Kyk: ‘Frozen’-dogtertjie sing Oekraïense volkslied in Pole

Amelia Anisovych het voor duisende mense die Oekraïense volkslied gesing. (Foto: skermgreep uit die video)

Die Oekraïense dogtertjie wat onlangs harte geroer het toe sy die Disney-lied “Let it go” in ʼn bomskuiling in Kiëf gesing het, se droom om voor ʼn gehoor op te tree is bewaarheid.

Amelia Anisovych is genooi om die Oekraïense volkslied by ʼn liefdadigheidsgeleentheid te sing ten bate van ondersteuning aan Oekraïense vlugtelinge in Pole nadat ʼn video waarin sy dié trefferlied uit die fliek Frozen sing wêreldwyd opspraak gemaak het toe dit op sosiale media gedeel is.

Maroela Media het vroeër berig dat Marta Smekhova, een van duisende Oekraïners wat weens die voortslepende konflik tussen Rusland en Oekraïne saam met Anisovych in die skuiling in Kiëf was, oorspronklik die video op Facebook gedeel het. Sy het vertel dat Anisovych vir haar gesê het dat sy daarvan droom om eendag voor ʼn gehoor te sing.

Bekendes, onder wie stemakteurs en liedjieskrywers uit dié geliefde film, het gevolglik na Amelia uitgereik en haar op sosiale media geprys en bemoedig.

Die sewejarige Anisovych, wat nou saam met haar broer veilig by hul ouma in Pole is, het harte opnuut gesteel toe sy die volkslied tydens die “Together with Ukraine”-konsert in ʼn tradisionele Oekraïense uitrusting gesing het.

Luidens mediaberigte is nagenoeg $38 000 (sowat R563 178) deur dié geleentheid vir ʼn Poolse liefdadigheidsorganisasie wat sielkundige ondersteuning en hulp aan vlugtelinge uit Oekraïne bied, ingesamel.

Anisovych se ouers is glo steeds in Oekraïne.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.