Landbougroep rek die avokadoseisoen

ZZ2 het 1 500 hektaar in die vrugbare Mooketsi-vallei gebruik om 600 000 bome aan te plant. (Foto: Verskaf)

Avokado’s is seker een van die voedsaamste en heerlikste voedselsoorte waarvoor gewone mense en fynproewers feitlik sal toustaan, maar desondanks is die gemiddelde jaarlikse per capita-verbruik in Suid-Afrika ʼn beskeie 0,80 kg.

Die rede hiervoor is dat seisoenale beskikbaarheid, wat vanaf Maart tot November duur, ʼn groot rol moes gespeel het. Avokadopere se pryse het in die afseisoen deur die dak geskiet en kopers moes buitensporige pryse betaal vir duur, ingevoerde avokado’s wat per vliegtuig oor ʼn afstand van tot 8 000 kilometer uit die noorde ingebring is.

ZZ2, die grootste tamatieprodusent in die Suidelike Halfrond, het nou besluit om iets aan hierdie probleem te doen. ZZ2 het ʼn vername rolspeler in die avokadobedryf geword met ʼn revolusionêre konsep – die verlenging van die oes- en markseisoen, sodat al hoe minder avokado’s van oorsee af ingevlieg hoef te word.

Hierdie projek, in die handel bekend as Harmony Avs, het feitlik oornag ʼn revolusie in die kleine in die bedryf veroorsaak, deur die aanplant van tien bykomende kultivars.

Die syfers is verstommend: 1 500 hektaar is in die vrugbare Mooketsi-vallei aangeplant, waarop 600 000 bome gekoester word. Hier word tot soveel as 20 ton/ha geproduseer, teenoor die res van die land waar die opbrengs tussen 8 en 10 ton/ha wissel. Hierdie is maar ʼn deel van die statistieke wat die oë laat rek.

Elkeen van die nagenoeg 180 miljoen vrugte word tydens ZZ2 se oestyd met die hand gepluk. (Foto: Verskaf)

Wat dit nog merkwaardiger maak, is dat elkeen van die nagenoeg 180 miljoen vrugte tydens oestyd met die hand gepluk word. Dit is ʼn redelik maklike taak as daar genoeg arbeid beskikbaar is, want elke boom word tot ʼn maksimum hoogte van twee meter gesnoei, waarna die oes dadelik tot 5,5 °C verkoel word. Hiervan word nagenoeg 20%, oftewel 36 miljoen vrugte, plaaslik gekoop.

Voor hierdie keurproduk egter op jou bord beland, word dit deur ZZ2 se vloot vragmotors, in hulle kenmerkende rooi‑en‑geel kleurskema, na die maatskappy se rypmaakgeriewe by Lanseria vervoer.

Hiervandaan word nagenoeg 20% van die totale produksie plaaslik versprei, terwyl 24 000 ton na internasionale markte uitgevoer word. Merkwaardig genoeg, word Suid-Afrika se uitvoeravokado’s ook as lugvrag uitgevoer.

Dit is veral ZZ2 se landboukundiges wat ekologies-vriendelike tegnieke – wat reeds in 1939 in Japan ontwikkel is – vervolmaak het en wat lof verdien vir hulle navorsing, wat daartoe gelei het dat die boorde so suksesvol gevestig is en binne drie jaar begin produseer het.

Die talle byekorwe in die boorde en hul inwoners speel vanselfsprekend ook ʼn vername bestuiwingsrol, wat weer eens beklemtoon hoe ekologies vriendelik ZZ2 hierdie aspek van sy boerdery bedryf.

Dié landbouwetenskaplikes het ook vasgestel dat Mooketsi se grondwater redelik brak is en dus nie ideaal vir die bome is nie, en dat die bome hoofsaaklik op riwwe geplant moet word, waar die grond nie te veel klei-inhoud bevat nie. Hierdie aanplantings wissel in hoogte van 650 m tot 1 400 m bo seespieël.

Die water is vryvloeiend en word as drupbesproeiing benut.

Die ‘nuwe’ seisoen strek nou van begin Oktober, met slegs ʼn kort onderbreking in die middel van die somer.

Soos reeds genoem is, het tien ander variëteite, benewens die bestaande Hass- en Fuerte-variëteite, met hulle eie eksotiese name by die span aangesluit. Onder die handelsnaam, Harmony Avs is hierdie kultivars gereed om Suid-Afrikaners se avokadoverbruik drasties te verander.

Avokadopere het uitstekende voedingswaarde en kan enige vaal dis opkikker. (Foto: Verskaf)

Maar waarom is avokado’s so gewild?

Benewens die romerige smaak en voedingswaarde van ʼn volryp vrug, sing hierdie vrug voor in die koor ten opsigte van sy vermoë om ʼn sny roosterbrood uit sy alledaagse verveeldheid, tot ʼn gesogte happie te lig, terwyl geen slaai of pizza sonder avokado in die openbaar toegelaat behoort te word nie.

Suid-Afrikaanse verbruikers kan dus in die toekoms help om ons powere jaarlikse per capita-verbruik van 0,80 kg aansienlik op te stoot – sonder om op die gebruiklike verskoning staat te maak dat avokadopere oor ʼn sekere tydperk heeltemal te duur geword het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Martie Smartie ·

Ek sien net duur avos hier in GP. So wat gaan aan?

Miskruier ·

Ek hoop in die toekoms avo,s te koop wat ryp word en nie swart aan die binnekant nie. Trots op wat ons boere vermag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.