Kwêla se dorp van die jaar is…

Hentiesbaai Foto: Verskaf

Hentiesbaai Foto: Verskaf

Hentiesbaai in Namibië is Woensdag aangewys as die sesde wenner van die gewilde kykNET-program, Kwêla, se Dorp van die Jaar-kompetisie.

Dié titel word toegeken aan die dorp wat die meeste SMS-stemme gekry het in die laaste stemweek van die kompetisie.

Karen Meiring, direkteur van Afrikaanse Kanale by M-Net, sê dié dorpie bring baie mooi herinneringe tuis by baie mense. “Dink jy aan Hentiesbaai, kom Carike Keuzenkamp se trefferliedjie, ‘Sarah de Jager’, dadelik by jou op. Nou lewer Hentiesbaai nog ’n treffer deur die eerste Namibiër te wees wat aangewys word as Kwêla se Dorp van die Jaar,” sê sy.

Volgens haar is kykNET opgewonde oor Hentiesbaai se nuwe status. Dié kusdorp se naam word nou by ’n gesogte lysie van wenners ingesluit. Vorige jare se wenners was Graaff-Reinet, De Rust, Sabie, Fouriesburg en Middelburg.

Die ander twee finalisdorpe in die topdrie was Potchefstroom en Paul Roux.

Karen sê dié kompetisie is ’n ongelooflike uitstalvenster vir Suid-Afrika en Namibië se pragtige dorpe.

“Dit bring dorpe bymekaar en bou gees onder die inwoners, en die dorpe kry ook ’n sterk finansiële inspuiting met toerisme wat beslis nou sal toeneem, nie net ná die wendorp nie, maar ook die agt ander finalisdorpe.”

As deel van die wennersprys, gaan Kwêla se produksiespan ook ’n advertensie van 30 sekondes vir dié dorp skiet. Dit sal boonop gebruik word in die R1 000 000-lugtyd wat Hentiesbaai kry om die dorp te bemark. Na dese kan die inwoners van Hentiesbaai ook uitsien na ’n jolige wenmakietie om die titel te vier.

Kwêla word Woensdae om 20:00 op kykNET, kanaal 144 op DStv, gebeeldsaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Karma ·

Maar dit is mos nie regverdig nie! Namibië is nie deel van SA nie; hoekom kwalifiseer ‘n dorp in ‘n buurland dan vir “Dorp van die Jaar”? Namibië is mos al JARE lank nie meer SA se protektoraat nie. Dit beteken dat Galena, Illinois (VSA) of Paia (Hawaii) of Alama in die VK of Beregnio in Italië ook mos kan deelneem! Ag nee, dit is ‘n gekonkel, KykNiks!

andrea ·

Lekker gewees om in n skoon plek te kuier,SA kan mar los!Kry skaam as ek dink wat Namibieers dink van ons land,rommelhoop!

Lizzie ·

Ek stem saam met Karma, hoe kan Namibia deel wees!!! Wat dan van die Botswana Afrikaanse kykers wat ook Kyk net het. Ek se ook dis n gekonkel, want sowaar, ek laat my nie vertel Hentiesbaai kon meer stemme kry as Swakopmund n paar jaar gelede nie. So n trietsige ou dorpie, maar KYK NET se mense het die jaar besluit hul moet darem n Namibiese dorp ook n kans gee al kry hul nie die aantal stemme nie. Nee wat hou op konkel en vertel die waarheid. Die waarheid maak mens vry!!!

Jakoba ·

Ai tog, ons Namibiers het gestem laat dit klap vir Hentiesbaai. Vir die van julle wat nie weet nie, in Namibia Bly ook mense hoor. Van julle Suid Afrikaners is darm jaloers en afgunstig.

Gerhardt ·

Ek voel Hentiesbaaie verdien die prys 100%. Pragtig skoon en mooi. Glad nie jaloers nie. En mens kan Namibie darem net met VSA ens vergelyk nie. Ek is ‘n Suid Afrikaner en het vir Henties gestem.

Hentiesbaai Bo! ·

Hentiesbaai is ‘n mooi skoon rustige kusdorpie. Soos Mnr Krause gesê het as jy op jou tone staan is jy in die hemel! Jy kry nog mens mense hier. 80% is vakansie huise, baie mooi, ‘n goeie wegbreek vir elke Suid-Afrikaner en Namibier. Dankie Kwela ons is sommer trots op ons vakansie dorpie & huisie!

DC ·

Kyk hier moet nou nie vir my probeer se dat olifant skilfers is simba chips nie….daar is mos nou geen manier hoe ‘n ou vaal Namibiese visvang dorpie meer kan bied en mooier is as Wildernis, Villiersdorp, Rhodes of die honderde ander pragtige dorpe in SA nie. di mos nou duidelik dat Namibie hier ‘n “beurt” gegee is om te wen om Kyknet (en DSTV) se blootstelling in Namibie te verhoog. Goeie reklame was nog nooit sleg nie….

Riana ·

Sjoe as mens nie weet hoe die kompetisie werk nie, moet nie jou onkunde so ten toon stel nie.

thelsa ·

Ja KARMA, LIZZIE EN DC ; Hoe moeilik dit vir julle ookal is om te aanvaar dat Namibië deel kan wees van die kompetisie, moet julle dit aanvaar. THE PEOPLE HAVE SPOKEN. Die mening van die publiek maak ook dat ‘n Steve Hofmeyer, Adam Tas, Jan Blohm en ander die populêrste en beste sangers in die land is. Die mening van die volk laat jou menige keer maar net wonder.

DC ·

@thelsa – And your point is ? My kommentaar het maar net uitgewys HOEKOM dstv dit verkies het om ‘n Namibiese dorp te laat “wen”. Namibie het sy eie skoonheid en karakter, maar die feit bly staan dat Hentiesbaai nie ‘n patch het op dorpe soos McGregor, Langebaan, Mosselbaai, Phillipolis, Clarence ens ens….nie. Kom ons wees nou maar eerlik daaroor.

M.A. ·

Ag nee kom nou broers en susters suid van die Oranje! Daar is baie noue bande tussen die RSA en Namibie. Ons ondersteun die Springbokke hart en siel en ondersteun Shoprite, Checkers, Clicks, Mediclinic, Game, Pep, Pick n Pay en al die vele ander Suid-Afrikaanse winkels hart en siel in Namibie! As die Rand daal, daal ons Nam Dollar ook! As droogte julle in die RSA tref, tref dit ons ook! Ons kinders studeer aan Tukkies, Maties, Ikeys, Kovsies en Noordwes! En ons kinders trou met Suid-Afrikaners! En in baie van ons vloei Suid-Afrikaanse bloed… Gun mekaar geluk!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.