Lag (gerus) of jy betaal word

(Foto: Antonino Visalli/Unsplash.)

Dit was so ’n lekker diep, uit die maag uit lag – een wat my en my vriendin dadelik met verwondering laat opkyk het. Ons het in ’n klein strandrestaurantjie digby die kaggel gesit met ’n gesin van drie die enigste ander gaste in die mistroostige weer. Die kelners het effens verveeld rondgestaan en die Sondagmiddagete was maar ’n gedempte affêre. En toe dié skaterlag. Die man se lyf het sommer geskud van lekkerkry met selfs die kelners wat breed geglimlag.

Daar is niks vreemd aan iemand wat lekker lag nie, maar dis ’n geluid wat ons definitief deesdae minder hoor. Die Covid-klap brand nog warm en al is ons dalk weer aan die gang en byna terug na “normaal”, het angstigheid, onsekerheid en vrees tog êrens lêplek gekry. Ek het nou al by ’n paar mense gehoor dat hulle deesdae korter van draad en meer liggeraak is. ’n Onlangse onvanpaste reaksie van ’n kollega op ’n vriendelike, goedbedoelde regstelling het my laat dink dat baie van ons seker op die oomblik mini-tydbommetjies is – reg om te ontplof vir die geringste dingetjie. Dalk moet ons maar nou ’n doelbewuste poging aanwend om die ander wang te draai. Soos die Engelsman sê: Let’s cut each other some slack.

Ons weet lag is “die beste medisyne” en dis nie sommer net ’n sêding nie. Navorsing wys dit gee die immuunstelsel ’n hupstoot, ontspan die liggaam, verbeter bloedtoevloei wat goed is vir die hart, stel die natuur se natuurlike goedvoel-endorfiene vry en verbrand boonop kalorieë. Studies in Noorweë het selfs aan die lig gebring dat mense met ’n goeie sin vir humor langer leef, en dis veral onder kankerpasiënte gevind. Sigmund Freud het al in die 18de eeu gesê om lekker te lag help mense om stoom af te blaas en as daar óóit ’n tyd was wat ons kon doen met ’n bietjie stoom afblaas, is dit nou.

Lizma van Zyl. (Foto: Jaco Marais.)

Maar terug na die vrolike gesinnetjie langs ons in die restaurant. Soos die middag aangestap het, het die vrolikheid voortgeduur. Dit het voorgekom asof die drie mense geen sorge in die wêreld het nie. So met die uitstap, kon ek dit nie weerstaan om gou te stop en vir die driemanskap te sê hoe lekker dit was om weer mense te hoor wat uitbundig lag nie. Die man het vir ’n oomblik verward opgekyk en glimlag toe breed.

“Juffrou (nogal), hulle sê mos elke huis het sy kruis en ons s’n dra op die oomblik swaar aan meer as een, maar ons is gesond en ons het mekaar. Waarvoor meer kan ons vra?”

En so met die uitstap glimlag ek en my vriendin vir mekaar. Stof tot nadenke.

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

Meer oor die skrywer: Lizma van Zyl

Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.