‘Ladles of Love’-toebroodjies maak nou ook ’n verskil in Gauteng

Sasha-Lee Laurel Olivier, die huidige Mej. Suid-Afrika, en Ruben Gooranah, algemene bestuurder van Time Square, besig om toebroodjies te maak vir die bekendstelling van “Ladles of Love” in Gauteng. (Foto: Verskaf.)

Ladles of Love, ʼn sopkombuis van Kaapstad wat sedert die begin van die afsonderingstyd toebroodjies en noodsaaklike kruideniersware vir behoeftiges insamel, het Woensdag ʼn nuwe insamelingspunt by Time Square in Menlyn, Pretoria, geopen.

Die punt is bekendgestel met die maak van 5 000 toebroodjies. Sasha-Lee Laurel Olivier, die huidige Mej. Suid-Afrika, het ook hier ingespring om voedsame toebroodjies vir die kinders van Mamelodi East Prevocational School, die begunstigde vir die dag, te maak.

Sasko het die brood geborg en dit is versprei na plaaslike gemeenskappe wat in nood verkeer. Volgens Le-Anne Engelbrecht, uitvoerende hoof van bemarking by Sasko, is dit voorreg om deel te kan wees van die projek. “Om ʼn toebroodjie te maak en dit te kan deel, is ʼn eenvoudige gebaar, maar vir die ontvanger beteken dit soveel.

“Ons belangrikste prioriteit as bakkery is om die land te voed. By Sasko gaan dit oor sorg en ons glo wanneer ons almal saamwerk, kan ons met ons klein kollektiewe aksies ʼn hele nasie verander.”

Die projek het sedert Maart al meer as twee miljoen toebroodjies van huishoudings uit Kaapstad vir mense in nood ontvang.

“As jy twee miljoen toebroodjies op mekaar stapel, is dit 280 km lank, en dit is 257 keer so hoog soos Tafelberg en 50 keer so hoog soos Kilimanjaro,” het Danny Diliberto, die stigter van Ladles of Love, gesê.

Die projek se sukses het daartoe gelei dat Ladles of Love in ʼn vennootskap met Sun International nou na Port Elizabeth en Gauteng uitgebrei het. Gauteng se inwoners kan nou toebroodjies en kruideniersware by Time Square Casino in Menlyn en die Carnival City Casino in Brakpan vir die inisiatief aflewer.

“Dit is slegs met die ruimhartige ondersteuning van die publiek en maatskappye soos Sun International wat ons hierdie massiewe projek kan uitbrei om weekliks in die behoeftes van ons groeiende lys van begunstigdes te voorsien. Dit is die ware gees van ubuntu,” het Diliberto bygevoeg.

Die publiek kan van Donderdag af die projek ondersteun deur van Maandag tot Vrydag van 09:00 tot 12:00 tuisgemaakte broodjies en noodsaaklike kruideniersware by Times Square se Sun-arena af te laai.

Ladles of Love sal seker maak dat die bydrae onmiddellik versprei word na plaaslike gemeenskappe wat nood ervaar deur hul netwerk van niewinsgewende organisasies.

“Ons werk met trots saam met Ladles of Love om te verseker dat mense wat andersins honger ly, wel gevoed word. ʼn Toebroodjie is so maklik om te maak, maar dit kan ʼn absolute luuksheid vir ʼn honger persoon wees. Ons doen ʼn beroep op die hele Pretoria-gemeenskap om deel te word van hierdie baie waardevolle inisiatief,” het Ruben Gooranah, hoofbestuurder van Time Square, gesê.

Besoek Ladles of Love se webwerf, Facebook-blad of Instagram vir meer inligting oor die projek. Nog ʼn manier waarop dié projek ondersteun kan word, is om R150 te skenk op die webwerf. Dit sal ʼn maand lank daagliks ʼn voedsame maaltyd aan ʼn persoon verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.