Kunstenaars neem hande vir meisie se operasie

Piekniek vir Tana. Foto: Verskaf

Piekniek vir Tana. Foto: Verskaf

Die Afrikaanse kunstenaars Anna Davel, Mathys Roets, Matthys Maree en Margit Meyer-Rödenbeck het onlangs hande gevat om ʼn barmhartige heldedaad aan ʼn jong dogtertjie te betoon.

Dié kunstenaars hou binnekort ʼn konsert waar konsertgangers heerlik kan piekniek hou ten bate van die dogtertjie, wat waarskynlik doof gebore is, se tweede kogleêre inplanting.

Haar ma, Alexa Strachan, sê sy het reeds van ʼn jong ouderdom vermoed dat Tana doof is. “Sy was my vierde kind gewees. Ek het vroeg agtergekom sy reageer nie op klank of wanneer mens met haar gesels nie,” het sy gesê.

Tana is gediagnoseer met ouditiewe neuropatie, ʼn toestand wat gekenmerk word deur die seine wat vanaf die oordrom na die brein onderbroke is. Hoewel ʼn kogleêre inplanting iemand met die toestand weer kan laat hoor, is die operasie baie duur met geraamde koste van R230 000.

Strachan sê dié koste is hoog omdat die apparate van Australië ingevoer moes word.

Sy vertel die inisiatief om fondse in te samel kom al ʼn geruime tyd. “Ek is vriende met die kunstenaars wat by die piekniek gaan wees en ons ken mekaar reeds jare. Toe Mathys Roets in sy motorfietsongeluk was, het ons fondse ingesamel om hom by te staan. Ná hy weer ontslaan is, wou hy met die inisiatief voortgaan. Daarmee het ons Lucas Maree en Christa Steyn ook bygestaan.”

Strachan sê Tana het vroeër haar eerste operasie gehad vir ʼn kogleêre inplanting in die oor. Dié operasie was ʼn sukses. “Wanneer die senuwees te lank nie gebruik word nie, is daar ʼn moontlikheid dat dit nooit weer kan werk nie. Dis hoekom dit belangrik is om so vroeg moontlik die tweede operasie te doen sodat sy bi-laterale gehoor kan hê.”

Sy sê niemand kan die gevoel beskryf wat sy ervaar het toe Tana vir die eerste keer gereageer het op klank nie. “Dit was ongelooflik. En dis hoekom ek graag die operasie vir haar wil laat doen.”

Hoewel Tana steeds ná die operasie in ʼn spesiale skool sal moet aanbly en spraakterapie kry, is die gesin vol hoop dat sy volkome sal herstel.

Die kunstenaars gaan op 10 April tussen 12:00 en 15:00 by Monte de Dios in Pretoria piekniek hou om fondse vir Tana in te samel. Kaartjies kos R100 per persoon en kinders onder 13 kan gratis ingaan. Piekniekmandjies is op bestelling beskikbaar. Om te bespreek, kontak 071 100 3305 of stuur ʼn e-pos aan [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.