Kunstenaar verrig wondere met klei

Karen du Toit by een van haar kunswerke. (Foto: Verskaf)

Deur Yolanda Wessels

Karen du Toit het ʼn liefde vir enigiets kreatief; van loodglaswerk, mosaïek, skilder en haar grootste liefde, pottebakkery, waarmee sy die lewe verfraai, een skepping op ʼn slag.

Karen is die jongste van drie kinders. Sy het grootgeword en haar skoolloopbaan in Rustenburg voltooi. In 1997 is sy getroud en het sy, haar man en twee seuns na Swellendam in die Wes-Kaap verhuis.

“Daar het ons ons eie onderneming begin en tussendeur die besigheid en twee kinders grootmaak, het ek maar min tyd gekry om regtig aandag aan kuns te skenk. Ek hou van mooi om my. Ek leef my kreatiwiteit uit in ons huis en veral die tuin – nog ʼn groot liefde van my.

“Ek het sowat vyftien jaar gelede begin skilder, sonder enige formele opleiding. Aanvanklik net vir ons eie huis, maar toe my muurspasie begin min raak, het ek besluit om ʼn kunsblad op Facebook te begin om my stokperdjie aan die gang te hou.”

Karen het so baie skilderye van haar kunsblad af verkoop en ook kommissiewerk vir portretstudies begin doen. Sy het muurskilderye vir hul boekwinkel en vriende se besigheid gemaak en op twee van hul karavane geskilder. Die eerste karavaan is verkoop, staan in Stanford en dien as gaste-akkommodasie vir die nuwe eienaars. Daarna het hul ʼn 1976 Jurgens Autovilla gekoop wat sy en haar man gerestoureer het. “Ek het ʼn vrou op die kant geskilder. Ons kamp nou nog met hom en hy trek nogal baie aandag waar ons ook al gaan. My man vertel graag dat ek op hóm ook sal skilder as hy lank genoeg stilstaan.”

In November 2018 het ʼn goeie vriendin van Karen vir haar ʼn pot in die vorm van ʼn gesig met ʼn plantjie in as geskenk aan haar gegee. “Eendag sê ek vir my man terwyl ek die gesigpot so bekyk: ‘Ek wonder of ek so iets met klei sal kan doen?’ En net daar en dan het my journey met klei begin. Ongeveer vier maande nadat ek vir die eerste keer met klei gewerk het, vertel die einste vriendin wat baie in die dorp betrokke is dat sy graag ʼn fondsinsameling ten bate van die Drostdy Museum in Swellendam wil hou, en dat sy die idee het om die vroue wat ʼn rol in Swellendam gespeel het (onder andere MER, Lang Elsie, Helena ten Damme en Sofietjie) saam met die Overbergse geskiedenis te vereer. Die uitstalling sou heet Ikone van die Overberg. Sy het vir Karen gevra of sy bereid sou wees om agt beelde van die verskillende vrouens te maak, waarop sy sonder om te dink ingestem het. “Ek het agterna gewonder waarin ek myself begewe het! Ek het in daardie stadium nog eers met klei begin eksperimenteer en myself begin vind; daar was nie ʼn manier dat ek al reg was vir so ʼn groot uitdaging en geleentheid nie. Maar ek wou haar nie teleurstel nie en my man het my ook oorreed dat ek dit sou kon doen.” Die uitstalling was vir Oktober 2019 beplan en Karen het dadelik aan die werk gespring om die agt beelde betyds klaar te kry. Sy vertel dat heelwat dinge uit onkunde verkeerd geloop het. Die droogproses onder andere, want dit was in die hartjie van die winter. Ook glasuur wat nie ontwikkel het nie, beelde wat gekraak het en, die grootste uitdaging, die feit dat van die vroue in die 1700’s geleef het en daar geen verwysingsfoto’s vir die meeste van hulle te vinde was nie. “Ek is behoorlik by die diep kant ingegooi en het besluit dat sink beslis geen opsie was nie. Die beste leerskool vir my was nog altyd om deur my eie foute te leer. So het ek met ʼn piepklein droogoond, wat net een beeld op ʼn slag kon bak, toe nou gelukkig betyds vir die uitstalling klaargekry.” Die funksie is in Oktober in Swellendam se stadsaal gehou wat ʼn spogete, uitstalling van die agt beelde en ʼn voorlesing oor elke ikoon se rol ingesluit het. Aan die einde van die aand is elkeen van haar beelde opgeveil. Al agt beelde is verkoop en die fondse is vir die museum se tuine aangewend. ʼn Plaaslike wynmaker het op Lang Elsie gebie, en sy word nou in die wynkelder uitgestal.

“Ons was in die toerismebedryf en het selfsorgeenhede in Swellendam gehad wat ons verhuur het toe Covid in 2020 ons almal se lewens omver kom gooi het. Ons het besef dat ons iets anders sal moet begin doen. Ons oudste seun, ook in die toerismebedryf, was op daardie stadium by ons tydens die inperking. Ek het begin om kopplanthouers uit klei te maak waarvan my man en seun dan vorms gemaak het en in sement gegiet het. Ons het besluit om sommer diep kant eerste in te spring en het heel eerste die Cape Garden Centre in Joostenbergvlakte met ons kopplanthouers genader. Hulle het besluit om ses van die twaalf te probeer.” Dit is nou amper twee jaar later. Hulle hou nou Karen se hele reeks by al vier hul takke aan, en haar koppotte is ook nou al by verskeie kwekerye in die Wes-Kaap en Tuinroete beskikbaar. GardenArts word nou deur haar seun bedryf en sodoende kan Karen net op haar kleiwerk konsentreer.

(Foto: Verskaf)

“Alhoewel ek my deesdae meer op funksionele pottebakkery soos eetborde, bakke, melkbekers ensovoorts toespits, doen ek nog steeds klein beeldjies van vroue bo-op my eetgerei, inteendeel, dit het my kenmerk geword. Beeldhouwerk is vir my eintlik presies soos skilder, net met my hande in plaas van my vingers. My man het my ook intussen met ʼn groot droogoond bederf waarin ek nou ʼn klomp goed tegelykertyd kan bak.” Karen doen net handwerk en sal eendag die moed bymekaarskraap om weer haar pottebakkerswiel aan te durf, aangesien haar heel eerste poging nog steeds teen die dak vassit. “Klei is vir my soos ʼn stresbal. Dit het ʼn ongelooflike kalmerende uitwerking op my gemoed. Tyd staan stil wanneer ek met klei werk en is beslis die medium waarmee ek die heel graagste werk. Ek skilder basies glad nie meer nie en is eintlik spyt dat ek klei so laat in my lewe eers ontdek het.”

Karen vertel dat sy haar inspirasie uit alledaagse dinge rondom haar put. “ʼn Sushi-ete uit gewone wit borde by ʼn plaaslike restaurant het my geïnspireer om sushiborde te maak in die vorm van visse met sterte wat omkrul en sodoende ook sommer plek vir die eetstokkies te maak. Ek maak ook groter sushi-opdienborde waarop ek koi-visse verf.”

Die gesin het intussen na Wildernis verhuis en is Karen nou in die bevoorregte posisie om voltyds haar passie te kan uitleef.

Haar seun het vir haar ʼn webwerf op die been gebring waar mense haar werk kan besigtig en aanlyn kan bestel: www.kdceramics.co.za. Sy is ook op Instagram en het ʼn Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.