Kyk: Afrika se topfotograwe vereer

Tim Driman se ‘Down the hatch’ is as beste wildslewefoto aangewys. (Foto: Tim Driman)

Die wenners van die derde jaarlikse Africa Photo-pryse is onlangs aangekondig tydens ʼn seremonie wat by die Keyes Art Mile in Johannesburg plaasgevind het.

Die doel van die gesogte geleentheid is om ʼn kompetisie te skep wat fotografie in die Afrika-konteks ontdek en fotograwe as indiwidue uitdaag.

Die Africa Photo-toekennings is ʼn niewinsgewende kompetisie en word geborg deur Fujifilm Suid-Afrika en Qphoto ProLAB.

Tim Driman se Down the hatch het die prys vir beste wildslewefoto gewen, Jcclick Photography se Wherever the wind may take us het die prys vir beste troufoto huis toe gevat en Lionell Botha se Covid Valentine het die prys vir beste konseptuele foto ingeoes.

Charlaine Gerber se The cattle herd in the mist het gewen vir beste redaksionele foto, Bertus Hanekom se White horse vir beste fynkunsfoto, Pieter Pieters se Window to the soul vir beste portret, Nicolene Cresswell se Rocky blues vir beste landskap en Joseph Abbey Mensah se Makola het die prys vir beste modefoto gewen.

Die toptien inskrywings in al nege kategorieë word ook tans vertoon in die Gallery Trumpet op die Keyes Atrium in Rosebank, Johannesburg.

Volgens Deon Brits, algemene bestuurder van die Imaging Solutions Division by Fujifilm Suid-Afrika, is die Africa Photo-toekennings belangrik omdat dit die gehalte van fotografie op die Afrika-vasteland erken.

“Geskiedkundig het Afrika uitnemende fotograwe opgelewer wat dalk nie die internasionale erkenning ontvang het wat hulle verdien nie. My wens is dat die Africa Photo-pryse ʼn voertuig word vir fotograwe om hul gehalte van fotografie te vertoon en hul werk oor die algemeen te bemark,” het Brits gesê.

Fotograaf van die jaar

Melanie Cornelius van Kaapstad is met die toekenning vir beste abstrakte foto vereer vir die foto ‘Spring-Buck-features’ en is ook as fotograaf van die jaar aangewys. (Foto: Melanie Cornelius)

Inskrywings vir die Africa Photo-toekennings is van oor die hele vasteland ontvang, met die Suid-Afrikaanse fotograaf Melanie Cornelius wat die prys vir fotograaf van die jaar ingeoes het.

Haar foto getiteld Spring-Buck-features het ook die prys gewen in die kategorie vir abstrakte foto’s. Cornelius se foto is in die Kgalagadi-oorgrenspark op die grens tussen Suid-Afrika en Botswana geneem.

In plaas daarvan om die springbok vas te vang as deel van ʼn groter omgewing, het sy gewag vir die dier om parallel met die voertuig te draai en daarna op hom ingefokus.

Sy het die lyne en die wisselwerking van die bok se hare met die lig raakgesien en dit het die perfekte swart-en-wit foto geskep toe sy die sluiter druk.

Cornelius is van Kaapstad afkomstig en is ʼn voltydse fotograaf. Sy help ook ander fotograwe deur werksessies om hul kuns te slyp. Sy het oor die afgelope drie jaar meer as 60 studente gementor.

Cornelius was in 2019 ook ʼn finalis in die abstraktefoto-kategorie en vanjaar het twee van haar abstrakte foto’s die toptien in dié kategorie gehaal.

Haar prys vir fotograaf van die jaar sluit ʼn Fujifilm X-H1 spieëllose kamera, batterygreep en Fujinon XF 18-55mm F.2.8 lens in. Sy wen ook ʼn R5 000-drukkersgeskenkbewys van Qphoto ProLAB en ʼn Instax Square SQ20 kitskamera en film. Elkeen van die kategoriewenners ontvang ʼn R2 000-drukkersgeskenkbewys van Qphoto ProLAB en ʼn Instax Mini 11 kamera en film.

ʼn Paneel van agt beoordelaars het vanjaar die wenners gekies. Topfotograwe van oor die vasteland, soos Sarah Waiswa van Uganda, Héla Ammar van Tunisië, Gurcharan Roopra van Kenia en Mauro Pinto van Mosambiek het in dié paneel gedien.

Dennis da Silva, Michael Meyersfeld en Harry de Zitter van Suid-Afrika het ook in die paneel gedien.

Vanjaar is 25% van die inskrywings van buite Suid-Afrika ontvang, met fotograwe wat werke vanuit Sierra Leone, Ghana, Mosambiek, Madagaskar, Ethiopië, Botswana en Guinee ingeskryf het.

Lede van die publiek kan nog tot 15 Januarie 2022 stem vir die People’s Choice Fujifilm-toekenning. Die foto’s wat in dié kategorie in aanmerking kom vir die prys, kan hier gesien word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Strandloper ·

Pragtig…klip ini bos…gee ons lesers ook n kans…dalk n kompetiesie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.