Leerders hoop om met innovasie in Hongkong mee te ding

Amy Vockerodt en Tiaan Langenhoven. (Foto: Verskaf)

Twee gr. 8-leerders van Gauteng hoop om in Maart volgende jaar in Hongkong mee te ding in ʼn wetenskapprojekkompetisie om hul uitvinding, waarvoor hulle reeds toekennings op eie bodem ontvang het, ten toon te stel en moontlik bemarkingsbelangstelling te wek.

Amy Vockerodt en Tiaan Langenhoven, albei leerders aan Hoërskool Waterkloof in Pretoria, het vroeër vanjaar aan ʼn ekspo by hul skool deelgeneem waar hulle hul idee, ʼn LED-handskoen wat sal help om karwagte saans meer sigbaar maak, vertoon het.

By dié ekspo, waar sowat 450 projekte ingeskryf is, het die twee tieners eers die top-100 gehaal en toe deurgedring na die lys van 25 top-deelnemers. Amy en Tiaan is toe gekies om aan ʼn soortgelyke ekspo op Noord-Gauteng-vlak in Augustus vanjaar mee te ding.

By dié ekspo het hulle goud ontvang en is hulle gekies om Noord-Gauteng te verteenwoordig by die Suid-Afrikaanse jeug-ingenieurswetenskapsimposium (SAYESS) wat einde November by die Universiteit van Pretoria aangebied is.

Weer eens het die gedugte duo goud ontvang en is hulle aan die begin van die maand deur die iMbewu-wetenskapstigting in kennis gestel dat hulle in Hongkong kan gaan meeding. Die kompetisie word jaarliks deur die Hongkongse wetenskapsmuseum en die land se kommissie vir innovasie en tegnologie aangebied.

“Ek sou nooit in my wildste drome kon droom dat ons só ver sou kom met die ekspo en met ons idee nie. Met die SAYESS-ekspo was ek so op my senuwees, ek het gesit en bewe,” sê Amy.

Sy vertel verder aan Maroela Media dat sy en Tiaan baie opgewonde is om deel te wees van ʼn klein groepie leerders wat die voorreg gekry het om Suid-Afrika op internasionale vlak te verteenwoordig.

Die uitdaging is egter nou om genoeg geld in te samel voordat registrasie op 13 Desember sluit.

Die leerders saam hul LED-handskoen. (Foto: Verskaf)

Die leerders het elk nog sowat R9 200 nodig om hul droom te bewaarheid en moet voor die sperdatum hul inskrywings inhandig. Annelize, Amy se ma, vertel aan Maroela Media dat die reëls van die wetenskapekspo streng is en dat albei verteenwoordigers van ʼn projek in Hongkong moet wees sodat die projek kan meeding.

Benewens die R9 200 registrasiegeld per leerder, gaan hulle sowat R35 000 tot R40 000 benodig vir die reis na die ekspo. Die twee gaan ook ʼn ouer teenwoordig moet hê vir die reis omdat hulle nog minderjarig is.

Intussen het Solidariteit Jeug R10 000 geskenk om die twee nader aan hul doelwit te kry. “Ons hoop om die gemeenskap te betrek om verder geld vir hulle in te samel. Hulle prestasie is uitsonderlik,” sê Paul Maritz, ʼn koördineerder by Solidariteit Jeug.

Annelize sê die prioriteit is nou om die inskrywingsgeld in te samel, dan sal hulle ander idees aanpak om die koste in Maart te dek. “Ons het gedink om ʼn BackaBuddy-profiel te skep, of by die skool ʼn pretdag te hou. Dis egter nou moeilik, omdat die skole reeds gesluit het.”

Hoe het die idee ontstaan?

Amy en Tiaan het die idee vir ʼn liggie-handskoen ontwikkel nadat Annelize amper ʼn karwag by hul plaaslike winkelsentrum raakgery het. “Elke keer as ons weer daar kom kla sy [my ma] weer oor dieselfde ding dat sy hulle nie kan sien nie en dit is waar die idee vandaan gekom.

“Ons het ʼn LED-handskoen gemaak om karwagte meer sigbaar te maak vir motoriste veral tydens skemer en in die aand. Die karwagte wat dit vir ons getoets het, was so opgewonde oor die moontlikheid dat hulle so iets in die toekoms kan gebruik.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karin ·

Baie geluk Amy & Tiaan. Torts op julle met die pragtige idee. Dis werkskeppend en ‘n fantastiese veiligheids item. Nie net vir die veiligheids-wagte nie, maar kan ook handig wees, sou die motor onklaar raak langs die pad. Ons verkeers afdeling, asook polisiemag sal ook baat vind daarby. Ek hoop julle sal sommer spoedig die nodige bedrag insamel. Kan Solidariteit Jeug nie ‘n fonds – bank rekening vir die tieners open waarin die publiek hul bydrae kan maak nie? Elke R5 sal hul help.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.