Laat ʼn brakkie se Kerswens waar word

(Foto: Facebook via Woodrock Animal Rescue)

(Foto: Facebook via Woodrock Animal Rescue)

Deur Megan van Wyngaardt

Mense vra dikwels of dit ʼn goeie idee sal wees om vir iemand ʼn hond as ʼn Kersgeskenk te kry, en dan is die daaropvolgende vraag gewoonlik watter tipe hond, of honderas, die beste sal wees om veral met kinders in gedagte te kry. Die antwoord op die eerste vraag is, nee, dis nooit ʼn goeie idee om ʼn hond as ʼn geskenk te gee nie, want enige dier, maar veral honde, is ʼn groot verantwoordelikheid.

Honde kan tussen 12 en 16 jaar leef, en as jy nou regtig daai wonderwerk hondjie gekry het, die een-in-’n-miljoen‑hondjie, dan leef hulle tot en met 29 jaar. Dit was die geval van Bluey, ʼn Australiese beeshond, wat in 1939 die aftog geblaas het. Hy het twee wêreldoorloë oorleef! Twee! Sy rekord is onlangs gebreek deur Maggie, ʼn Australiese Kelpie wat tot 30 jaar geleef het, maar nie soos Bluey in die Guiness Boek van Wêreldrekords opgeneem is nie, oor verlore papierwerk. Beide die plaashonde beklemtoon daardie verantwoordelikheid en dat daar moontlik iets in Australië se water is. Hulle was oud, 210 jare in mensjare.

Die punt is, dit is ʼn uiters persoonlike besluit om te neem wat baie bespreking verg. Is die persoon in gedagte bereid om vir ʼn groot deel van hulle lewe ʼn hond aan hul sy te hê? Sal dit by hulle leefstyl inpas? Is hulle dalk mense wat hou van reis en bitter min by die huis is? Wie gaan die verantwoordelikheid neem om die hond te voer, vars water te gee, skuilplek te geen en te bad? Is daar geld om veeartsuitgawes te dek?  Werk hulle dalk lang ure, van oggend tot aand?

Dit bring ons by die volgende punt: wat is nou eintlik die beste hond om te kry, ongeag die tyd van die jaar?

Een van die vriendelike gesigte by Woodrock Animal Rescue wat 'n huis kort. (Foto: Facebook via Woodrock Animal Rescue)

Een van die vriendelike gesigte by Woodrock Animal Rescue wat ‘n huis kort. (Foto: Facebook via Woodrock Animal Rescue)

Die antwoord: ʼn hond wat jy by die welsyn gaan aanneem het. Hetsy dit by jou plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) is, of by Wetnose of Wollies of Woodrock, of selfs by ʼn ras-spesifieke welsyn is.

Volgens Shevaughn Nankervis, bemarkingsbestuurder by Woodrock Animal Rescue, in Hennopsrivier, is daar ʼn groot verskeidenheid honderasse om van te kies. “Ons het enigiets van Labradors, tot chihuahuas, tot Jack Russells en bulhond kleintjies. Maar, hier glo ons hoe groter die pavement special, hoe beter.”

Sy verduidelik dat honde wat nie ras-eg is nie, nie net meer liefdevol en vriendeliker is as ander honde nie, maar dat hulle ook nie allerhande ingeteelde kwale het soos wat baie ras-egte honde deesdae mee sukkel nie. “Hulle is dus gesonder, sterker en gaan jou minder by die veearts laat opdok.”

Ander voordele om ʼn welsynshond aan te neem is dat hulle uit die staanspoor gesonder is omdat hulle reeds hulle inentings en ontwurmings gekry het en gesteriliseer is, wat weer ander voordele inhou. “Geen welsynsorganisasie sal ʼn hond laat aanneem sonder dat hulle reggemaak is nie omdat daar reeds so baie ongewenste honde daar buite is.

Dié vriendelike gesiggie kort ook 'n huis. (Foto: Facebook via Woodrock Animal Rescue)

Dié vriendelike gesiggie kort ook ‘n huis. (Foto: Facebook via Woodrock Animal Rescue)

“Een hond kan lei tot 67 000 baba-hondjies in net vyf jaar.  Sterilisasie help ook om gedragskwessies, soos aggressie en honde wat merk, in toom te hou. Dit keer honde ook om verskeie kankers te kry en help om urienweginfeksies te voorkom.”

Vir baas hou ʼn hondekind ook gesondheidsvoordele in. “Elke hond moet gestap word, so deur elke middag met jou hondjie te gaan stap, skud jy gewig af en hou jou hart en organe gesond,” sê Shevaughn.

