Laerskool plant duisende spekbome vir gemeenskap

Die Larries-kwekery wat spesiaal vir die spekbome geskep is (Foto: Verskaf)

Laerskool Rustenburg het onlangs ʼn projek, die #spekboomchallenge, van stapel gestuur waarin derduisende spekbome aanplant om die omgewing te help – maar toe het hulle onwetend ook die skool én die gemeenskap daardeur gehelp.

René Schoombee, die skool se skakelbeampte, het aan Maroela Media vertel dat dit eintlik begin het nadat hul plaaslike koerant die skool gevra het om te help spekbome kweek vir die Bakwena-tolpad.

Spekbome word gebruik om diere van dié pad af te hou en om by te dra tot die omgewing omdat spekbome suurstof aanvul.

Volgens Schoombee was die projek eers aan ʼn ander skool toegeken, wat toe nie met die projek kon volhou nie. “Maar ons het toe ja gesê, want ons hou van ʼn uitdaging!’ sê sy.

Sowat 2 000 boompies is toe na Laerskool Rustenburg vervoer en die kinders het in rye gestaan om die boompies af te laai.

“Die kinders was baie opgewonde. Dit het ons net tien minute geneem, toe staan die boompies almal in netjiese rye,” vertel Schoombee.

Leerders van gr. R tot gr. 7 het elkeen hul eie boompie geplant. Elke twee weke het hulle takkies afgesny en geplant om nog boompies te kweek.

Kinders help om die 2000 spekbome af te laai (Foto: Verskaf)

Schoombee vertel dat hulle nou reeds 7 500 spekboompies het, en dat hulle in graadverband na die boompies omsien, hoewel Landsdiens in beheer van die projek is. Die bome staan ook op ʼn terrein by die skool wat spesiaal vir dié projek voorberei is. Hulle noem dit nou die Larries-kwekery.

Elanie Helberg en Cayla Pretorius werk in die tuin aan die spekbome (Foto: Verskaf)

“Daar is elke week nuwe mense aan diens om die plante te versorg, om gras uit te trek en om water te gee. Dit is wonderlik om te sien hoe die kinders die boompies versorg, en dit is wonderlik vir die kinders om die boompies te sien groei.”

Sy sê dit is nie net ʼn lekker projek omdat hulle hul gemeenskap help nie, maar ook omdat dit ʼn aktiwiteit is wat al die kinders in die skool sélf kan doen – ongeag geld of verstandelike vermoë.

Laerskool Rustenburg beoog om 10 000 spekbome te kweek vir die Bakwena-tolpad, maar om dan aan te hou met die projek.

“Ons wil hê ons Landsdiens-kinders moet altyd groen vingers hê. Ons wil hierdie nou ʼn jaarlike projek maak,” sê Schoombee.

Elke klaskamer in Laerskool Rustenburg het ook nou ʼn spekboompie in ʼn pot voor die klaskamerdeur gekry om die leerders te herinner aan die projek.

Schoombee sê die projek het beslis ook al oorgespoel na die gemeenskap, wat nou self spekbome in hul tuine plant.

Lirentia Keulder, die landsdiens koördineerder en sameroeper van die spekboomprojek (Foto: Verskaf)

Volgende jaar is dié skool 100 jaar oud, en Schoombee meen hulle is tans besig om bome te plant wat vir die volgende 100 jaar van die skool se bestaan, steeds voordeel vir die skool, gemeenskap en omgewing sal inhou.

“Dit is lekker om te sien dat die kinders so mooi na die bome omsien; dit is ʼn trotse gevoel. Ons het nou eintlik ʼn beweging begin net omdat ons nie bang vir ʼn uitdaging was nie. Dit is vir my ʼn voorreg om hierdie projek te bestuur,” sê sy.

Schoombee sê die projek lê haar na aan die hart, omdat sy kan sien watter impak die spekbome op die kinders het.

“Jy sal nie glo wat hierdie soort ding doen nie. Dit gee kinders die geleentheid om iets aan hul ouers oor te dra. Die samehorigheid om as ʼn gesin saam te werk is wonderlik.

“Die kinders leer meer lewensvaardighede deur na die spekboompies om te sien as wat hulle in enige huiswerk leer. Daar word werklik iets uit niks gemaak,” sê Schoombee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
PETRO

Trots op ons Larrie kinders! Dis goed om te sien dat daar iets positief in Rustenburg gebeur, die ander Laerskole en Hoërskole kan gerus by hulle aansluit met die wonderlike projek. Om iets vir ons omgewing te doen kan nooit verniet of n mors van geld of tyd wees nie! Bou so voort!

Karin

Ongelooflik trots hoop die res van ons kinders en jongmense neem dit ook reg deur ons land. Vat hande saam maak ons n beter land

charmaine

Dis n wonderlike idee die tolpad gaan pragit lyk met daai spekbome, en dit leer kinders omgee vir die natuur en hoekom ons die natuur moet oppas. Sterkte!

Shady

Ek self is besig om boompies te maak van my spekboom. Gaan hulle oral in die omgewing plant

Izak Johannes

Ek het self al 22 spekbome op my erf geplant. Altesaam 54 weg gegee om te plant. Was in die jare 1963 to 1966 by Daniel Pienaar HTS indie skool en het daar by Addo met spekbome kennis gemaak en bewonder die boom.