‘Leen my jou huis, asseblief?’

kinders_gesels_woorde_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto ter illustrasie (Foto: Pixabay.com)

Deur Suzette Oosthuizen

Onder die bed knyp Annika* haar oë toe. Sy klou haar sussie se natgeswete hand styf vas in hare.  Hoewel Annika slegs nege jaar oud is, het sy haar sussie belowe dat sy na haar sal omsien en dit is presies wat sy doen. ʼn Groot verantwoordelikheid vir enige kind wat nog so jonk is.

Die bed is darem een van die meubelstukke wat nog oorgebly het in die kamer wat hulle by tannie Lien* huur. Vir Annika en haar sussie is dit nie nét ʼn bed nie, maar dit dien ook as skuiling teen hul ma se woedeuitbastings wat veral erg is wanneer sy onder die invloed van alkohol verkeer – wat dikwels is.

dogtertjie-teddie-hh-bnk-pixabay.jpg

(Foto: Pixabay.com)

Dié keer gaan dit oor die huur van die kamer wat weereens agterstallig is. Tannie Lien is teen dié tyd raadop en gereed om hulle uit te sit. Annika wonder waarheen hulle dié keer sal gaan?

Terwyl sy so met haar toe oë lê, wens sy sy kon eerder vandag by die skool gewees het. Sy hou van skool. Sy hou ook baie van haar maatjie, Bianca, met die mooi vlegsels en vriendelike mamma. Hul huis is so mooi. Daar was al kere dat Annika gewens het Bianca wil ʼn bietjie hul huis met haar en haar sussie deel. Hulle kan dalk ʼn kamer leen. Dan het hulle ook meubels en ʼn adres. Sy was al in vyf verskillende skole en dié een is die lekkerste skool.

Dit raak stil en Annika help haar snikkende sussie om onder die bed uit te kom. Sy raak skielik bewus van haar kop wat pyn. Dit is dieselfde plek waar die skoen haar vroeër getref het.

Die jong meisie is deeglik bewus daarvan dat hulle uit dié omstandighede moet wegkom. Maar hoe? Hulle kan nie haar pa se huis leen nie. Dit is eintlik ook maar net ʼn kamer en hy is nooit daar nie. Sy sal maar aan iets anders moet dink.

sussies-strand-hh-bnk-pixabay.jpg

(Foto: Pixabay.com)

Skaam stap sy vir die hoeveelste keer met haar sussie aan die hand oor na tannie Lien toe. Tannie Lien maak die deur oop en sê: “Ek weet julle is honger. Julle hoort eintlik by die skool.” Terwyl hulle eet, vra tannie Lien: “Sal dit reg wees as tannie iemand bel om julle te kom help?”

Tannie Lien het die ACVV gebel en met die maatskaplike werker gepraat. Die vriendelike tannie het gereël dat hulle in die skool se koshuis mag gaan inbly. Dis amper soos ʼn huis en hulle kan elke dag skool toe gaan, eet en huiswerk doen.

Die skoolbestuur het ingestem om hulle kwyt te skeld van skoolgeld, maar iemand moet steeds die koshuisgeld betaal. So het Helpende Hand se Bemagtig-ʼn-kind-fonds oor hul pad gekom. Die maatskaplike werker het aansoek gedoen by dié fonds vir die twee sussies se koshuisgeld wat toe goedgekeur is. Terwyl die twee meisies in ʼn veilige omgewing was, het die maatskaplike werker die geleentheid gehad om haar ondersoek af te handel.

Annika-hulle se storie is nie uniek nie en hopeloos te veel kinders is in dieselfde omstandighede gedompel. Werkloosheid, finansiële druk en mislukte verhoudings is soveel gesinne se werklikheid. Dit het ʼn direkte invloed op die kinders wat die grootste slagoffers van dié soort omstandighede is.

Dankie weer eens aan elke bydraer wat aanhou gee vir die Bemagtig-ʼn-kind-fonds.

As jy vandag hierdie artikel lees en jy wil en kan ook help, besoek gerus ons webwerf of sluit aan as ʼn ondersteuner. Jy kan vandag ʼn verskil maak – ʼn verskil wat ʼn leeftyd gaan duur.

*Annika en Lien is skuilname wat gebruik word om die meisies en hul helper se identiteit te beskerm.

  • Suzette Oosthuizen is die hoof van sentrums en nasionale takke by Solidariteit Helpende Hand.
bemagtig-n-kind.jpg

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Miskruier ·

Dankie Helpende Hand vir studiebeurse vir my kinders wat dan eendag vir ander kan help versorg.

Andre ·

Dinge soos die wat n mens hartseer maak. Ek en my vrou kan nie kinders kry nie maar ons soek so graag kinders wat ons kan groot maak en die wereld se liefde voor gee. Dan kry jy ouers wat hulle kinders verniel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.