Staffordshire Terrier Rescue South Africa bestuurder Katja Herr beaam dit. “Vir ons is dit uiters belangrik om opvoeding oor ons diere te doen, omdat ʼn staffie dikwels ʼn hond is wat  verkeerd verstaan word. Hulle is baie aktiewe honde en as hulle nie ʼn uitlaatklep vir daardie energie kry nie, kan hulle oorgaan na vernietigende optrede.”

Sy vertel ook van Lilo wat op die jong ouderdom van nege maande uitgesit sou word oor heupprobleme en ʼn verkeerde diagnose van haar kwaal. “Sy kon skaars loop. Sy het soveel pyn gehad, maar deur die ondersteuning van ons Facebook‑netwerk, het ons hidroterapie begin om haar spiere te versterk en is haar dieet verander. Sy het nou ʼn wonderlike huis en uitstekende lewens-kwaliteit.”

‘Tilly het my seuntjie se lewe gered’

Lauren du Preez vertel hoe haar bulhond-kruising Tilly, wat sy ses jaar terug langs die Van Buuren-oprit van die besige N12‑snelweg in Bedfordview opgetel het, vir hulle ʼn Kersfees-wonderwerk gegee het. “Toe ek Tilly langs die pad gevind het, was sy omtrent twee maande oud en verwaarloos. Sy was ʼn weggooihond. Sy het brandwonde op haar pensie gehad, haar enkel was vergruis en sy het alreeds rumatiek in die breuk gehad en nog ʼn kopbesering daarby. Die veearts het gesê dat al die wonde nie terselfder tyd opgedoen is nie, wat dus op skokkende mishandeling gedui het.”

Lauren se tweejarige seuntjie, Kai, is net na sy eerste verjaardag met epilepsie gediagnoseer. Hy het toe ʼn 45-minute lange stuipe‑episode gehad. Op 15 maande, na verskeie ander aanvalle, kry Kai sy eerste status epileptikus‑aanval, wat lewensgevaarlik is. “Dit het ons hard getref, ek was ook 32 weke swanger met Kai se boetie.”

Kai was vir ʼn uur lank in resussitasie en hy was vier dae lank in die hospitaal. Die aanval het ook na Todd se verlamming gelei, wat vergelyk kan word met ʼn beroerte en Kai kon nie praat of die linkerkant van sy liggaampie gebruik vir twee weke lank na die status epileptikus–aanval nie.

Lauren verduidelik dat daar gewoonlik so twee dae vooruit tekens is dat dit ʼn aanval gaan gebeur. “Mens noem dit ʼn aanvalsaura. Hy het sekere maniertjies en hy kry ʼn ysterreuk aan hom.”  Maar, sê sy, was dit nie die geval met Kai se mees onlangse aanval nie. “Tilly het opgemerk dat iets nie pluis was met Kai nie en heeltyd geblaf dat ons na hom moet kyk, maar daar was geen van die normale tekens dat hy nou ʼn epilepsie‑aanval gaan hê nie.”

Kai het toe ʼn grand mal‑aanval gehad, wat dan omsit in status epileptikus waar ʼn persoon ophou asemhaal. “Te danke aan ons beskermengel Tilly kon ons die aanval betyds keer om toe te neem tot op die punt waar dit weer lewensgevaarlik sou wees. Ons kon betyds sy medisyne in sy lyfie kry. En sy is glad nie opgelei om mediese kwale op te tel nie,” sê Lauren verbaas.

Kai is tans al sewe weke aanvalvry.

Laat ʼn brakkie se Kerswens waar word

Shevaughn sê dat Woodrock se oudste inwoner ʼn 12-jarige Sint Bernard blyk te wees. “Ons stigter, Estelle Meldau, het Sultan so drie weke terug hier aangebring na ʼn student haar laat weet van die ou hond wat geen kos of water, of enige skuiling gehad het nie.” Hy was oortrek van bosluise en vlooie en het nie ʼn haar op sy lyf nie. “Een van sy ore is ook weg. Hy is so maer, ons kan nie eintlik sê watter tipe hond hy is nie, maar ons vermoed dis ʼn Sint Bernard. In die tyd wat hy hier is en liefde en aandag begin kry het, het sy stert begin swaai en gee hy klein blaffies.”

Tans bly Sultan saam Estelle se 15 ander honde by haar, in haar huis, maar gaan hy een van die dae ʼn huisie van sy eie nodig kry. “Rescue honde is die beste honde om te hê. Hulle het soveel liefde om te gee en is jou ewig dankbaar dat jy hulle lewe gered het,” se Shevaughn.

Enige navrae oor Sultan vir aannemings kan gerig word aan Woodrock Animal Rescue, by 012 943 3695.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae