Kyla ry weer perd

Kyla Rouvoet. Foto: Facebook

Kyla Rouvoet (16) het Maandag vir die eerste keer in weke weer terug op ’n perd geklim ná haar ongeluk verlede maand.

Kyla, ’n kunsruiter, is aan die begin van Maart na die Mediclinic Sandton gehaas nadat haar perd, Mighty Star (9), op haar geval het kort voor sy aan die Suid-Afrikaanse vereniging vir ruiterkunsskole (Sanesa) se dresseerkompetisie by Eaton Farm naby Kyalami sou

deelneem.

Steven Rouvoet, Kyla se pa, sê dit gaan goed met sy dogter. Sy was Maandag terug op die perd en gaan nou begin oefen vir die volgende perdeskou in Mei.

“Ons gaan dit nou eers rustig vat. Sy oefen nou net om weer haar ritme te kry. Ons vat dit stadig maar seker,” het Rouvoet aan Maroela Media gesê.

Kyla het wel nog nie weer op Mighty Star geklim nie. Sy het eerder besluit om op haar springperd, Kalahari, te ry toe sy Maandag weer begin het.

“Kyla het seker so 35 minute op haar springperd gery. Hulle het darem bietjie galop en gedraf ook,” het Rouvoet gesê.

Kyla toe sy Maandag weer perdgery het (Foto: Verskaf)

Volgens Rouvoet het Kyla ten volle herstel, maar ondergaan nog sielkundige behandeling.

“Dit is maar net om die skok van die voorval te verwerk en seker te maak haar onderbewussyn veroorsaak nie dat die ongeluk haar onderkry nie. Vir Kyla is dit nou baie anders om op ’n perd te wees.”

Kyla is nietemin verheug om terug op die saal te kan wees.

“Sy is baie gelukkig, dit is nou maar net die aanpassing. Sy was so gewoond om elke dag op ’n perd te wees, en nou moet sy wéér gewoond raak daaraan. Sy was goed voorbereid vir die Sanesa-kompetisie, en dit is vir haar vreemd om nie te kon deelneem nie. Sy gaan nou begin om so drie keer ’n week perd te ry en om só stadig maar seker weer gewoond te raak daaraan,” het Rouvoet gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Theresa B ·

Ek is seker Mighty Star voel ook sleg oor die voorval. Wonderlik om te hoor dat jy terug is in die saal en met die regte hulp gaan jy weer vinnig jou spoed kry. Moet nie vir Mighty Star uitsluit nie. ‘n Geselsie en vryfie elke dag sal ook wondere verrig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.