Leer ʼn gemeenskap lees en skep ʼn volhoubare toekoms vir SA

Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

“In hierdie inligtingseeu is geletterdheid onontbeerlik vir gesonde gemeenskappe in Suid-Afrika,” sê Karien Brits, bestuurder: taal by die ATKV.

Die tema van vanjaar se Internasionale Geletterdheidsdag wat op 8 September deur Unesco (die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie) gevier word, is geletterdheid en volhoubare gemeenskappe. Volgens Unesco is geletterdheid die sleutel tot volhoubare ontwikkeling. Volhoubare gemeenskappe is dan ook presies wat die ATKV deur middel van verskeie leesprojekte wil bereik.

Die ATKV se aktiwiteite en projekte is daarop gerig om Afrikaanse geletterdheid op ʼn inklusiewe en kreatiewe wyse te bevorder. Dit strek van Afrikaanse olimpiades, spelkompetisies, leeskompetisies en leeskringe tot slypskole vir onderwysers – en dit word nie net vir moedertaalsprekers van Afrikaans aangebied nie, maar ook vir tweede- en derdetaalsprekers van Afrikaans.

Prof. Ekkehard Wolff, ʼn Duitse taalkundige, skryf in 2006 dat taal nie alles in die onderwys is nie, maar dat alles in die onderwys niks is sonder taal nie. Die ATKV voel presies net so as daar oor taal in die onderwys gepraat word: Taal is belangrik in die onderwys. Afrikaans moet ingespan word om inklusiwiteit en toegang tot geletterdheid te verseker. Dit is nie net die regering se plig nie – elke Afrikaanssprekende het ’n verantwoordelikheid as dit by taalsake en geletterdheid kom.

Afrikaanssprekende ouers moet dus moeite doen om hul kinders na Afrikaanse skole te stuur en so Afrikaanse onderwys in stand te hou. Hulle ondersteun nie net Afrikaanse geletterdheid op hierdie manier nie, maar bewys ook hul kinders ʼn groot guns. Konseptualisering (verwerking en verwerwing van kennis) vind in die moedertaal plaas. Kinders leer gewoon beter in hul moedertaal. Die goeie uitslae van kinders wat in hul moedertaal skoolgaan, is jaar ná jaar ʼn bewys van die voordele van moedertaalonderrig.

Ongelukkig is daar nog te veel Suid-Afrikaners wat nie die vreugde van geletterdheid smaak nie, meen Amanda de Stadler, hoof van die Vriende van Afrikaans (VVA), ʼn afdeling van die ATKV. “As ek so om my kyk, beskou ek geletterdheid as ’n voorreg en is elke dag dankbaar daarvoor.”

Sy meen een manier om jou dankbaarheid vir jou eie geletterdheid prakties te demonstreer, is deur geletterdheid vir nog een mens in jou omgewing moontlik te maak. De Stadler glo dit is binne die bereik van die meeste Afrikaanssprekendes om die lewe van een ongeletterde mens onomkeerbaar te verander deur geletterdheid ’n werklikheid te maak. “Die ATKV nooi Afrikaanssprekendes uit om, waar hulle ook al werksaam is, ʼn verskil te maak in hul gemeenskappe wat geletterdheid betref. Deur ʼn gemeenskap te leer lees, help skep jy ʼn volhoubare toekoms vir Suid-Afrika.”

Indien jy lid wil word van hierdie dinamiese organisasie, skakel 011 919 9000 of stuur ’n e-pos na [email protected]. Lees gerus meer by www.atkv.org.za oor die ATKV se projekte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.