Kyk: Voortrekkermonument kry nuwe ‘kinders’

Esmé Cilliers besoek gereëld die Pionierswerf om die diere te voer. (Foto: FC Pelser)

Die Voortrekkermonument (VTM) het die afgelope tyd ʼn gedaanteverwisseling ondergaan met al die nuwe aktiwiteite en besienswaardighede wat op die perseel bygekom het.

Die Pionierswerf het vandag ook sy beurt gekry en ʼn paar nuwelinge het hul intrek in die “troetelwerf” geneem. Twee boepensspeenvarkies, drie makoue en twee kalkoene is nou gereed om kinders te vermaak wat meer wil leer oor die trekkerlewe tydens die Groot Trek. Werfdiere en vee was immers noodsaaklike medetrekkers gewees.

Einde verlede week het twee dwergbokkies, Dirkie en Basjan, ook bygekom wat die eerste hoender-inwoners, Gezina, Lenie en Chris-die-Haan de Wet, kom geselskap hou het.

 

Esté Cilliers, bestuurder van programaktiwiteite by die Pionierswerf, is reeds dolverlief op haar dierekinders. (Foto: FC Pelser)

 

“Ons is baie opgewonde om al die nuwe diere by ons te kon verwelkom en ons sien baie daarna uit om te sien hoe ons pionierswerf nog kan groei,” sê Esté Cilliers, bestuurder van pionieraktiwiteite by die VTM. Sy sê daar is nog perde, poue en geelbekeende op pad.

“Ons wil graag besoekers aan die monument uitnooi om ’n draai by die pionierswerf te kom maak om meer oor die trekkerlewe te leer, en dan natuurlik om te sien hoe dié plaasdiertjies versorg word.”

Renier Roets, eienaar van Volmoed Boerdery in Brits, was die goedhartige skenker van die speenvarkies en kalkoene.

 

Renier Roets is baie trots om van sy diere aan die Voortrekkermonument te kon skenk. Lizette Jansen, bestuurder van programontwikkeling by die Pionierswerf bedank hom. (Foto: FC Pelser)

 

Hy vertel dat dit ’n groot voorreg vir hom was om tot die monument te kon bydra en die uitbreiding en beskerming van ons ryk kultuurerfenis, wat natuurlik boerdery insluit.

“Dit doen my as boer se hart goed om te sien dat daar nog kinders is wat wel belang stel in ons geskiedenis, ons tradisies én die natuur,” sê hy.

Hy het sy hoop uitgespreek dat dié diere vir baie kinders en grootmense vreugde sal bring en hulle sal begeester om meer van die plaaslewe en natuurbewaring te leer.

Cilliers sê die VTM-personeel wil graag die publiek en ondersteuners van die monument uitnooi om aan die Pionierswerf-pret deel te neem en hulle te help om name vir die nuwe diere te kry.

 

Die twee nuwe intrekkers by die Pionierswerf kort name. (Foto: FC Pelser)

 

“Ons het wel besluit om ons twee dwergbokkies Dirkie en Basjan te doop, maar ons het ook besef ons wil graag hê die ondersteuners van die VTM moet deel hê aan die pret, so ons het besluit om mense uit te nooi om ons te help om die nuwe diere – twee kalkoene (’n mannetjie en ’n wyfie), twee varkies (’n beer en ’n sog) en drie makoue (twee wyfies en ’n mannetjie) – name te gee.

Besoek gerus die Voortrekkermonument se sosialemediaplatforms om jul idees te deel.

Dié twee varkies het heelwat oorreding nodig gehad om hul nuwe tuiste te aanvaar:

 

Die pluimvee se vlerke moet eers geknip word sodat hulle nie oor die troetelwerf se heining kan vlieg nie:

 

Dié makou is heel beïndruk met sy nuwe dam se water:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anel ·

Die hoenders se name is heel oorspronklik. Lekker gegiggel ek nou. Dis wonderlik om van al hierdie mooi dinge te lees wat ons erfnis en kultuur uitbeeld.

Mallie ·

Dit is goeie nuus vir n slag. Ek hoop net dat hulle veilig sal wees en dat daar na hulle omgesien sal word. Daar is te veel diere wat verwaarloos word. Dankie aan almal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.