Leanne Manas met Franse eretitel vereer

Leanne Manas word met ‘n Franse eretitel vereer. (Foto: Leanne Manas
/Twitter)

Leanne Manas, die gewilde en bekroonde aanbieder van SABC se Morning Live, is op 18 Mei met ʼn seremoniële ridderskap vir haar bydrae tot joernalistiek vereer.

Aurélien Lechevallier, die ambassadeur van Frankryk in Suid-Afrika, het Woensdag die Chevalier de l’Ordre national du Mérite (Ridder van die Nasionale Orde van Verdienste) namens die Franse president, Emmanuel Macron, aan Manas oorhandig.

Die eerbewys onderskryf Manas se jare lange bydrae tot joernalistiek, media en verskeie belangrike welwillendheidsake. Dit gee ook erkenning aan haar buitengewone talent en veerkragtigheid as joernalis.

Volgens die Franse ambassade is Manas se passie vir nuus en waarheid ooglopend.

“In ʼn tyd waar fopnuus meer algemeen word en joernaliste wat belangrike stories in konflikgeteisterde lande dek hulle lewe verloor, is dit ʼn noodsaaklike bydrae tot dinamiese demokrasieë.

“Daarom wil die regering en mense van Frankryk erkenning gee aan haar bydraes tot die joernalistieke veld, asook ander velde waarin sy werk,” lui die verklaring.

Lechevallier meen dit is ʼn voorreg om hierdie Franse eretitel aan iemand te oorhandig wat in hulle vakgebied uitblink.

“Manas is ʼn simbool van wat dit beteken om ʼn ware Suid-Afrikaner te wees wat aan die voorpunt van nuus en joernalistiek staan. Suid-Afrikaners word daagliks saam met haar wakker omdat hulle die nuusbron vertrou.”

Manas het tydens die geleentheid hulde gebring aan Vuyo Mbuli, haar gewese Morning Live-mede-aanbieder wat in 2013 glo weens ʼn bloedklont deur sy long dood is.

“Jy sou baie trots gewees het, my vriend. Vandag nege jaar en ek mis jou steeds so baie,” het Manas op Twitter geskryf.

Stephen Saad, uitvoerende hoof van Aspen (2019), Sibongile Mkhabela, uitvoerende hoof van die Nelson Mandela-kinderfonds (2020), die joernalis Michelle Constant (2021) en die filantroop Carolyn Steyn (2022) is van die Suid-Afrikaners wat ook onlangs dié gesogte eerbewys ontvang het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Monique

Baie geluk!
Nou wonder ek net, hoekom vereer ons EIE LAND haar nie!

Pieter

Sy is nou nie juis Afrikaans ondersteunend nie en lees te veel ANC nuus. Kyk net die weer en sake op Morning Live.

RS

Franse titel… dis jammer dis nie Suid-Afrika nie. Tog is ek bly vir haar. Baie geluk.