Kurt Darren maak Jay Dee se verjaarsdagdroom waar

Jay Dee saam met sy broer, Hano (Foto: Verskaf)

Al wat Jay Dee de Vries vir sy 23ste verjaarsdag wou gehad het, was ʼn oproep van sy rolmodel Kurt Darren af, en nou kan hy nie ophou glimlag oor ʼn verjaarsdagvideo wat Darren spesiaal aan hom gestuur het nie.

Dit het alles begin toe Jay Dee, soos elke ander oggend, by hul huis se lapa ingeloop het en kliphard sy Kurt Darren-CD begin speel het. Hy dans en sing ook altyd saam met sy rolmodel.

“Hy doen dit elke liewe oggend, dit is sy roetine. Hy staan op, dan gaan sit hy sy musiek aan en sing saam met Kurt,” het Jay Dee se ma, Mariette de Vries, gesê.

“Ons is al almal so gewoond daaraan, ons gaan net aan met ons dag. Maar daardie oggend het hy my geroep en gevra of ek hom kan afneem om vir Kurt te vra om hom op sy verjaarsdag te bel. Ek het nie regtig veel daarvan gedink nie, maar het dit gedoen en op Facebook gelaai,” het sy gesê.

Volgens De Vries hou Jay Dee, wat Down se sindroom het, al vandat hy sowat nege jaar oud is van Darren se musiek nadat hy die sanger se bekende liedjie “Meisie Meisie” gehoor het.

“As Kurt op die radio praat, dan kom sit Jay Dee by my en vra dat ons moet luister. As daar ʼn program op televisie is, en Kurt is nie deel daarvan nie, dan vra Jay Dee altyd hoekom hy nie daar is nie, en dan wil hy ook sommer nie meer kyk nie.”

Jay Dee het ook al ʼn paar keer vantevore vir Darren ontmoet.

Kurt Darren wens vir Jay Dee geluk (Foto: Skermgreep uit die video)

“Jay Dee kan nie regtig na vertonings gaan nie, want hy hou nie van raserige plekke en baie mense bymekaar nie. So, vantevore het Kurt altyd baie mooi moeite gedoen met hom; hy het hom voor die vertoning laat inkom dat hy by hom sit terwyl hy opwarm of Jay Dee kon langs hom sit wanneer hy agterna oppak,” het De Vries gesê.

De Vries het gesê hoewel Jay Dee reeds ʼn paar keer vir Darren ontmoet het, is die oproep van hom af steeds al wat hy vir sy verjaarsdag wou hê. Darren was wel in daardie stadium in die buiteland, en het toe eerder vir Jay Dee ʼn video gestuur waarin hy hom persoonlik gelukwens.

“Baie geluk met jou verjaarsdag! Jy is ʼn groot seun. Ek hoop jy word bederf, en ek hoop hulle speel vir jou een van my liedjies vandag, want ek het ʼn video van jou gesien waar jy saam met my sing, en dis só awesome,” het Darren in die video gesê.

Volgens De Vries het Jay Dee al baie kere na die video gekyk nadat hulle dit vir hom die eerste keer gespeel het, en ook vir sy vriende gewys.

Jay Dee het die res van sy verjaarsdag by hul huis en saam met vriende deurgebring. Volgens De Vries het hy en sy maats koek geëet en na Kurt Darren se musiek geluister. Jay Dee se gunstelingliedjie van Kurt Darren is tans “Laat die dansvloer brand”.

“As hy na die video kyk wat Kurt gestuur het of selfs net daaraan dink, dan trek hy sy asem so in en glimlag. Hy het vir my gesê dit was die lekkerste dag in sy lewe. Hy vra vir so min, maar die boodskap het alles vir hom beteken,” het De Vries gesê.

De Vries het gesê Jay Dee het die dag ná sy verjaarsdag weer eerste ding die oggend na hul lapa gestap om te sing, maar tóé was dit nie soos elke ander oggend nie: dít was ʼn “dankiesê”-konsert vir Kurt om hom te bedank vir die video op sy verjaarsdag.

Posted by Cecilia Van der Westhuizen on Thursday, February 21, 2019

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Wilma ·

Wow dis awesome Kurt Darren hy was darem baie dankbaar vir jou boodskap.

Landi ·

Sjoe wat n mooi gebaar van Kurt Darren, dit was n paar minute van sy tyd maar hy het die wêreld vir n kind so mooi gemaak. Dankie vir dit, maak my hart so bly om te sien ons eie sterre maak die lewe mooi vir ander mense en veral vir kinders en nog meer vir kinders met special needs. KURT ….YOU ROCK

Mamma jy is awesome om te probeer en sien sien dit het gewerk.

Lucy ·

Die opregte blydskap en dankbaarheid op Jay Dee se gesig laat mens sommer hoendervleis kry – jy is een pragtige seun Jay Dee!

Tammy ·

Kurt, daar is net een beskrywing vir jou, jy is n fantastiese mense mens, Jy het soveel omgee in jou en daarom is so baie mense so lief vir jou!!! Bly net altyd wie jy is . Kurt Rock!!

madels ·

Dis verskriklik kosbaar en dit het vir Jay Dee so baie beteken.. Darren jy is n yster!

Oumie ·

Jay Dee, jy is pragtig en geseën met 2 wonderlike ouers. Kan sommer hoor op die video hoe lief hulle vir jou is!

ek sê maar ·

Altyd, ALTYD negatiewe kommentaar hoekom weet mens nie. Sug… Mooi so Kurt!

charl ·

KURT AL WAT EK KAN SÊ IS WELL DONE JYS N ROLMODEL VIR BAIE ANDER WAT IN DIE BEDRYF IS HOOR!!! WANT ONS WAT HIER SIT SAL NIE VERSTAAN WAT DIE VIR JAY DEE BETEKEN HET NIE. WELL DONE PU TE VIR JOU

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.