Lang afstand stuit nie siek student

Willem Hendrik Maritz. (Foto: Verskaf)

Om elke dag ʼn lang afstand te voet af te lê om te gaan werk of studeer klink redelik alledaags, maar vir Willem Hendrik Maritz, ʼn student aan die Bo-Karoo Opleidingsentrum (BKO) in Orania, is dit elke dag ʼn fisieke uitdaging.

Maritz (21) is tans besig met sy ambag in bou- en siviele konstruksie. Hy is as baba met hidrosefalus en Dandy Walker-sindroom gediagnoseer waarvoor hy ʼn ventrikuloperitoneale omleiding moes kry.

Dit het tot gevolg gehad dat hy nierprobleme ontwikkel het en vandag slegs een nier het met 80%‑nierfunksie.

Verder het Maritz op die ouderdom van twee ʼn ernstige breinbesering opgedoen toe ʼn staalhek op hom geval het. Hierdie breinbesering het tot gevolg gehad dat hy epilepsie ontwikkel het en van voor af moes leer loop, praat en selfs eet.

Hy is egter vasbeslote om sy kwalifikasie te verwerf en stap elke dag 5 km na die BKO en terug.

“Dit het my ongeveer vier jaar geneem om hierdie alledaagse funksies weer aan te leer, maar te danke aan die deurlopende ondersteuning van my ma, lei ek vandag ʼn bykans normale lewe,” sê Maritz.

Hy het ook as baba sy pa verloor en hoewel sy ma ʼn studiepolis vir hom uitgeneem het, was dit nie genoeg om die volle driejaarkursus se studiekoste te dek nie.

Maritz het egter nie toegelaat dat finansiële uitdagings in die pad van sy studiedrome staan nie. In 2020 het sy pad met die Helpende Hand Studietrust gekruis en danksy die getroue donateurs kon Maritz ʼn rentevrye studielening kry en sy studies aan BKO voortsit.

Helpende Hand se Studietrust is ʼn geregistreerde nie-winsgewende organisasie wat ten doel het om studiehulp aan verdienstelike en behoeftige Afrikaanse studente te verleen in die vorm van rentevrye studielenings.

Die publiek kan ʼn behoeftige student, soos Maritz, se studiekoste vir 2022 help borg. Klik hier om uit te vind hoe jy betrokke kan raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eend Bessinger ·

Mooi so, Willem! Probleme is nie struikelblokke nie, maar trappe om hoër te klim. Ek is ook gestremd, maar ek laat my ook nie stuit nie. As ek êrens heen moet gaan, dan loop ek daarheen met my fietsloper. Ek klim selfs trappe alleen uit, al vat dit langer. Ek het niemand wat my kan rondstoot in ‘n rystoel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.