Kunstenaars kan ʼn verskil in hul gemeenskap maak

Argieffoto. (Foto: Unsplash/Anthony Delanoix)

Sedert die stigting van die Tribuo-fonds vir die kunste is daar net minder as R3 miljoen aan plaaslike kunstenaars en tegnici uitbetaal.

Die Tribuo-fonds is gestig om tydens die wêreldwye pandemie geldelike steun te bied aan Suid-Afrikaanse uitvoerende kunstenaars, asook dié wat agter die skerms werk en nie van ʼn vaste inkomste verseker is nie.

Dié fonds maak geheel en al staat op skenkings van die publiek en die private sektor in Suid-Afrika.

Waar die eerste en tweede siklus van aansoeke hoofsaaklik op noodondersteuning gefokus het, gaan die derde ronde daarop fokus om fondse verder te laat vloei met ’n Paying it Forward-inisiatief.

Die fonds wil hiermee kunstenaars aanmoedig om hul kreatiewe talente te gebruik en dit vrywillig in hul eie gemeenskappe te deel.

“Ons weet dat om kreatief te werk, die lewensaar vir lede van die kunstenaarsgemeenskap is,” sê Cornelia Faasen, een van die stigterslede van die Tribuo-fonds en uitvoerende hoof van NATi (Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief).

“Ons wil hulle nou die geleentheid bied om iets te doen om nie net skeppend te wees en hulself te inspireer nie, maar om ook vir ander die geleentheid te gee om die kunste te beleef.”

Daarom word in hierdie ronde van befondsing gevra dat mense in die kunste voorstelle maak vir projekte wat voor die einde van Desember vanjaar uitgevoer kan word en tot voordeel van ’n sekere gemeenskap sal wees.

Die gemeenskap kan enigiets wees van medekunstenaars, ’n spesifieke geografiese gebied, ’n sosiale of kultuurgemeenskap of enige ander gemeenskap waarmee hulle identifiseer of waarby hulle betrokke is. Dit kan dalk ’n skool wees waar hulle ’n belang het of enige ander gemeenskap waar hulle hul talente met ander kan deel.

Die Tribuo-befondsing is vir die individu en nie om die projek te finansier nie. Aansoekers wat vir finansiële hulp wil aansoek doen, moet:

  1. ’n Motivering van 800 woorde skryf waarin hulle hulself voorstel en vertel wat hulle ondervinding in die kunste is, ’n beskrywing gee van die projek wat hulle wil doen, asook noem wie die mense is wat voordeel uit hierdie Paying it Forward-inisiatief sal trek.
  2. Alle projekte moet teen Desember vanjaar voltooi word en ander inspireer en motiveer om die kunste te ervaar en daarby betrokke te raak.
  3. Suksesvolle kandidate sal ook na afloop van hul projek terugvoering aan die Tribuo-fonds moet gee.

Aansoeke sluit op Sondag 24 Oktober en suksesvolle kandidate sal teen Vrydag 26 November in kennis gestel word.

Die Tribuo-fonds is ’n nie-winsgewende organisasie wat gestig is in samewerking met Karen Meiring (kykNET), Cornelia Faasen (NATi) en die Feesteforum (Aardklop, KKNK, Innibos, Suidoosterfees, Vrystaatfees en die Toyota US Woordfees) om vryskutkunstenaars finansieel te ondersteun.

Die fonds is afhanklik van skenkers en ondersteuners van kunstefeeste en die kunste in die algemeen.

Bydraes kan deur die publiek, korporatiewe instansies en filantropiese skenkers gemaak word.

’n 18A-belastingsertifikaat is op versoek beskikbaar. Kontak [email protected] vir meer inligting oor hoe skenkings gemaak kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.