kykNET kondig wenner van Kwêla se Dorp van die Jaar aan

Die aankondiging word gemaak. Foto: Verskaf

Mosselbaai is as die sewende wenner van die Kwêla Dorp van die Jaar-kompetisie gekroon.

En, dié Suid-Kaapse kusdorp se naam word nou by ’n gesogte lysie van wenners ingesluit.

Hentiesbaai het in 2016 met die louere weggestap en Graaff-Reinet, De Rust, Sabie, Fouriesburg en Middelburg het ook al die Dorp van die Jaar-kroon gedra.

Die Kwêla Dorp van die Jaar-titel word toegeken aan die dorp wat die meeste SMS-stemme gekry het in die laaste stemweek van die kompetisie.

Die ander twee dorpe in die topdrie was Nelspruit en Barkly-Oos.

“Met die kompetisie kry Suid-Afrikaanse en Namibiese dorpe ’n kans om op te staan en te sê: kyk na al die wonderlike goed wat in my dorp aangaan!” sê die Kwêla-aanbieder en organiseerder van die kompetisie, Therese Benade.

Foto: Pixabay

“Dit spreek tot mense se passie vir dít wat hulle ‘huis’ noem en gee gemeenskappe kans om uit te reik na mekaar, en saam te bou aan iets wat voordelig is vir almal.”

Volgens Therese was die topdorpe gelyk en bykans elke dag het ’n ander dorp die voortou geneem.

“Die dorpe het ongelooflik hard gewerk en wat ook uitgestaan het, is hoe die mense uit verskeie oorde in dorpe hande gevat het – besighede, toerisme en munisipaliteite.

Afrikaans.com, die kompetisie se hoofborg, se Hoe lyk Afrikaans in jou dorp-veldtog het ook vir inwoners ’n interaktiewe platform gebied om te spog met dít wat hulle dorpe uniek maak.

Nie net kan Mosselbaai nou met ’n gesogte titel spog nie, maar Kwêla se produksiespan vervaardig ’n advertensie van 30 sekondes vir dié dorp. Dit sal boonop ook gebruik word in die R1 000 000-lugtyd wat Mosselbaai kry om die dorp te bemark. Boonop kan die inwoners van Mosselbaai uitsien na ’n wenmakietie om die titel te vier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nettie ·

WAT????!!! Daai ou aaklige dorp met sy nou straatjies waar jy hier nét óp en daar nét áf mag ry (eenrigting strate) – met sy steil bulte, stink ou hawe en vuil middedorp? Aggenee, man, al het die mense gestem daarvoor, ek dink daar is baie mooier dorpe, bv. die Paarl. Ek sê altyd: op Mosselbaai wil ek nie doodgaan nie! Nou is ek op Worcester – en dié dorp “beat” enige ander dorp wat vuilheid aanbetref (veral op Saterdae in die middedorp), met sypaadjies en strate wat vol gate is (in die ‘onderdorp’) en misdaad wat nou so liederlik toeneem.

Bantam ·

Dis n geldmaak storie . Selfoon maatskappye maak baie hier . Elke jaar n ander dorp en ja daar is baie mooier en skoner dorpe .

Ada ·

Ag nee Nettie hoekom is Mosselbaai dan so vol vakansie besoekers Wat is daar in die warm verstikkendende Worcester net ‘n klein Mall en verder niks Jou brein brand vas daar Mosselbaai is ‘n baie lekker dorp en geskiedkundig

Deon ·

Mosselbaai is ‘n pragtige dorp. Ek stem egter nie saam met die stem proses nie. Slegs ‘n onafhanklike paneel moet daardie besluit neem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.