Laat daar hoop wees

(Foto: Wout Vanacker/Unsplash)

Deur René du Preez

“Hoekom kan Oupa nie kom kuier nie? Sê vir hom hy moet hiernatoe vlieg.” Ek het nie antwoorde nie. Dit wat ons gedink het die lewe sal wees, is weg. Samesyn hierdie jaar het nie gelyk soos dit moes lyk nie.

Hierdie jaar het ons illusie van beheer aan flarde geskeur. Vir my voel dit soos ’n vliegtuigrit waar jy ’n onbekende vlieënier met jou lewe moet vertrou, midde-in ’n storm, sonder ’n plek om te land.

Ons is in Nieu-Seeland, seker een van die beste plekke om te wees in 2020. Ons eilandjie het die virus grootliks vrygespring. Ons inperking was twee maande. Net dit. Ons het vir ’n kort tyd nie toiletpapier of meel in die winkels gehad nie. Van April af kon ons egter weer vrylik rondbeweeg en redelik normaal in ons isolasie-borrel leef. Vlugte is beperk en jy mag slegs met spesiale omstandighede die land binnekom of verlaat. Verder is dinge soos “voor 2020”.

Maar…Ons het familielede aan die dood afgestaan. Ons beplande kuier in Suid-Afrika is deur gekanselleerde vlugte in die wiele gery. Ons het vriende en familie wat hul werk verloor het. Ons weet nie of die Nieu-Seelandse regering ons sal toelaat om hier te bly nie. Ons weet daar is ’n storm, ’n geveg in die res van die wêreld en dis net ’n kwessie van tyd voor dit deur ons skanse breek. Die ekonomie is onstabiel, en ons weet die dinge raak ons eintlik skrams in vergelyking met ander lande. En… ons wag vir die impak van die wêreld se ekonomie op hiérdie landjie.

Ons en duisende ander immigrante van oor die wêreld heen sien die donker wolke saamdrom. Ons lewe in onsekerheid. Ons kan nie aan die toekoms dink nie. Sommige van ons is geskei van ons gesinne. (’n Man van Zimbabwe wat in ons dorp bly, se dogtertjie is gebore in Februarie en hy kon haar nou nog nie sien nie.) Ons weeg ons opsies as dinge hier nie uitwerk nie. Waarheen dan? Ons belewenis van hierdie pandemie is ook een van onsekerheid en vrees vir die toekoms, hoewel dit anders lyk as ander s’n.

Tussen al die slegte nuus deur moes ek gaan soek vir hoop, vir iets om aan vas te klou wanneer alles buite beheer voel. Party dae was die ontnugtering en oorweldigende chaos net te erg. Elkeen voel dit op hul unieke manier hierdie jaar. Maar my geloof het my staande gehou. Daar was vir my antwoorde in die Bybel, en berusting.

Vir my was daar ook hoop in die saamstaan van mense. Mense in ons gemeenskap wat vir die bejaardes gaan kos en medikasie koop en voor hul deur afgelaai het, sodat hulle nie hul huise hoef te verlaat nie. Mense in Suid-Afrika wat ten spyte van die regering se waansinnige reëls kos gaan uitdeel het aan wie dit nodig het. Mense wat op halwe salarisse leef wat steeds gegee het vir ander om kos te kan kry. Onderwysers wat skielik aanlyn klasgee tot laat in die aand terwyl hulle ook hul eie kinders en huishoudings aan die gang moet hou. Onderwysers wat lesse teen die hekke van die skool gaan vasmaak het vir kinders wat nie toegang tot die internet het nie. Mense wat in hospitale, ouetehuise, kinderhuise, nooddienste, winkels, liefdadigheidsorganisasies en gemeentes steeds ander eerste stel al weet hul van die risiko’s. Immigrante wat mekaar help met kos en geld en saam baklei vir ons regte en ons toekoms, maak nie saak van watter land ons kom nie.

Dit gee my hoop. Dit was wel die jaar van kant kies. Dit was die jaar van standpunt inneem. Dit was die jaar waar louwarm tot ’n einde gekom het. Party dinge het kookpunt bereik. Ander dinge het koud gesterf. Ek hoef nie vir jou te vertel van die dinge wat hierdie jaar gebeur het nie, die nuus en sosiale media het reeds.

Hierdie was die jaar van die virus en die inperking, maar dit was ook die jaar van saamstaan. Die samekoms van mense van elke ras en kleur in omgee vir mekaar, wêreldwyd. Te midde van die chaos en negatiewe nuus was daar mense wat tyd gemaak het vir mekaar, wat opgeoffer het vir mekaar. Dit was die jaar wat my weer hoop gegee het vir die mensdom. As daar flieks gemaak word van die jaar 2020, laat hulle fokus hierop: die Liefde.

Meer oor die skrywer: René du Preez

René du Preez is ʼn projekbestuurder, ma en eggenote. Sy is passievol oor die natuur, mooi musiek en kuns. Skryf is vir haar ʼn manier om sin te maak van die wêreld en ʼn stukkie van haarself vir mense te gee. René en haar gesin woon tans in Nieu-Seeland.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.