Kwiltgilde se handwerk by monument uitgestal

Die Jakaranda-kwiltgilde het vandeesweek ʼn kleurvolle uitstalling van 68 kwilte by die Voortrekkermonument. Laetitia Cilliers is die voorsitter van die Jakaranda-kwiltgilde. (Foto: Verskaf)

Die Jakaranda-kwiltgilde het vandeesweek ʼn kleurvolle uitstalling van 68 kwilte en ses baadjies by die Voortrekkermonument.

Laetitia Cilliers, voorsitter van die Jakaranda-kwiltgilde, sê al die wonderlike kwilte wat hier uitgestal word, is tydens die Covid-19-tydperk gemaak.

“Om kwilte te maak, is ook meditasie en terapie. Dié gilde is vir vroue met ’n passie vir mooi lap wat hulle versamel en koop en in klein stukkies sny en dan saam weef om die lap nuwe karakter te gee. Ek sê altyd ons verf met lap. Om te kwilt is ’n baie belangrike kreatiewe uitlaatklep vir vroue.”

Tweedehandse baadjies is aangekoop en van die vereniging se 200 lede, wat hoofsaaklik in die Jakarandastad woon, het gewerkskaf om die kledingstukke ʼn nuwe lewe te gee.

“Dit is ’n baie ou kunsvorm wat van oumas na ma’s en kinders oorgedra word,” sê Cilliers

Daar is ook kwilte op die uitstalling te sien wat vir kompetisies ingeskryf was.

“Slegs vier van die kwilte hier is te koop, maar sou iemand belangstel in van die ander wat op uitstalling is, kan ons die eienaars kontak en hoor of hulle bereid sal wees om dit te verkoop,” sê sy.

Die vier kwilte wat te koop is, kos R4 000 stuk. Daar is egter kwilte van kompetisiewenners wat meer as R20 000 sou kos as hulle te koop was.

Saterdag hou die gilde ’n vriendskapsvergadering waar verskeie tegnieke en kwilte bespreek sal word.

Cilliers en haar kollega Merilyn Kelly is by die uitstalling om die kwilte te hanteer en te skuif as die publiek die agterkant van die kwilte wil sien.

Laetitia Cilliers en Merilyn Kelly van die Jakaranda-kwiltgilde. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.