net nie. Dus is dit vir ons, die groter publiek om te help as en waar ons kan. As elke ou wat hier lees ‘n maandelikse aftrekorder teken van selfs net R100 gaan dit al ‘n groot verskil maak. Elke bietjie help. Mens weet naderhand nie watter nuwe of interessante manier gebruik kan word om geld in te samel so siende Aardklop nie meer is nie, is hierdie ‘n uitstekende idee en gaan dit hopelik jaar na jaar groei en groter word. Mense wat nie die fees kan bywoon kan regtig gerus dink en doen ‘n kontantskenking al is dit ook net eenmalig.

Hilda du Toit ·

Ek skryf hier van Abraham Kriel Kindersorg in Johannesburg en ek kan julle verseker dat dit maar broekskeur gaan om met R5 400 per kind per maand uit te kom. Ons sustersinstansie in Modimolle het ons volle steun in hierdie inisiatief en ek hoop hulle maak sakke vol geld. Dit is bitter swaar wanneer die staat nie sy verpligtinge betyds nakom nie.
Om verwarring tee te werk noem ek net dat die publikasie verkeerdelik die logo van Abraham Kriel Kindersorg in Johannesburg gebruik het en nie die van Abraham Kriel Kinderhuis in Modimolle nie. Ons mag familie wees, by wyse van spreke, maar ons het afsonderlike huishoudings. Gaan soek hulle webblad by http://www.akknyl.co.za/

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.