Laerskoolseuns hou SA se naam hoog in VSA

Die drie seuns wat deelgeneem het. (Foto: Verskaf)

Drie gr. 7-leerders van Laerskool Jan Celliers in Johannesburg het die afgelope maand Suid-Afrika verteenwoordig by die 2018 Robofest Wêreld­kampioen­skap­toernooi by die Lawrence Tegnologiese Universiteit in Michigan in die VSA.

Robofest, ʼn reeks kompetisies met outonome robotte, moedig leerders en studente aan om pret te hê terwyl hulle die beginsels van wetenskap, tegnologie, ingenieurswese, wiskunde (Engelse vakgroep-afkorting: STEM) en rekenaarwetenskap aanleer.

Robofest, wat sedert 2000 aangebied word, het al meer as 20 000 deelnemers sedert die begin van die kompetisie getrek. Spanne van oor die wêreld, onder meer die VSA, Kanada, China, Engeland, Frankryk, Hongkong, Indië, Korea, Roemenië, Singapoer en Suid-Afrika neem deel.

Studente ontwerp, bou en programmeer self die robotte en enige robotinstrument-bondeling word toegelaat in die konstruksie van robotte. Robotte kan ook met enige programmeringstaal geprogrammeer word. Spanne word uit ’n maksimum van vyf lede per span saamgestel en ding mee in verskeie kategorieë in die junior (grade 5-8), senior (grade 9-12) of tersiêre afdelings.

Die drie Suid-Afrikaners, Liam Byrne, Carl Swanepoel en Roux Marais, het derde geëindig in die BottleSumo-kategorie. Die doel van hierdie kategorie is om óf die eerste robot te skep wat doelbewus ʼn bottel van die tafel af druk óf die laaste robot wat op die tafel agterbly.

Deelnemers kyk hoe hul outonome robotte die spel voltooi (Foto: Verskaf)

Fred van Zyl, Laerskool Jan Celliers se departementshoof vir rekenaaronderrig, het gesê die skool is baie trots op die jong seuns.

“Ons skool se seuns het deurgaans hard gewerk en ons is baie trots op wat hulle vermag het. Dit is verblydend vir ons as personeel wanneer ons sien waarmee die leerders vorendag kom. Hulle slaag daarin om teoretiese kennis en klasvaardighede prakties te maak deur indrukwekkende robotte te konstrueer.”

Die skool het in ʼn verklaring gesê die toekoms lyk blink vir dié drie seuns.

“Wat hou die toekoms vir hierdie jong Jan Celliers-leerders in? Wel, om dalk ’n toekomstige wetenskaplike by Nasa te wees of mense soos Elon Musk of Anton Musgrave te onttroon as futuriste en baanbrekers in tegnologie. Hoe ook al, jong manne, ons hou julle met bewondering dop.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

jabulani. Khambule. ·

geagte. Mnr, mev. Ja ek stel maroela in hoog. Omdat ek afrikaans onderwyser is. Groetenis. Jabulani. Khambule.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.